Soms kry iemand – en meestal is dit ‘n kunstenaar – dit reg om almal weer van die olifant in die vertrek bewus te maak. Dink maar aan die Chinese kunstenaar Ai Weiwei, wat huidiglik die Chinese regering so ontstel met sy kunswerke wat die grootskaalse onderdrukking en sensorskap op vryheid van uitdrukking in China, uitwys en aanspreek.

Lyk my dat die ware profete nog maar altyd die kunstenaars was. Met hulle uitbeeldings, skeppings, skilderye, beelde, musiek, drama, digkuns en woorde, is dit hulle wat ons oproep tot selfondersoek en optrede. Hulle is eintlik dié wat debatte en dialoog aanwakker. Hulle profetiese stem hou die visie brandend, van ‘n wêreld wat kan anders wees. Hulle is die wat kritiek lewer, wat ontstel, skok en selfs kan walg, ten einde ons wakker te maak vir ons realiteit.

En juis in hierdie tyd waarin Christene die lyding en opstanding herdenk van Jesus, is dit so ironies dat dit nie die kerk of selfs godsdienstige profete is wat soos Jesus, die regeerders van die dag aanvat oor hulle ongeregtigheid, magsvergrype, korrupsie en hebsug nie. Nee, vanuit daardie oorde is daar gewoonlik groot stilte.

Wie se stem hoor ons? Wie is dié wat simbolies die tempel bestorm met ‘n sweep? Die kunstenaars. Hiervan is die kunstenaar Brett Murray met sy omstrede skildery, “The Spear” ‘n goeie voorbeeld. Daarin toon hy Zuma met sy gulp oop en sy private dele blootgestel. Nou of dit binne jou smaak val of nie, maak nie regtig saak nie, kyk wat kry hy reg met hierdie kunswerk (en ook die res van sy uitstalling in die Goodman Gallery in Johannesburg, Hail to the Thief II).

Met hierdie skildery vra hy belangrike vrae. Byvoorbeeld, het die bevrydingstryd en die verwagtings wat baie mense – wit en swart – gekoester het, verword tot ‘n najaag van plesier en self-vergrype? Sy uitstalling spreek verskeie ANC-slagspreuke uit die bevrydingstryd op satiriese wyse aan. Veral in sy “The Spear”, waarin hy Zuma voorstel as iemand wat sosialistiese geluide maak (simbolies uitgebeeld deur jas van Lenin) en wat sê hoe belangrik die armes en minder bevoorregte massa vir hom is. Hiervoor gebruik hy die 1917 Revolusie-plakkaat wat Lenin verbeeld (Viktor Iwanof se bekende Lenin-propagandaplakkaat) as parodie.

Hy doen dit deur sy eie interpretasie by te sit deurdat hy Zuma se geslagsdele sigbaar laat uithang. Daarmee wys hy dat die woorde en beloftes van die ANC eintlik niks beteken nie, want in realiteit gaan dit net oor selfverryking en vergrype, meestal ten koste van die armes. “Ek was in die ou Suid-Afrika krities oor magsmisbruik en ek is in die nuwe Suid-Afrika krities oor magsmisbruik … vir die nuwe magsklieke se geldgierigheid en weiering om verantwoordelikheid te aanvaar, is daar nie ‘n verskoning nie. Mense kom met moord weg. Dis tyd vir die burgerlike samelewing om te sê: Nee! Nou is dit genoeg.” sê die kunstenaar, Brett Murray in ‘n onderhoud in Beeld.

Murray gee dus op sy satiriese wyse uitdrukking aan die hartseer realiteit van die geskiedenis wat besig is om homself te herhaal; dat die “dief” (die regering, die leiers ens.) homself verryk en mense moet leef van beloftes, beloftes, beloftes. En dit, vermoed ek, is wat hy vir ons probeer wys met sy uitstalling.

Natuurlik is daar dié wat ore het om te hoor – en dan hóór. Hiervan is Jonathan Shapiro, beter bekend as die spotprenttekenaar Zapiro en Tselane Tambo (ontslape ANC-veteraan Oliver Tambo se dogter) goeie voorbeelde. Sy sê onder andere: “Hy [Zuma] moet die eerbied wat hy smag, inspireer. Hierdie portret is wat hy geïnspireer het.”

Maar soos met enige sulke openbare kritiek op die heersers van die tyd, lei dit vinnig tot mis-informasie, propaganda-praatjies, verdagmakery, dryf van eie agendas en persoonlike aanvalle. Net soos gebeur het met al die vorige uitgesproke kritici. Dink maar hoe Jesus en Gandhi se ideale verpolitiseer is. Of hoe kunstenaars en hulle kunswerke “stil gemaak” is deur dit as onvanpas, immoreel of as propaganda te klassifiseer. Hiervan is onnoembaar baie voorbeelde.

Hoe word die boodskap van so ‘n werk verduister en verdraai? Die eerste stap is altyd om die boodskap van die kunswerk, te kontamineer. Kyk maar net na “The Spear” as voorbeeld. Daar is vinnig gesê dat die kunswerk nie regtig die debat oor ongeregtigheid, self-vergrype en selfsug van die huidige heersers wil aanspreek nie, nee, dit gaan eerder oor ‘n debat tussen vryheid van uitdrukking of die reg op waardigheid en privaatheid.

Jackson Mthembu, woordvoerder van die ANC, vuur die eerste skote as hy in ‘n verklaring sê dat dit “onsmaaklik” is en dat dit die waardigheid van die President aantas. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, vuur die tweede sarsie deur te sê die skildery is “nie net kru, onbeskof en disrespekvol nie, maar ook rassisties.” Hiermee sit hy ‘n nuwe saak op die tafel, naamlik rassisme.

En ewe skielik is die eintlike punt van die kunswerk verlore. Ironies genoeg, net soos Oscar Wilde se bekende uitspraak, “Life imitates art far more than art imitates life” dit stel, stap daar ‘n man in die gallery in en met rooi verf, verf hy ‘n kruis oor Zuma se gesig en privaatdele en daarna kom ‘n tweede man met swart verf. Lyk my ons ideale om ‘n oop, vrye en demokrasie gemeenskap te wees is nog ver weg van realisering.

As ek kyk na waar demokrasie al veel ouer is, hanteer hulle sulke sake bietjie anders. Want ook daar word politieke en openbare figure, wat hulle oopstel vir kommentaar, aangevat en satiries uitgebeeld. Ek dink dadelik aan George W. Bush, François Mitterrand en Stephen Harper, die Kanadese premier. Laasgenoemde word ook kaal uitgebeeld. Die satiriese kunswerk deur Margaret Sutherland is ook geïnspireer deur frustrasies met ‘n regering se beleidsrigtings.

Hoekom is dit dan nie hier by ons moontlik nie? Kan dit wees omdat ons nog nie regtig geleer het wat dit beteken om vir onsself te dink nie? Kan dit wees dat bitter min mense weet wat dit beteken om vrydenkend te wees? Iets van wat Edgard Varese sê: “An artist is never ahead of his time but most people are far behind theirs.”

Of kan dit wees, soos my kunstenaar vriende Angus en sy vrou Rina Taylor my altyd herinner, dat kunswerke ‘n lewe van hul eie kan kry. Met ander woorde dat die kunstenaar se beoogde betekenis getransformeer kan word deur die interpreteerders daarvan. Want simbole en metafore het ‘n dinamiese interaksie met ‘n waarnemer se innerlike simboliese wêreld. Dit beteken ook dat soos Jackson Pollock dit verduidelik, “I have no fear of making changes, destroying the image, etc, because the painting has a life of its own.” – dat ‘n kunswerk nes ‘n kragtige idee, nooit vernietig kan word nie.

So kan dit dan wees dat Murray se “The Spear” wel op ‘n manier slaag? Wel ‘n lewe van sy eie gekry het, verder en buite net die kunstenaar se bedoeling? Ek dink so! Want op ‘n kragtige manier spreek dit wel die olifant in die vertrek aan. Dit is net ‘n ander olifant as wat Brett gedink het. Dis die olifant met die naam; VREES.

Ons het die olifant probeer wegsteek deur hom met die kleure van ‘n reënboog te verf … maar dit lyk vir my hy wil nie weggaan nie. Dalk is die wonde van die verlede nog, in baie, nie genees nie. Dit is baie duidelik sigbaar in die feit dat ons na amper 19 jaar nog nie daarin kon slaag om rassisme te oorkom nie. “Holding on to anger is like grasping a hot coal with the intent of throwing it at someone else; you are the one who gets burned.” sê Boeddha.

En hierdie kunswerk van Murray, of sal ek eerder sê reaksie op sy kunswerk, dwing ons om weer na ons eie harte van harte te kyk. Om weer vir onsself te vra, “Is ons nog bang?” Wat gaan in ons binne-wêreld aan? Ek vermoed dat o.a. rassisme meer is as net ‘n fenomeen wat gaan oor ras of velkleur. Ek dink nader aan die waarheid is die intense vrees in ons harte.

Omdat ons vanuit hierdie vrees na mekaar en die wêreld kyk, tree ons dan ook vanuit hierdie vrees op. En wat bring hierdie vrees na vore? Aggressie, woede, haat en pyn. Dit is daarom seker verstaanbaar dat ons so sukkel. Maar komaan, ons spirituele ontwikkeling en groei behoort ons nou al verder te geneem het. Ons weet tog dat negatiewe en afbrekende emosies wat vanuit vrees gebore is, soos woede en haat, nie binne ons brose binnewêrelde toegelaat moet word nie. Want vrees skep meer vrees. Is dit nie wat ons tans doen nie? Ons skep meer donker, meer vrees, meer haat, meer pyn.

Weereens staan ons as mensdom voor die dieper vraag; leef ons vanuit ‘n kern van liefde of vrees? “Darkness cannot drive out darkness; only light can do that. Hate cannot drive out hate; only love can do that.” verwoord Martin Luther King jr. dit. Net liefde kan hierdie siklus breek. En liefde begin altyd by jouself, met introspeksie. Tich Nath Hanh stel dit so: “We can look deeply into our hatred and gain many insights. One of the first insights may be that the seed of anger and hatred in us has grown too big, and is the main cause of our misery. As we begin to see this reality, we realize that the other person, whom our anger is directed at, is only a secondary cause. The other person is not the real cause of our anger.”

Koos Kombuis skryf in ‘n rubriek die volgende: “This is our central dilemma. Because, unless we face up to these uncomfortable truths, we will never be reconciled with one another, we will never learn to just hang out together as members of the rainbow nation.” Miskien was Jesus reg toe hy gesê het dat alles begin by vergifnis. Om onsself te vergewe, en ander, is een van die enigste maniere om weg te beweeg van vrees en eerder vanuit liefde te begin leef. En ek praat verseker nie hier van romantiese tra-la-la liefde nie, ek praat van liefde wat ongelooflik baie vra! En dit vra verseker baie van ons elkeen. Mahatma Gandhi het op ‘n keer hieroor gesê: “A coward is incapable of exhibiting love; it is the prerogative of the brave.” Kom ons wees braaf, baie braaf.

Want slegs dan sal ons die donker van vrees met die lig van vergifnis en liefde kan vervang. En dalk dan sal ons genees van die diep wonde wat ons vrees in ons en ander gelaat het. “I have found the paradox, that if you love until it hurts, there can be no more hurt, only more love.” moedig Moeder Teresa ons aan.

Kom ons wees braaf, vir ons en ons kinders se onthalwe…