Die antieke Chinese filosoof Chuang Tsu, wat in die vierde eeu v.C. geleef het, het een aand gedroom hy is ‘n skoenlapper. Die volgende oggend toe hy wakker word het hy dadelik sy droom neergeskryf: “Gisteraand was ek Chuang Tsu en ek het gedroom ek is ‘n skoenlapper, maar nou is dit die volgende oggend, en ek wonder of ek nie dalk ‘n skoenlapper is wat besig is om te droom ek is Chuang Tsu nie.”
Chuang Tzu word vandag nog as ‘n invloedryke Chinese filosoof gesien. Sy siening dat die lewe ‘n dinamiese en voortdurende veranderende proses is, maak hom verwant aan ander filosowe soos o.a. Heraclitus.
Net vinnig, Heraclitus was ‘n Griekse filosoof (535-475 vC) wat bekend was vir sy aansprake dat alles in die lewe, konstant onderworpe is aan verandering. Hy is veral bekend vir sy woorde dat alles onophoudelik vloei. By vele geleenthede het hy gesê: “No man ever steps in the same river twice.”
Nou terug by die droom van Chuang. Net soos Heraclitus wat sê niks bly dieselfde nie, het Chuang se droom die vraag gevra: Dit wat ek waarneem, is dit wel ‘n getroue weergawe van die werklikheid? Want net soos die werklikheid heeltyd verander, net so verander die een wat waarneem ook heeltyd. Nuwe idees, nuwe ervarings en nuwe opinies bring nuwe insigte. Nuwe insigte bring ander gevoelens en oortuigings na vore. En dit alles kleur die waarnemer se waarnemings in.
Dit wat jy waarneem word dus nie net bepaal vanuit die hoek waaruit jy kyk nie, dit word ook bepaal vanuit die een wat in daardie spesifieke hoek staan. Nie waar nie?
Kyk jy as ‘n skoenlapper wat droom hy’s ‘n mens of ‘n mens wat droom hy’s ‘n skoenlapper. Dit klink dalk na ‘n dom vraag, maar dit wys die belangrikheid van die verskillende moontlike hoeke en oogpunte waaruit ‘n kyker kyk.
Hierby sluit ‘n ander bekende Duitse filosoof, Johann Wolfgang von Goethe (1749-1832) aan met: “There is nothing insignificant in the world. It all depends on the point of view.” En hierdie hoek waaruit jy kyk na die lewe is maar net een van vele hoeke. Iets wat mense baie maklik vergeet, en dan verkeerdelik aanspraak maak op net een waarheid. Hulle waarheid.
Dit wat die Franse filosoof Simone de Beauvoir (1908-1986) so raak beskryf met haar: “Representation of the world, like the world itself, is the work of men; they describe it from their own point of view, which they confuse with the absolute truth.”
Want waarheid is veelvlakkig. En slegs wanneer iemand diep luister, diep kyk en met respek omgaan met ander se verstaan en belewenis van waarheid, kan daar sinvol ‘n dieper wysheid beleef word.
En die verskil tussen waarheid en wysheid? Die maklikste is om dit met die woorde van Miles Kington te verduidelik: “Knowledge is knowing that a tomato is a fruit, wisdom is not putting it in a fruit salad.”
Wysheid is die vermoë om vanuit verskillende hoeke na ‘n saak soos waarheid te kan kyk. Amper soos om te kyk na ‘n groot diamant.
Die misterie van die lewe is eenvoudig net te diep, veelvlakkig en veelkleurig. ‘n Groot Geheimenis.
En wysheid is om te besef ons leef in hierdie Geheimenis. Word deurdring en omring daardeur. Maar soos ‘n vis in die see blind is vir die grootsheid en alomteenwoordigheid van die waters waarbinne dit leef, speel en sterf, net so is ons siende blind.
Daarom is Chuang se droom so ‘n wonderlike vingerwysing na ons “blindheid.” Hy brei ook uit op hierdie tema met: “How do we know that to cling to life is not an error? Perhaps our fear of its end approaching is like forgetting our way and not knowing how to return home.”
Gewoonlik is lewe goed en om te sterf nie so goed nie. Meer nog, meeste mense vlug hulle hele lewe lank weg van hulle onvermybare einde.
Het jy al so daaraan gedink, miskien is die goeie dinge in jou lewe ‘n toets en die slegte dinge in jou lewe die eintlike geskenke. Want die slegte dinge help jou groei en die goeie dinge meestal nie. Net so ook kan die dood dalk die eintlike boodskapdraer van lewe wees. En lewe die boodskapper van dood. Dit wat die Griekse skrywer Aristophanes so lank terug reeds gesê het: “Wie weet of lewe dood is, of dood lewe is…”
Daarom kan net die wat stil genoeg word, die eintlike wyses, iets van hierdie Geheimenis verstaan. Eerlik beskou, kan ons nie veel meer van hierdie Geheimenis sê, as dat dit is, wat dit is, nie. En selfs dit wat ons so maklik beoordeel as sleg of boos in hierdie lewe, miskien is alles net maar wat dit is.
Benjamin Hoff verwoord dit as: “If you want to learn the natural world’s principles of success, you’ll need to see things not as “good” or “bad”, but as they are.”
Die droom wys daarom ook uit dat dit wat ons klassifiseer in die lewe as goed of sleg, heilig of boos baie keer net afhang of jy as skoenlapper of as mens daarna kyk. Dit beteken nie dat moraliteit of logika nie ‘n belangrike plek het nie, nee dit beteken eenvoudig net dat dit wat ons klassifiseer as goed of sleg, meer van die waarnemer afhang as wat dit van die werklikheid voor hom of haar afhang.
Kom ek probeer dit verduidelik met ‘n voorbeeld. Die teleskoop was in beginsel uitgevind deur ‘n klompie Nederlandse kinders wat gespeel het met defektiewe “stukkende” lense wat deur brilmakers weggegooi is as nutteloos. Hulle het die “nuttelose” lense opgetel en toe hulle die lense voor mekaar hou het hulle gesien voorwerpe vertoon groter en nader as wat dit is. Nuus van hulle uitvinding het soos ‘n veldbrand versprei en ‘n man met die naam Galileo Galilei in Italië het daarvan te hore gekom en die res is geskiedenis. So “nuttelose” lense het gelei tot een van die grootste realiteit-verskuiwende ontdekkings van ons tyd. Net so het al vele sogenaamde foute, nuwe ontdekkings en vooruitgang bewerkstellig.
Daarom seker dat vele leermeesters oor die eeue heen ons leer dat die bron van goedheid sowel as boosheid by die mens self lê. En dat wanneer die mens ooper en ruimer begin leef, hulle minder “blind” is.
En dan sal hulle wakker word vir die misterie wat voor hulle in elke oomblik ontvou. Dit wat Benjamin Hoff so meesterlik verwoord met: “When we see things as they are, we find a world of magic – the world that has been there all along. And we find ourselves wondering how we ever missed it.” ‘n Wêreld wat ‘n skoenlapper dalk makliker kan raak droom, as ‘n mens wat nog slaap…
Recent Comments