Mense kan hulself nou maar eenmaal nie keer as dit kom by hul behoefte aan sekerheid nie. Van sekerheid oor die hiernamaals tot hul sekerheid oor wie reg is en wie nie. Dit is amper asof mense nie sonder sekerheid kan funksioneer nie.

Daarom is dit so ironies dat dit juis die sogenaamde sekerhede is wat ‘n mens se grootste lyding veroorsaak. Want sekerheid bring klassifisering, oordeel en uiteindelik veroordeling.

Seker daarom dat Lao Tzu in sy Tao Te Ching (vers 2) die volgende sê:

“Wanneer mense sekere dinge as mooi klassifiseer,
word ander dinge lelik.
Wanneer mense sekere dinge as heilig beskou,
word ander dinge boos.”

Want sien, die oomblik wat jy seker is, kies jy. En hierdie keuse van jou klassifiseer en begrens. Sekerheid is dodelik en verlammend. En dit stop jou groei. En alles waarvan ons so seker en oortuig is, is dit nie maar net gegrond op tydelike menslike idees, opinies, oortuigings, afleidings, vertellings en konstrukte nie?

Dit waarna keiser Marcus Aurelius (121-180) lank gelede reeds verwys het: “Everything we hear is an opinion, not a fact. Everything we see is a perspective, not the truth.”

In wese is enige sogenaamde sekerheid tog slegs maar ‘n klein stukkie van ‘n groter geheel. Slegs ‘n weerspieëling van net een kant van ‘n meervlakkige diamant. En per definisie verander sogenaamde sekerhede die heeltyd – soos daar meer ontdek, gevind en bevind word.

Daarom slaan die Taoïstiese filosoof Chuang Tzu, die spyker op die kop met: “Most people cling to their own point of view, as though everything depended on it. Yet our opinions have no permanence; like autumn and winter, they gradually pass away.”

Seker daarom dat wysheid meestal gelykgestel word aan openheid en die vermoë om met twyfel te kan saamleef. Dit wat die Franse filosoof en teoloog (1079-1142) Pierre Abelardus na verwys het met: “The beginning of wisdom is found in doubting: by doubting we come to the question, and by seeking we may come upon truth.”

Is dit nie juis die onsekerheid en twyfel van mense, wat hul op die pad na vryheid en betekenis kan help nie?

Want die lewe is en bly tog ‘n ontvouende misterie. Niks is onveranderend en staties nie. En juis daarom is dit dalk so belangrik om deel te bly van die veranderende aard van die werklikheid, om te bly self ontdek en self bevraagteken. Om nie te vinnig, te seker te wees nie.

Nog ‘n Franse filosoof, Marcel Proust stel dit só: “We do not receive wisdom. We must discover it for ourselves after a journey through the wilderness which no one else can make for us.”

Ek hou van sy verwysing na wysheid as ‘n reis. Want daardeur beklemtoon hy die ewigdurende beweging, veranderende landskappe en onsekerheid van die lewensreis.

Natuurlik beteken dit nie dat alles ongeldig en as vals afgemaak hoef te word nie. Ek meen wanneer jy eerlik, krities en met respek omgaan met jou en ander se tydelike sekerhede, word jy dikwels bewus van die wonderlike rigtingwysers daarin opgeneem.

En om kritiese vrae te vra, te twyfel en soekende te wees beteken ook nie die vernietiging van alle tydelike sekerhede nie, dit beteken net die oorsteek van kennis- of idee-grense, die verskuiwing daarvan. Daar sal altyd nuwe horisonne wees. Nie waar nie?

Dink so daaraan, indien jou sekerhede jou nie help om voluit en vry te leef nie, is dit besig om jou in te perk en gevange te neem. En indien jou sekerheid jou op enige manier verhinder om liefde en geregtigheid in jou dag tot dag bestaan te beoefen, en jou weerhou om jou kreatiwiteit as mens ten volle uit te leef, dan is jou sekerheid tog iets negatiefs en afbrekend.

En ja, as jou sekerheid ander minderwaardig laat voel dan is jou sekerheid toksies vir jou en vir hulle.

Moet dus nie dat enige idees, ideologieë of vaste dogmas jou lewe definieer nie. Wees dapper genoeg om altyd vrae te vra. Onthou, dit sal nie net jou lewe verryk nie, dit het ook die potensiaal om jou en ander vry te maak.

Seker daarom dat Albert Einstein gesê het: “The important thing is not to stop questioning. Curiosity has its own reason for existing.”

Dit is egter ‘n pad wat elkeen sélf moet loop, niemand kan dit namens jou doen nie.

Thich Nhat Hanh sê: “Freedom is not given to us by anyone; we have to cultivate it ourselves.” Onthou tog die inspirerende woorde van Soefi en digter, Jalaluddin Rumi (1207-1273), en laat dit jou help om eerlik, lig en oop hierdie reis van wysheid te onderneem: “Out beyond ideas of wrong doing and right doing there is a field. I’ll meet you there.”