Hoe leef ons wys in ‘n onwyse tyd, ‘n tyd van angstigheid, vrees, pandemie en moedeloosheid? Wat beteken wysheid in vandag se omstandighede?
Let wel, voor ons verder gaan: Daar is ‘n onderskeid tussen wysheid en om reg te wees. Om reg te wees, is meestal konteks gebonde. Iets wat reg is vir ‘n Eskimo, is dalk heeltemal nutteloos en verkeerd vir ‘n woestynbewoner.
Alles is die heeltyd besig om te transformeer en iets anders te word. Evolusie. En juis daarom is dit nodig om nie vas te val in wat tans in ons wêreld afspeel nie. Om wys te leef vra juis van ons om vloeibaar en wakker te leef, sonder om in te koop in vandag se sienings as die enigste en onveranderde waarheid. Dis presies wat Bertrand Russell bedoel het met: “Do not fear to be eccentric in opinion, for every opinion now accepted was once eccentric.” Maar net soos waarhede veranderend en verbygaande kan wees, net so vas staan wysheid. Wat bedoel ek met wysheid? Wysheid is die vermoë om te weet wanneer iets reg is, en wanneer dit die regte tyd vir iets is om reg te wees. Dit is dus om die regte insig te hê en die regte oordeel aan die dag te lê. Iemand wat wys is, is nie noodwendig altyd reg nie, en iemand wat reg is, is nie noodwendig altyd wys nie. Maar iemand wat kan leer uit sy foute, wat kan erken as hy verkeerd is, wat kan luister, leer en selfs ont-leer, is ‘n WARE WYSE. Dit is hoe die Chinese leermeester Lao Tzu ook nadink oor wysheid en die wat dit bemeester. Dis seker waarom ek soveel aanklank by hom vind, veral by sy waardevolle filosofie soos opgeteken in die Tao Te Ching. En ja, daar is vele ander wysheidstekste wat ook groot bydraes lewer, maar ek vind die Tao Te Ching een van die helderste rigtingwysers. Dit is ‘n aardse spiritualiteit en wysheid in werking. ‘n Praktiese filosofie. En soos ons weet, is filosofie die “liefde vir wysheid.” Iemand wat wysheid met sy lewe en dade beliggaam, is ‘n Ware Wyse. Hiermee help Lao Tzu ons, en meer as enigiets anders is sy wysheid tydloos. Wat vir my interessant is van Lao Tzu se filosofie, is dat hy al sy wyshede bekom het uit sy waarnemings van die natuur en die lewe self. Geen bonatuurlike verstaan nie. Byvoorbeeld, hy het bevind dat, alles in ‘n delikate balans is; alles in die natuur werk saam om hierdie balans te behou. Jin/Yang (of manlike/vroulik, hard/sag). DIE DANS TUSSEN DIE TWEE IS LEWE. Niks bestaan op sigself nie, alles is in netwerk met alles. Die netwerk van die lewe. En dit is waarna die Tao Te Ching verwys, vers 51:
Alles in die heelal
is die uitdrukking van die Tao.
Die dans van materie,
die dans van vorm…
‘n Ware Wyse (dis hoe ek ‘Sage/Master’ in my poging tot ‘n vertaling dit noem), weet daarom hoe om saam te dans. Selfs te kan dans en vloei binne sy/haar eie verstaan van geslag. Want as Lao Tzu praat van ‘n wyse, is dit manlik en vroulik, geen onderskeid. Tao Te Ching, vers 59:
Die teken van ‘n wyse mens
is die vermoë om los te kan staan van eie idees.
Oop soos die hemele,
deurdringend soos die son,
ferm soos ‘n berg,
soepel soos ‘n boom in die wind,
sonder enige eindbestemming in die oog,
maak die wyse mens van enigiets gebruik
wat die lewe oor sy pad bring.
‘n Ware Wyse kan dus die tekens lees en weet wanneer om oop en soepel te wees en wanneer om deurdringend, gefokus en ferm te wees. Die geheim is egter om soos water te wees; vloei saam met die minste weerstand. Dit gaan eerder oor die lewenskuns van ‘n diep lewe en hoe om saam met dit wat is, hier en nou, in harmonie te vloei saam met dit wat voor jou ontvou – as wat dit iets dogmaties of resepmatig probeer verkondig. Eerder as baklei, veg, forseer, ontevrede wees, onvergewendgesind, hard en onbuigbaar wees. Dis die hele konsep waarop die beginsel van WU WEI (“nie-wees”) dui. Die Chinese uitdrukking Wu Wei (uitgespreek woo way) kan direk vertaal word as “inspanningslose aksie” of “om te doen sonder om te doen” (in Engels vertaal “effortless action”). Met ons Westerse uitkyk van produktiwiteit en prestasie sal ons dalk nie heeltemal hierdie insig verstaan nie – eenvoudig gestel: dat ons minder dinge moet forseer en meer vloeibaar en buigsaam moet wees. Dit wat Byron Katie probeer sê met: “Stop forcing life to be the way you want it to be; rather accept and let it be the way it is.” En Benjamin Hoff beskryf dit in sy boek, The Tao of Pooh: “Wu Wei is something we can learn by watching water. When a stream comes to some stones in its path, it doesn’t struggle to remove them. It just goes around them. And it goes singing.”
En prakties kom dit neer op die vermoë om nie oorhaastig te wees nie, om met geduld en kalmte elke situasie te benader. Want dié wat nie kan wag nie, maak foute, dwing, manipuleer en forseer … en die gevolge is pyn en dikwels mislukking. Ware wysheid is dus ‘n ingesteldheid van geduldig wees en bereid wees om te luister en te leer … oop te wees vir die vloei van die lewe, tevrede om te wag dat dinge, situasies eers ryp word. Forseer en ryp druk werk nooit nie! Daarom, ongeag die makrosituasie van die wêreld en COVID en die wêreld waarin jy jou bevind, of die mikrosituasie van jou persoonlike lewe, finansies, gesondheid en verhoudings, leer om saam met dit wat voor jou ontvou te vloei. Dit is wat Rainer Maria Rilke ook sê met: “May what I do flow from me like a river, no forcing and no holding back, the way it is with children.” Met ander woorde, iemand wat: ophou inkoop in sy of haar eie ego-storie, vrese en dramas, om op te hou om sy of haar wil te probeer afdruk op ander, ophou glo net hulle is reg of verkeerd. Kom uit jou eie pad. Hou op dat jou “storie” van die lewe die lewe versmoor. Die lewe word heilig daar waar mense wakker word vir dit wat is, en daar waar mense hulleself toelaat om spontaan en vry te leef. En dit is wat spiritualiteit as ‘n natuurlike krag en rigtingwyser beteken.
Kom ons bly soek, wonder, bevraagteken, vergewe. Kom ons lewe ligter en vloei meer, kom ons transformer ons eie lewens en sodoende ook ons wêreld waarin ons leef. Mag jy in hierdie tyd vrede, vloei en vreugde beleef!
Recent Comments