Die vier basiese elemente – water, vuur, lug (wind) en aarde (grond) – het van die vroegste tye af deel uitgemaak van die mens se nadenke oor die wese van die wêreld, waarvan ons so intiem deel is.
Natuurlik gebruik die wetenskap deesdae meer gesofistikeerde taal. Maar in wese kan ons steeds enige van hierdie vier elemente as metafore vir die boublokke van ons wêreld sien. Vir my is die elemente wonderlike spirituele hulpmiddels. Veral as dit gaan oor die mens se psige – ons binnewêreld.
Want hierdie binnewêreld van die mens is ondanks groot vooruitgang, ongelooflike tegnologiese ontdekkings en asemrowende menslike prestasies, nog heeltemal onderontwikkeld en onderontgin. En juis daarom is hierdie vier simbole so waardevol: Dit kan ons help om die deurmekaar wêreld aan ons binnekant beter te begryp.
Laat ek verduidelik wat ek bedoel.
Water: Daar is mense wie se binnewêreld soos ‘n vuil modderpoel, of soos ‘n stormagtige, gevaarlike see is. Skuldgevoelens en skaamte wat meer mense kan verdrink as enige seestroom.
Vuur: Ander se binnewêreld is weer soos ‘n onbeheerbare vuur wat alles wil verteer. Die begeertes wat so maklik buite beheer kan brand en verbrand.
Wind: Nog ander se binnewêreld is soos ‘n stormwind wat bome ontwortel en geboue kan vernietig. Woede, aggressie en selfs haat wat meer skade as ‘n tornado kan aanrig.
Aarde: En dan laastens is daar die mense wie se binnewêreld soos ‘n harde rots is, onbeweeglik en stagnant. Hardkoppigheid, onvegewensgesindheid en oordeel breek nie net ander nie maar ook die self.
Hierdie ewigdurende stryd wat binne die mens se psige voort woed is een van die grootste redes vir die uiterlike chaos waarbinne ons ons bevind. Want dit is nou maar ‘n feit dat mense se binnewêreld word sigbaar in hulle buitewêreld. Haat en liefdeloosheid spoel oor aan die buitekant in dade van geweld, chaos en mishandeling.
Is dit nie juis een van die hoofredes waarom die mens nog altyd na georganiseerde godsdienste gegryp het nie? Beloof die meeste godsdienste nie dat hulle die oplossing tot hierdie onrustige gemoed het nie? Ongelukkig het godsdienste nie veel gehelp met hierdie deurmekaar binne-toestand nie. Inteendeel, daar kan ‘n saak gemaak word dat hulle – met al hul fokus op sonde en skuld – bygedra het tot die vertroebeling van die mens se binnewêreld.
Gelukkig hoef ons nêrens heen te gaan, iets dramaties te doen of iets radikaals te glo of te onderhou nie. Nee, ‘n binnewêreld gevul met stilte, helderheid, kalmte en kreatiwiteit is juis te vinde so naby soos ons eie asem (wind).
Jy bestaan tog self uit hierdie vier elemente. Die elementêre kosmiese kragte van water, vuur, wind en grond is sowel binne as oral rondom ons. En sekerlik die vinnigste manier om nader aan hierdie vier elemente te kom, is om dit op te soek in hul natuurlike vorm – of jy nou van die see hou of Bosveld, of lief is vir jou tuin. Rondom en binne jou is jy van nature met hierdie simbole verbind, en deur hulle kan jy met die diepte van dinge kontak maak.
Gebruik daarom die natuur om weer jou binnewêreld te besoek. Laat die see jou terugroep na jou innerlike see. En laat die braaivleisvuur jou herinner aan jou innerlike vlam. Gebruik die laatmiddagwindjie deur die bome om ook jou binne-storms stil te waai. En gebruik die oggend- en aandklanke van voëltjies en insekte om jou in die diepte van jouself te keer.
Met die hulp van die vier elemente kan jy weer leer konsentreer en fokus op dit wat werklik saak maak; weer kontak maak en balans vind binne jouself; deur eenvoudig net diep en stadig asem te haal en te glimlag. En sodoende kan jy uiteindelik ‘n diep rus – dit waarna jou onrustige siel so smag – vind. Dit is waar stilte en innerlike vrede begin. Dit gebeur wanneer daar harmonie is tussen binne en buite.
Sekerlik daarom dat in ‘n Oosterse konteks na iemand wat innerlik en uiterlik in balans is, wat vrede ken, verwys word as ‘n draak. Want vir hulle verteenwoordig ‘n mitiese figuur soos ‘n draak al vier elemente. ‘n Reptiel (leef in en onder die aarde), skubbe om mee te kan swem (water), vlerke om te vlieg (wind) en blaas vuur (vuur). So is een van hulle grootste spirituele leermeesters dan ook vergelyk met ‘n draak: Lao Tzu.
Lao Tzu het volgens oorlewering in die sesde eeu B.C.E. geleef. ‘n Ou man met ‘n grys baard, wat die meeste van sy tyd in meditasie deurgebring het. En wat soos Buddha en Jesus na hom, altyd daar was as mense met hom wou gesels en by hom wou raad hê. Confucius het op ‘n keer by Lao Tzu (op daardie stadium reeds ‘n baie ou man) gaan kuier, en na die tyd het Confucius aan sy volgelinge die volgende gesê: “Ek weet dat ‘n voël kan vlieg, ‘n vis kan swem, en dat diere kan hardloop. Om die wat hardloop te vang, stel jy ‘n wip: vir die wat swem, ‘n vangnet; en vir die wat vlieg, gebruik jy ‘n pyl en boog. Maar om ‘n draak wat sweef op die wind te vang is bo my begrip. Vandag het ek Lao Tzu ontmoet, en hy is ‘n draak!”
Want eers wanneer jy jou binnewêreld kan kalmeer, stil maak en vrede beleef, sal jy dit ook in jou buitewêreld kan doen. Eers dan vloei jou harmonie uit in die wêreld rondom jou. Vrede begin altyd binne. Liefde en harmonie is altyd eers ‘n innerlike werklikheid wat dan die uiterlike werklikheid vorm – nooit anders om nie.
Daarom wees ‘n draak!
Recent Comments