Met die verskyning van my nuwe boek, God se oë is Blou (Naledi Uitgewers) het ek geleentheid gekry om by die Woordfees in Stellenbosch en by die KKNK in Oudshoorn op te tree.

Ek was aanvanklik maar skepties oor hierdie optredes, juis omdat my vorige blootstelling so ‘n negatiewe ondervinding was.

Vir die wat nie weet nie, laas jaar was ek ook genooi na die Woordfees om deel te neem aan ‘n gesprek tussen my, Nico Koopman (Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch) en Jurie van den Heever (‘n Paleon-toloog verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch). Die tema van ons gesprek was, “Is daar ‘n Hemel en Hel?”

Die Tydskriftemaatskappy™, uitgewer van Kerkbode, was die borg. Die Kerkbode joernalis Jean Oosthuizen was die skakelpersoon wat met my onderhandel het oor my betrokkenheid by die gesprek.

Toe daar egter deur die borg uitgevind word dat ek een van die sprekers is, is daar besluit (op ‘n baie laat stadium) om te onttrek as borg. Gelukkig het Protea Boekhuis Stellenbosch ingestaan as nuwe borg en kon die gesprek wel voortgaan.

Dit het egter ‘n hele kettingreaksie van negatiewe gebeure ontketen, o.a. die mediaverklaring waarin Kerkbode ontken het dit het oor my gegaan het en alle blaam is op Jean Oosthuizen geplaas, en hy het ook daardeur uiteindelik sy werk verloor.

So, toe ek hierdie jaar weer genooi is vir ‘n oopgesprek was ek verstaanbaar versigtig en nie te opgewonde nie.

Maar was ek verras met wat ek hierdie keer daar gevind het. By die Woordfees optrede was die saal volgepak en die mense was merkbaar ooper en vryer as die vorige keer. Selfs met die vrae geleentheid was ek verras met die oop denke.

En tydens die KKNK geleentheid waar ek en Koos Kombuis en die joernalis Ilza Roggeband oor o.a. my boek saamgesels het was die gehoor net so positief en verwelkomend.

My eerste gedagtes na die geleentheid was die woorde van Willis Harman: “Something as quiet as a change of mind is bubbling up out of the unconscious depths, spreading around the world, changing everything.”

Kan dit wees dat die tyd aangebreek het, en dat die momentum begin swaai? Dat meer en meer mense nou openlik en eerlik oor hulle twyfel en onsekerhede kan en wil praat?

Om bogenoemde verder te illustreer: ‘n Jong pa en ma kom na die tyd, by die KKNK optrede, na my en vra of ek ‘n kopie van my boek vir hulle sal teken. Toe ek vra aan wie ek die boek moet opdra, sê die jong ma sonder om te skroom “Liza, asseblief!”

Toe ek vra wie Liza is, toe sê sy hulle babadogtertjie. “Ek wil die boek eendag vir haar gee as sy oud genoeg is … dan wil ek vir haar sê sy moet die boek eers lees voordat sy enigsins besluite neem oor waaraan sy wil glo of nie!”

In hierdie ma se woorde hoor ek ‘n nuwe generasie se oop en vry denke. En ‘n nuwe generasie wat hulle kinders ook wil vry en selfdenkend grootmaak.

Natuurlik is vele van hierdie vrydenkers nog maar stil. Nie te veel wil hulle familie en vriende ontstel met hulle ooper denke nie.

Maar ten spyte van hierdie stilswye, lyk dit tog vir my of meer mense besig is om volwasse in hulle denke te word. En of dit nou in godsdiens of politiek is – dit is merkbaar hoe mense nie meer sommer net alles onkrities aanvaar nie.

Ek is baie dankbaar oor hierdie nuwe lyn van onafhanklike denke. Want is dit nie tyd dat ons ophou om blindelings agter sogenaamde kenners, leiers en gesagspersone aan loop nie?

Presies waarna een van my gunsteling Indiese filosowe, Jiddu Krishnamurti verwys met: “For centuries we have been spoon-fed by our teachers, by our authorities, by our books, our saints. We say, ‘Tell me all about it – what lies beyond the hills and the mountains and the earth?’ and we are satisfied with their descriptions, which means that we live on words and our life is shallow and empty. We are second-hand people. We have lived on what we have been told, either guided by our inclinations, our tendencies, or compelled to accept by circumstances and environment. We are the result of all kinds of influences and there is nothing new in us, nothing that we have discovered for ourselves; nothing original, pristine, clear.”

En omdat ons vir jare onkrities geleef het, of ‘tweedehands’ soos Krishnamurti dit stel, het ons as mense, meganiese lewens geleef. Soos ‘n papegaai wat net kan herhaal wat vir hom geleer is.

Daarom my opgewondenheid as ek sien hoe meer mense openlik oor hulle twyfels, soeke en vrae begin praat. Want daardeur gee dit ‘n stem vir die vele stemloses. Of soos ‘n skaapboer uit die Karoo wat vir my sê, “Elke keer wat ek jou so eerlik hoor praat, gee dit my die moed om self ook eerliker te wees!”

Juis daarom is iemand soos Krishnamurti so belangrik in hierdie tyd. Want hy help ons verstaan dat onafhanklike, kritiese en oop denke die enigste pad na verligting is. Dit is egter ‘n pad wat elkeen self moet loop, niemand kan dit namens jou doen nie. Hoor hoe stel hy dit:

“So you see that you cannot depend upon anybody. There is no guide, no teacher, no authority. There is only you – your relationship with others and with the world – there is nothing else. When you realize this, it either brings great despair, from which comes cynicism and bitterness, or, in facing the fact that you and nobody else is responsible for the world and for yourself, for what you think, what you feel, how you act, all self-pity goes.”

Hierdie is natuurlik ook die rede hoekom ek hierdie nuwe boek geskryf het. Om die baie mense wat (soos ek) nie meer gemaklik voel met die tradisionele antwoorde wat gegee word op lewens- en geloofsvrae nie, te help om vir hulle self te kan begin soek en vind.

Terwyl ek hierdie woorde skryf, hoor ek die interkom aankondiging dat my vlug terug na Gauteng gereed is. Terwyl ek my rekenaar afsit, glimlag ek by myself en dink, “Ons vrydenkers is verseker nie meer so ‘n alleen groepie nie … die winde van verandering is besig om te waai.” Jiddu Krishnamurti: “I maintain that truth is a pathless land, and you cannot approach it by any path whatsoever, by any religion, by any dogma.”