Meeste mense identifiseer hulleself met hulle voorkoms. Hoe hulle lyk is baie belangrik.

Dit kan ons goed of sleg laat voel, in of uit laat en suksesvoller en aantrekliker maak. Dit kan selfs ons beter of slegter laat presteer. Daarom seker soveel klem in ons tyd op uiterlike voorkoms. Natuurlik is ons voorkoms nie onbelangrik nie, maar die ongesonde fokus daarop maak dat ons oor-identifiseer met ons liggame. Soveel so, dat baie mense aan hulself net kan dink in terme van hulle liggame.

Nou die vraag: Is ons minder as ons liggaam gebreke het? Daar is mense met ernstige gebreke, sonder arms en bene wat nog mens is en selfs kan voluit lewe.

Die bekende Joods-Duitse filosoof, Franz Rosenzweig, het sy hoofwerk Stern der Erlösung (“Die ster van verlossing”) geskryf terwyl hy heeltemal verlam was en sy vrou uit die knip van sy ooglede moes aflei watter letters hy wou gebruik. Helen Keller was blind en doofstom, maar sy het ‘n invloed op die wêreld gehad wat min mense beskore is. En om nie te vergeet van Stephen Hawking nie, die wêreldbekende teoretiese fisikus, wat met ‘n klein draagbare rekenaar en spraak-sintetiseerder wat aan sy rolstoel vas is, boeke, referate en ‘n uitgebreide reis- en lesingprogram kombineer, en navorsing in teoretiese fisika doen.

As mens dus mooi nadink is ons liggame wel belangrik, in ‘n sekere sin ons “voertuig,” maar ons is nie uitsluitlik óns liggame nie.

En ons gedagtes? Ons gedagtes is gewoonlik nie vir ‘n oomblik stil nie. Daar is ‘n voortdurende stroom gedagtes wat deur ons vloei.

Ons eerste instink is gewoonlik om te glo dat ons gedagtes bepaal wie ons is. Ons vertolk en interpreteer immers elke oomblik van die dag. Ons analiseer en bedink onophoudelik ons eie dramas wat in ons koppe afspeel. Tog beskik ons ook oor die vermoë om die onderwerp van ons gedagtes willekeurig te kan verander. Ons kan bloot besluit om oor iets anders te dink as waaraan ons besig was om te dink.

En as ons nog dieper delf, ontdek ons vinnig dat agter ons gedagtes daar eintlik ‘n deurlopende kommentator is, jou ego. Dit is juis op hierdie punt dat ‘n mens maklik die verkeerde afdraaipad kan neem. Dit gebeur as ‘n mens inkoop op die idee dat jy jou ego (of jou “ek”) is.

Maar eintlik is jou ego net ‘n masker wat jy opsit om jou rol in die lewe te speel. En hiermee help ons klem op uiterlike voorkoms ook. Want hoe maklik kan ons nie onsself opmaak, aantrek en selfs vermom nie? Vanaf die eerste dag van jou lewe kry jy terugvoer van jou omgewing oor hoe jy eintlik behoort te wees – “‘n Seuntjie doen nie sulke dinge nie!” of “‘n Soet dogtertjie is so of so.”

Ons kry deurentyd sulke terugvoer van ons ouers, familie, ons vriende, ons skool en werk, kerk en kultuur. So vorm ons ego dan die masker waarmee ons ons rol in die samelewing kan speel.

Dit is die ego se pynliggaam wat gekrenk raak en seerkry as iemand iets negatief of vals oor jou sê. En dit is ook die ego wat ‘n vrees vir die dood het. Maar hier teen jou middeljare begin jy agterkom dat daar iets dieper, iets meer substansieel in jou lewe is. Iets met ‘n ewigheidsperspektief, wat die ego nie het nie. En so kan jou gedagtes, jou ego jou verblind. Anthony de Mello, sê dit so raak met: “Thought can organize the world so well that you are no longer able to see it.”

Iets wat die sielkundige Carl Jung, die Self met ‘n hoofletter noem, wat hy ook genoem word die Ware Self. En dit is die rede hoekom elkeen van ons hier is, om te leer om ons ego aan ons Self te onderwerp. Hiermee help die lewe se heeltyd veranderende karakter. Niks is permanent nie, niks om aan vas te hou nie. Selfs nie jou voorkoms of gedagtes nie. Want die Self is veel meer as jou liggaam of gedagtes.

En ons emosies? Dit is tog so ‘n getroue uitdrukking van hoe ons op ‘n spesifieke tydstip voel. Maar die waarheid is dat ‘n mens ook jou emosies kan beïnvloed en verander, omdat emosies ook ten nouste gekoppel is aan jou ego.

As ‘n mens dan nie jou liggaam is nie, of jou gedagtes of jou emosies nie, wie is jy dan?

Die antwoord is eenvoudig: As ‘n mens nie met een van hierdie drie aspekte van jouself ooridentifiseer nie, is jy die Waarnemer wat die drama of storie van jou lewe stilweg kan beskou.

Om die perspektief van die Waarnemer te aanvaar kos nogal werk en oefening. ‘n Mens is maar altyd geneig om hierdie onbetrokke posisie te laat vaar en jou met een van die karakters van jou lewe te identifiseer – soos wat ‘n mens met jou gunsteling karakter in ‘n storieboek kan identifiseer.

Hoewel die meeste van ons seker nooit volkome vanuit die Waarnemer se perspektief sal kan waarneem en leef nie, kry ‘n mens dit tog deur ‘n bietjie oefening reg om dikwels, indien nie meesal nie, deur die Waarnemer se oë na jou eie doen en late te kan kyk. Dit stel ‘n mens in staat om wat jy doen eenvoudig net te “noteer” sonder te veel emosionele reaksie. Daar kom ‘n gedagte by jou op en jy sê vir jouself dis net “jaloesie”, of “rassisme” of ego drama.

Ons is so geneig om onsself, by wyse van spreke, oor die vingers te tik as ons ‘n “verkeerde” gedagte het of iets verkeerds sê of doen. Maar dit is teenproduktief en versterk eintlik maar net die ego. Dit het ‘n veel positiewer uitwerking as jy dit net waarneem en noteer, soos wat jy ‘n vreemdeling se optrede sal waarneem. Deur dit te doen onderwerp jy die ego aan die Self, wat ‘n veel breër perspektief op jou lewe het as wat jou geskepte ego ooit kan hê.

Jy sal begin agterkom dat jy nie so maklik seergemaak of misken voel deur dinge wat mense sê en doen nie, en dat selfs jou perspektief op wie jy werklik is sal verander. Jy is soveel meer as wat jy sien, dink en voel. Jy is soveel meer as jou storie en drama. Presies dit – jy is soveel meer!

So skep jy vir jouself ruimte vir wakker word vir die Ware Self, die Waarnemer. Dit wat Osho (1931-1990) verwoord met: “One of the most fundamental things to be remembered is that whatever you come across in your inner journey, you are not it. You are the one who is witnessing it. It may be nothingness, it may be blissfulness, it may be silence, but one thing has to be remembered: however beautiful and however enchanting, you are not it. You are the one who is experiencing it.”