“Soek die waarheid binne jou, dan sal jy wys genoeg wees om die waarheid buite jou ook te vind…” Woorde van my Leermeester Thich Nhat Hanh wat my lewe verander het.
Wat hierdie woorde natuurlik impliseer het, was dat voordat ek enige lewensvraag, probleem of enige dieper insig kon verwerf, ek eers die belangrikste vraag van almal moes antwoord: Wie is ek? ‘n Vraag wat net ek kan beantwoord. “Selfs nie ek kan jou help nie,” het Hy elke keer gesê as ek hom gedruk het vir ‘n antwoord.
En wanneer ek vir hom sou sê dat ek nie weet hoe om myself te leer ken nie, sou hy geduldig die volgende sê (sy presiese woorde): “To meditate means to go home to yourself. Then you know how to take care of the things that are happening inside you, and you know how to take care of the things that happen around you.”
Want sien, hy het geweet dat my behoefte om ‘n antwoord by hom te kry uiteindelik gaan meebring dat ek my vryheid en innerlike wysheid gaan opgee.
Want die oomblik wat ek eerder na hom sou luister, verstil ek daarmee my eie stem en word ek afhanklik en selfs ‘n slaaf van iets of iemand anders se wil en waarheid.
En ek moes op die harde manier leer dat niemand my kan help nie, dis my pad om te stap. ‘n Goeie leermeester is dus altyd iemand wat jou help om jou eie stem te ontdek. Is dus iemand wat ‘n spieël vir jou ophou.
So, ons is terug by Thây se woorde: “Soek die waarheid binne jou…” Want sonder dit sal enige waarheid van buite altyd verslawend en versmorend wees. Dit is dus lewensbelangrik om jouself te ken. Sri Nisargadatta Maharaj stel dit so: “You cannot transcend what you do not know. To go beyond yourself, you must know yourself.” En net hier loop ons ons vas in die muur van georganiseerde godsdienste. Alhoewel meeste godsdienste wel selfkennis propageer, is die beskouing van “Ons het die antwoorde op al jou vrae,” sekerlik die giftigste gif moontlik teen selfkennis.
Kom ek verduidelik bietjie verder. Godsdiens vra van jou om iets buite jouself te gaan soek. Deur die eeue is daar mense en groepe wat oortuig was hulle het die iets gevind. Dan is daar reëls en dogmas vasgelê vir almal – om die iets wat gevind is, as die volkome waarheid te aanvaar. Stadig maar seker het daar dan reëls en formules inslag gekry en is mettertyd omskrywe as wette.
Geen twyfel of vrae was dan geduld nie, net lojaliteit en blindelingse geloof. Kategorieë het ontstaan van: ons en hulle, gelowiges en ongelowiges, verlostes en verlorenes. Jy was in of jy was uit! Die vyand was die wat nie die spesifieke waarhede aanvaar het nie. Vandag nog sien ons die verskynsel, Christene is Moslems se “infidels”! En andersom!
Godsdiens is dus ‘n geslote sisteem. Geen soeke of twyfel word toegelaat nie – onkritiese glo, verdedig en bely. Die hele lewe en sin vasgevang binne die rituele, seremonies, simbole en verstaan van die spesifieke godsdiens.
Dus, jy is wie jou godsdiens sê jy is. Geen verdere soeke nodig nie. En wat gebeur? Jy verloor jou stem, jou waarheid.
Daarom dat elkeen van ons nodig het om te stop. Self te begin ondersoek. Self die reis na binne begin. En hiermee kan godsdienste se dieper spiritualiteit wel baie help.
Solank jy egter onthou, spiritualiteit is ook buite godsdienste te vind. Godsdiens en spiritualiteit verskil van mekaar. Spiritualiteit is ‘n soeke na die waarheid nie buite jouself nie, maar ‘n soeke binne jouself. Dis nie ‘n filosofie met ‘n klomp reëls nie, dit is veel meer van ‘n belewenis.
Dis ‘n misterieuse ervaring, nie ‘n universele waarheid nie. Dis ook nie ‘n doel in sigself soos godsdiens nie. Dis nie ‘n doelwit wat jy kan bereik of ‘n eindpunt waarby jy kan aankom nie. Dis ‘n voortdurende reis. Dit is soos ‘n kunstenaar wat skep. Geen enkele skepping van ‘n kunstenaar is sy of haar finale werk nie. Elke nuwe kunsstuk verteenwoordig die kunstenaar se groei en transformasie.
Ram Dass het spiritualiteit beskrywe as ‘n voortdurende proses van transformasie. Hy verwoord dit as volg: “Everything in your life is there as a vehicle for your transformation. Use it!” Spiritualiteit is dus in wese die proses van selfontdekking en groei. Spiritualiteit is oop. Dit kan natuurlik op die oog af baie egosentries en selfsugtig lyk.
Want waar godsdiens mense uitstuur om ander te gaan bereik vir hulle “evangelie” en aangemoedig word om hulle self op te offer, vra spiritualiteit van jou om eers na binne te beweeg. Dit vat jou weg van ander af sodat jy eers jouself kan ontdek. Hiervan is Jesus se woestyntyd ‘n goeie voorbeeld. In sy selfontdekking word sy binnekant soos sy buitekant. Meer nog, hy ontdek sy goddelikheid binne hom en vind so sy verhouding met die sin van die lewe. Dit is spiritualiteit, die reis na binne.
Met tyd neem die reis egter jou weer na buite, na die ander. Die verskil is net dat nou herken jy jouself in die ander. Alles word ‘n spieël. Daarom dink jy nie meer in kategorieë nie, maar holisties. Jy ervaar al meer jou onlosmaaklike “interconnectedness” met alles en almal. En daarom as jy diere, plante of mense sou seermaak – besef jy dat jy jouself seermaak.
Jy besef dat die Kosmos waardevol is omdat jy inherent deel is van alles. Jy dink twee keer voordat jy sinlose geweld gebruik teenoor enige lewende wese, of dit nou renosters of geelhoutbome is. Spiritualiteit, anders as godsdiens, bring die besef dat mense nie die kroon van die skepping is nie, maar slegs ‘n vertakking van “die boom van lewe.”
Daarom is die strewe na ‘n beter wêreld en lewenskwaliteit vir alle lewende wesens, onafskeidbaar deel van spiritualiteit. Die Amerikaanse digter Walt Whitman som spiritualiteit op met die volgende: “This is what you shall do: Love the earth and sun and the animals … dismiss whatever insults your own soul, and your very flesh shall be a great poem.”
Spiritualiteit is dus om meer menslik te word, meer aards. Om meer te lag, stadiger kwaad te word en vinniger te vergewe.
En ja, alles begin by die eenvoudige vragie, “Wie is Ek?”
Recent Comments