‘n Eeue oue vraag, wat is die self? – is ‘n belangrike vraag.

Dít vra natuurlik na die aard van die self; die kern van wie jy werklik ís. Verby dit wat jy dínk jy is en anderkant die verwagtings wat ander van jou het. Ook verby die baie rolle wat jy daagliks vertolk. Dis die soeke na die kern van jou wese, die ware self. Kom ek verduidelik.

Griekse filosowe het reeds eeue terug gesê dat om jouself te ken is een van die belangrikste dinge tot ‘n sinvolle lewe. Ook vanuit die Ooste het byvoorbeeld Lao Tzu, ‘n Chinese wysgeer gesê dat om ander te ken wel belangrik is maar dat selfkennis uiteindelik alles oortref.

Selfkennis, het hulle geleer is die enigste weg na vrede en sin.

Selfkennis impliseer dat jou lokus van kontrole binne jou kern geanker is. En dat al moet jy wel verskillende rolle in jou lewe vertolk, jy geanker daarin moet bly.
Natuurlik weet ons dat jy moet rolle vertolk, om die waarheid te sê, die samelewing verwag dit van jou.

Rolle wat jou help om op verskeie vlakke te funksioneer, soos byvoorbeeld eggenoot, ouer, werkgewer of werknemer, vriend, versorger, vegter en minnaar. Elkeen van hierdie rolle help jou met jou plek en doel binne ‘n sisteem.

Die gevaar is net om jouself te oor-identifiseer met een van die rolle wat jy daagliks moet vertolk. Dink maar net aan ‘n man wat ‘n pa en ‘n eggenoot is, en in sy werk ‘n besigheid bestuur.

Die erkenning, beloning en meetbare sukses kom gewoonlik vanuit sy werk. Dit kan meebring dat hy homself al meer identifiseer met sy rol as suksesvolle bestuurder en sodoende homself daarin verloor.

Nou wissel hy nie meer tussen die verskillende rolle nie, hy is nou besigheidsbestuurder-pa en bestuurder-eggenoot ens. Hy verloor sy identiteit in sy werksrol; hy word sy werk. En sy kern, dit wat meer is as enige rol wat hy op ‘n gegewe tyd speel, word nou onderdruk en ontken.

Die probleem is egter dat ons kern, ons ware self – dit wat ons is, selfs as alles van ons weggeneem word – nie ontken kan word nie. En omdat ons hierdie realiteit van wie ons is probeer ontken, ontstaan daar ‘n wanbalans, ‘n breuk.

En soos ons almal weet, jy kan nie iets aan die buitekant wees wat jy nie ook aan die binnekant is nie. Jy kan dit nie volhou nie, want dit steel al jou energie.

Jy het ontkoppel van jou kragbron. En dit bring ‘n diep lyding na vore, ‘n leegheid; wat deur niks van buite gevul kan word nie. Eckhart Tolle ondersteun hierdie siening, as hy die kontak-verloor met jou kern en inkoop op ‘n valse self, die ego noem.

Hy sien die ego as die self geskepte prentjie van wie jy dink jy is en wat ander dink jy is. Jy bou jou lewe, jou drome en jou behoeftes rondom hierdie geskepte identiteit. Jy hou dit in stand deur op kunsmatige wyse jou lewe so te orden dat jy onder die illusie kan voortleef.

“The ego creates separation, and separation creates suffering.” Tolle beskou ook daarom die ego as die oorsaak vir al die menslike ellende en pyn in die wêreld: “The collective manifestations of the insanity that lies at the heart of the human condition constitute the greater part of human history.” Die ego is dus die “insanity” wat die mens in ‘n wurggreep het.

Daarom dat ons wêreld so stukkend is: want ons uiterlike wêreld weerspieël maar net ons innerlike wêreld. Die oorsaak van al ons persoonlike probleme en meeste van die wêreld se probleme, kan dus volgens my opgesom word in ‘n enkele sin: Mense is diep maar hulle leef vlak.

Die ware self is ‘n innerlike realiteit. Dit wat jy nog altyd was maar vergeet het jy is. Die ware Self vra dat jy minder word, afskil en laat gaan. Ego vra vir meer, byvoeg, aanhaak en groter maak. Ons ware Self is nié ons gedagtes, emosies of liggame nie. Ook nie waar ons bly, waarmee ons ry of wat ons kry nie. Nee, ons ware Self is ons goddelike kern, dit wat ons reeds is.

Presies waarna Eckhart Tolle verwys met: “To realize that you are not your thoughts and feelings is when you begin to awaken spiritually.” Juis daarom is dit so belangrik om te leer losmaak en laat gaan.

Presies wat die Zen leermeester Zhao Zhou ons leer met: “Zen is not about adding; it is about subtracting everything.” En hiermee bedoel hy dan ook dat eers wanneer jy jou begin losmaak het van jou rolle, jou idees en besittings sal jy kan weet wie jy werklik is.

Ek moedig altyd mense aan om alles te laat gaan en dan te kyk wat bly. En dit wat bly, dis jy. Want sien, jy kan nie verloor wat jy is nie, net wat jy dink jy is.

Daarom, moenie val vir die versoekings van die ego om jouself te verdedig of te laat geld nie. Hou op om jouself te probeer regverdig, want daar is niks om te regverdig nie. En hou op om bekommerd te wees oor hoe ander jou sien. Dit is hulle probleem, nie joune nie. Hou op om liefde en aanvaarding by ander te soek, dit is om spiritueel blind te wees vir jou ware identiteit. Want jy is reeds liefde, jy is reeds genoeg.