In Alcibiades I gee die vader van die filosofie, Sokrates, ons ‘n wonderlike analogie. Hy vertel dat die meeste mense hulle voete met hulle skoene verwar. Hy wys dan uit dat skoene slegs aan ‘n mens behoort, dit is nie wesenlik deel van ‘n mens nie. Maar omdat vele mense die twee met mekaar verwar, sukkel hulle om raak te sien wat is belangrik en wat nie.
Net soos die meeste mense ook plesier en lewensvreugde met mekaar verwar. Ja, sekere dinge kan ons plesier verskaf, maar Sokrates wys uit dat dit nie dieselfde is as lewensgeluk nie.
Kom ons kyk bietjie dieper na hierdie saak.
Is dit nie so dat die meeste mense ‘n geneigdheid het om hul ego-stories, materiële welvaart, sosiale aansien en sosiale rolle te verwar met dit wat wesenlik deel is van hulle nie? Iets wat na vore kom in byvoorbeeld ons taal, wanneer na iemand verwys word as ‘n persoon wat vir homself kan sorg, en dit meestal verwys na iemand se gunstige finansiële situasie.
En hierdie verwarring veroorsaak dat mense dink dat die goed wat hul lewens makliker maak, ook hulle lewens beter sal maak. En ongelukkig is dit nie so nie, die teendeel is eerder waar.
Kyk maar net na hoeveel meer dinge, goeters en gemakliker lewens die meeste van ons het in vergelyking met die vorige geslagte. En tog is ons ooglopend nie gelukkiger nie. Ons het heel moontlik minder lewensvreugde en meer stres as ons voorgeslagte.
Kan dit wees dat besittings en welvaart die oorsaak is van ons ongelukkigheid? Dat dit juis ons besittings is wat óns besit en ons sodoende angstig en depressief maak? Dit wat Benjamin Franklin ook sê: “He does not possess wealth; it possesses him.”
Soveel mense besef dit nie, maar weens ‘n irrasionele verknogtheid aan hul besittings is hulle in der waarheid in ‘n tronk. Gevangenes van hulle eie begeertes.
Is ons obsessie met opgaar, meer en meer koop en alewig nuwer en beter nie maar net die teken van ons spirituele armoede nie?
Presies wat Sokrates so lank gelede al probeer sê het met: die mens het vergeet dat sy voete nie sy skoene is nie. Waarby Matteus 6 vers 19 aansluit met: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie.”
Skoene word oud en stukkend, gaan uit die mode en word gesteel. Maar jou skoene is nie jou voete nie … Is dit nie so dat niks wat jy kan besit werklik “joune” is nie?
Ons kom sonder enigiets in hierdie wêreld in en ons gaan net so besittingloos weer hier uit. Maak dit dus nie veel meer sin om ligter te lewe nie? Vryer en eenvoudiger.
Dit is asof die mensdom gehipnotiseer is deur hul “skoene”, die goeters en dinge van die lewe, en daarin verloor hulle hulself. Of anders gestel, hulle is vas aan die slaap en verwar die droom met die werklikheid.
George Carlin, die Amerikaanse komediant, het op ‘n keer hierdie toestand van hipnose vergelyk met die sogenaamde Amerikaanse droom: “That’s why they call it the American Dream, because you have to be asleep to believe it.”
Om dus wakker te word vanuit hierdie toestand van hipnose of slaap, is om te besef dat ware geluk in die teenoorgestelde rigting as meer, groter en beter lê. Dit waarna Will Rogers verwys met: “Too many people spend money they haven’t earned, to buy things they don’t want, to impress people they don’t like.”
Die teenoorgestelde rigting is te vind in eenvoud; minder eerder as meer. Dit waarna Henry David Thoreau verwys met: “Simplicity, simplicity, simplicity! We are happy in proportion to the things we can do without.” Want sien, wat eenvoud doen is om ons te help om te fokus op dit wat regtig belangrik is, en natuurlik raak te sien dit wat nie belangrik is nie.
Eenvoud is natuurlik veel meer as om net minder besittings te hê of ‘n lewe te lei wat nie gejaagd is nie – nee, die ware betekenis van eenvoud is geleë in ‘n innerlike ingesteldheid om te kan laat gaan. Dit wat die Dhammapada (Boeddhistiese geskrif) die wysheid van die “wyses” noem.
‘n Ingesteldheid waar jou hoogste waarde dié is van outentiekheid, wakker wees en eerlik leef. ‘n Gedeelte vanuit die Dhammapada stel dit so: “Op die einde is die belangrikste van alles: Hoe diep kon jy liefhê? Hoe vol en teenwoordig het jy gelewe? En hoe gereeld kon jy laat gaan?”
Want voordat jy nie kan laat gaan nie, is jy steeds ‘n gevangene, ‘n slaaf. Maak nie saak of dit emosioneel van aard is of fisies nie. Dit wat jy nie kan laat gaan nie, is jou baas.
‘n Zen-spreuk sê juis: “Let go or be dragged.”
Verbeel jou ‘n lewe waar jy nie meer gedryf word deur jou begeertes tot méér en méér nie. ‘n Wêreld waar dinge en goeters nie die hoogste waarde vir jou het nie, maar eerder liefde, deernis en respek. Hoe anders sal jou lewe lyk?
‘n Lewe waar jy weer vry kan asemhaal, die windjie in die laatmiddag op jou vel kan voel en tevrede voel binne jou vel. Verbeel jou ‘n lewe waar niks jou meer dryf en aanjaag nie, maar tog ‘n lewe waar jy doen wat jy moet en selfs die sweet teen jou voorkop kan geniet. ‘n Lewe waar jy meer word, nie minder nie.
Dit wat Henry David Thoreau so mooi saamvat met: “Wealth is the ability to fully experience life.”
Recent Comments