Ek wil vandag vir almal wat hier lees vra om vir ‘n oomblik te stop. Stop met dit waarmee jy besig is – veral dit wat jy tans besig is om vir jouself te vertel – jou innerlike gesprek met jouself. Hoekom vra ek jou om te stop om met jouself te praat?

Want ongelukkig is meeste mense se innerlike dialoog negatief en krities. Meeste sulke gesprekke is gevul met selfverwyte, beskuldigings en oordeel. Soveel so, dat indien enigiemand dieselfde gesprek met ‘n ander sou hê, daar ‘n lastersaak sou volg.

Daarom my versoek, stop. Hou op om jouself te weeg en dan te lig te bevind. Wees sagter met jouself. Vergewe jouself. Wees lief vir jouself. Hoekom?

Want dit wat binne jou leef bepaal uiteindelik jou werklikheid. En as jy jouself nie kan vergewe of aanvaar nie, hoe sal jy dit vir ander kan doen? Al wat gebeur is dat jou self-oordeel en selfhaat oorspoel in uiterlike kritiese, venynige en veroordelende gedrag. En sodoende skep jy jou realiteit. Wat beteken jy sien jouself in alles en almal.

Daar is ‘n klomp ‘stories’ wat jy glo as waar, maar dit is eintlik net ‘n gevoel van sekerheid wat jy aangeneem het as die waarheid. En deur vas oortuig te wees van hierdie stories oor jouself as waarheid, leef jy nou vanuit hierdie “waarheid”, sonder om dit ooit te bevraagteken.

Hierdie stories en oortuigings rig jou lewe en bepaal jou besluite en optredes. Dit is asof jy vergeet het dat jy stories het, maar dat dit nie jou stories is nie. Want stories is gebaseer op jou herinneringe. En hoe onbetroubaar is herinneringe nie.

Ons onthou selektief, ons onthou emosies en ons onthou die ‘storie’ soos ons dit onthou. Nie noodwendig die realiteit van wat gebeur het nie. Om wys te wees is dus om bewus te word van hierdie “stories”. Hoekom?

Wel, omdat jou keuses en besluite op jou verstaan van dinge gegrond is, en sodoende ook jou emosies en gemoedstoestande in hierdie oomblik bepaal. Daarom is dit so belangrik om bewus te wees van hoe jy kyk, eerder as na wat jy kyk. Sekerlik waarna Henry David Thoreau verwys met: “It’s not what you look at that matters, it’s what you see.” En wat Marcel Proust so meesterlik beskryf met: “The only true voyage of discovery, would be not to visit new lands but to possess new eyes.”

Wat vir jou werklikheid is, is dus hoe jy gebeure interpreteer en nie noodwendig die realiteit wat voor jou afspeel nie. Ondersoek dit en jy sal self kan besluit of dit wat ek sê waar is. Daarom kan twee mense in presies dieselfde omstandighede wees, en een se belewenis kan dié van wanhoop wees en ‘n ander hoop.

Kan jy nou sien hoekom dit so belangrik is om “…versigtig te wees met wat in jou hart omgaan…” Om bewus te wees van hoe jy met jouself praat. Raak te sien wat jy vir jouself vertel as die storie van jy. ‘n Storie wat gevul is met valshede, ander mense se opinies, misverstande, mistastings en eenvoudig verkeerde herinneringe.

Byron Katie omskrywe dit as: “I have never experienced a stressful feeling that wasn’t caused by attaching to an untrue story. Behind every uncomfortable feeling, there’s a story that isn’t true for us.”

Die enigste weg uit hierdie doolhof gesprek van oordeel, kritiek en selfhaat is om jouself te vergewe. Selfs te vergewe vir die feit dat jy ‘n valse en skinder-storie van jouself geglo het. Om jouself, met al jou foute en tekortkominge lief te hê. Want net liefde bring meer liefde. Haat, vrees en veroordeling bring meer van dieselfde in jouself na vore.

Hierop sê Thich Nhat Hanh: “If you don’t know how to treat yourself with compassion, how can you treat another person with compassion?” Want is dit nie presies die punt nie.

Selfde punt wat Byron Katie maak met: “Every single human being is trying his best. We’re all doing the best we can. But when we believe what we think, we have to live out those stories. When there’s chaos in our heads, there’s chaos in our lives. When there’s hurt in our thinking, there’s hurt in our lives. Love thy neighbor as thyself? I always have. When I hated me, I hated you. That’s how it works. If I hate someone, I’m mistaking them for me, and solutions remain hidden.”

In die praktyk beteken dit dat wanneer jy jouself weer aanvaar, vergewe en lief het, jy jou innerlike wêreld omarm en transformeer. Let wel op, dat ek nie eenkeer gepraat het van veg, baklei of jouself probeer oorwin nie. Nee, ek verwys heeltyd na aanvaar en vergewe. Jou einste verlede en storie is dit wat jou gevorm het tot hier. Leer daaruit.

“To grow the tree of enlightenment, we must make good use of our afflictions, our suffering. It is like growing lotus flowers; we cannot grow a lotus without mud,” sê Thich Nhat Hanh.

Juis daarom is dit so belangrik om te besef dat dit eerder gaan oor erkenning en bewuswording van jou innerlike dialoog en storie, eerder as om dit te beveg of ontken. Dit is veel eerder om te aanvaar dat die “modder” die potensiaal het om jou te laat groei. Meestal is dit jou pyn wat jou beste leermeesters is. En om dit te verstaan, maak dat jy sagter met jouself werk; om na jouself te kyk met deernis.

Bewustelike aandag bring meer deernis, sagtheid en liefde in jouself na vore. En dit vloei dan uit na ander. Jy kan tog net gee en wees wat jy self het en is. En die ironie is, jy is reeds wat jy hoop om te word. “All the suffering, stress, and addiction comes from not realizing you already are what you are looking for,” sê Jon Kabat-Zinn.

Om dus wakker te word vir jouself, in hierdie oomblik, om wakker te word vir wie jy reeds is. Nie jou ego-storie, wat in essensie op jou innerlike dialoog en herinneringe neerkom. Jy is die een wat meer is as dit waaraan jy jouself deur die jare vasgebind het.

Dit vra natuurlik van jou om vreesloos jou innerlike storie te erken, te aanvaar en dan, sonder veroordeling, dit eenvoudig te laat gaan. Dit wat Pema Chödrön dalk beter stel: “The most fundamental aggression to ourselves, the most fundamental harm we can do to ourselves, is to remain ignorant by not having the courage and the respect to look at ourselves honestly and gently.”