Wat sou jy kies: die waarheid of jou geloof?

Meeste gelowiges sal natuurlik dadelik antwoord dat dit ‘n ongeldige vraag is om te antwoord, want volgens hulle is hulle spesifieke geloof en die waarheid een en dieselfde ding. Wel elke godsdiens sal hierdie aanname maak, ongelukkig stem alle godsdienste nie saam oor hierdie sogenaamde waarheid nie … inteendeel, daar is radikale en opponerende uitsprake en aannames.

Fundamentaliste in enige spesifieke godsdiens, sou per definisie nooit teen hulle geloofsoortuigings kies nie, ongeag waar of vals. Maar kom ons sê dat die gemiddelde gelowige hopelik sou sê, “Ek kies waarheid!”

Iets in die lyn van wat die Dalai Lama gesê het: “If scientific analysis were conclusively to demonstrate certain claims in Buddhism to be false, then we must accept the findings of science and abandon those claims.”

En so ‘n antwoord, hoe moeilik ook al, sou beteken meeste mense is vryer as wat hulle gedink het. Want slegs die wat werklik vry is, kan dit waarmee hulle van kleinsaf gekondisioneer is, bevraag­teken. Die hartseer werklikheid is egter dat meeste mense nie vry is nie. Hulle is gevangenes van hulle geloof waarin hulle opgegroei het. En daarom effektief blind en doof vir enigiets anders. Presies waarna Aldous Huxley verwys met: “One believes things because one has been conditioned to believe them.”

‘n Bewys hiervan is dat mense dadelik teen ander idees as waarmee hulle grootgeword het sal argumenteer, nog voor hulle eers die ander idees heeltemal aangehoor of oordink het. Dit wat George Santayana so raak stel met: “All living souls welcome only whatever they are ready to cope with; all else they ignore, or pronounce to be monstrous and wrong, or deny to be possible.”

So, kom ek stel ‘n vraag direk aan jou wat nou hier lees.

Hoe seker is jy dat wat jy vas glo as die waarheid, wel die waarheid is?

Het jy jouself al oopgestel vir die moontlikheid dat jou kondisionering, opvoeding, kultuur en geloof jou blind kan maak en dalk selfs misleidend kan wees? En dat jy maar net doen soos William James dit beskryf, “…people think they are thinking when they are merely rearranging their prejudices.”

Dit wat jy glo is heel moontlik gebaseer op vals aannames met ‘n vervaldatum wat al lank terug reeds bereik is. En jou sogenaamde sekerhede en oortuigings is nie altyd jou eie nie, maar is aan jou oorgelewer deur ouers en kultuur waarin jy grootgeword het. Het jy al so daaroor nagedink? En het jy al gewonder of dit wat jy vandag glo as universele waarheid, moontlik net een van vele tydelike en tydgebonde waarhede kan wees? Dat essensieel dit net afhang van watter kant jy enige saak bekyk, en dat jou waarheid dalk net beperkend en begrens is? Hierdie vrae kan natuurlik niemand vir jou antwoord nie. Net jyself kan dit antwoord. En dit is wat Vryheid beteken.

‘n Vryheid wat jou ook by ‘n ander antwoord kan uitbring as byvoorbeeld, vir my. Dit wat die Franse filosoof Voltaire probeer sê het met sy bekende stelling: “I may not agree with what you have to say, but I’ll defend to the death your right to say it.” Dit is waarna hierdie vryheid verwys. Hiermee saam vra hierdie vryheid van jou om braaf te wees, om bereid te wees om enige idee, gedagte, opinie, dogma of geloofsoortuiging krities te ondersoek, selfs te kan betwyfel of te weerlê. Dit wat Bertrand Russell probeer sê het met: “What is wanted is not the will to believe, but the wish to find out, which is the exact opposite.”

So, waarvoor kies jy, om ongesteurd en gemaklik te bly glo wat jy glo of om braaf genoeg te wees om die onsekere wêreld van vrydenke te betree? Ek wil afsluit met die volgende gepaste gedeelte uit die roman Love and Relativity van Rachael Wade. In die spesifieke gedeelte is die karakter genaamd Velma besig om raad te gee vir die hoofkarakter, Emma:

“Let me tell you something, honey. Fifty percent of life is others trying to push their own agenda on you – their belief system, their views, their convictions. The other fifty percent is you deciding whether or not you’re going to let them. Or if you’re going to form your own opinions.”