‘n Term wat maklik misverstaan kan word as verwysend na ‘n bonatuurlike verstaan van die werklikheid. Dit is egter glad nie Renaissance se vertolking van hierdie woord/term nie, vir ons gaan dit in essensie oor hoe om wys te leef, om diepte en sin te vind in die middel van hier en nou, die natuurlike, die elke dag lewe.

Dit op sigself is ‘n groot uitdaging vir die moderne mens, want ons leef in ‘n wêreld wat meestal oppervlakkig en kunsmatig is. Daar is juis min sin en diepte te vinde.

Dus is die groot vraag vanuit ons natuurlike en aardse verstaan van spiritualiteit: Hoe lyk iemand se lewe wat wel ‘n sinvolle en betekenisvolle lewe leef? In die Tao Te Ching is daar verwysing na die Ware Wyses: Iemand wat elke dag betree met wysheid, kalmte en liefde.

Dit is in essensie waaroor ons in Renaissance nadink. Dit waaroor ons wonder en dit waarna ons streef in elke tree wat ons gee. En dit is wat ons rig en inspireer om nie net ons eie lewe nie, maar ook die om ons ‘n beter plek te maak, en uiteindelik ‘n beter plek agter te laat wanneer ons nie meer hier is nie.

Is dit nie die eintlike doel van enige godsdiens of filosofie nie?

Daarom is dit nodig om gereeld ons self te konfronteer met hierdie diep spirituele vraag: Hoe leef ons wys in ‘n onwyse tyd, ‘n tyd van geweld, korrupsie en magsmisbruik? Wat beteken wysheid in vandag se omstandighede?

Let wel, voor ons verder gaan: Daar is ‘n onderskeid tussen wysheid en om reg te wees. Om reg te wees, is meestal konteks gebonde. Iets wat reg is vir ‘n Eskimo, is dalk heeltemal nutteloos en verkeerd vir ‘n woestynbewoner.

Alles is die heeltyd besig om te transformeer en iets anders te word. Evolusie. En juis daarom is dit nodig om nie vas te val in wat tans in ons wêreld afspeel nie. Om wys te leef vra juis van ons om vloeibaar en wakker te leef, sonder om in te koop in vandag se sienings as die enigste en onveranderde waarheid. Dis presies wat Bertrand Russell bedoel het met: “Do not fear to be eccentric in opinion, for every opinion now accepted was once eccentric.”

Maar net soos waarhede veranderend en verbygaande kan wees, net so vas staan wysheid. Wat bedoel ek met wysheid? Wysheid is die vermoë om te weet wanneer iets reg is, en wanneer dit die regte tyd vir iets is om reg te wees.

Dit is dus om die regte insig te hê en die regte oordeel aan die dag te lê. Iemand wat wys is, is nie noodwendig altyd reg nie, en iemand wat reg is, is nie noodwendig altyd wys nie.

Maar iemand wat kan leer uit sy foute, wat kan erken as hy verkeerd is, wat kan luister, leer en selfs ont-leer, is ‘n WARE WYSE. Dit is hoe die Chinese leermeester Lao Tzu ook nadink oor wysheid en die wat dit bemeester. Dis seker waarom ek soveel aanklank by hom vind, veral by sy waardevolle filosofie soos opgeteken in die Tao Te Ching.

En ja, daar is vele ander wysheidstekste wat ook groot bydraes lewer, maar ek vind die Tao Te Ching een van die helderste rigtingwysers. Dit is ‘n aardse spiritualiteit en wysheid in werking. ‘n Praktiese filosofie. En soos ons weet, is filosofie die “liefde vir wysheid.”

Iemand wat wysheid met sy lewe en dade beliggaam, is ‘n Ware Wyse. Hiermee help Lao Tzu ons, en meer as enigiets anders is sy wysheid tydloos. Hier is ‘n voorbeeld in die Tao Te Ching, vers 30:

Hy wat in die Tao wandel,
dwing nooit sy eie wil af of gebruik geweld nie.
Want vir elke aksie is daar ‘n teenaksie.
Geweld, selfs goed bedoel,
bring altyd meer geweld.

Die Ware Wyse doen sy deel,
en staan dan terug.
Hy verstaan dat geen beheer
oor die heelal uitgeoefen kan word nie.
En om enigiets te probeer oorheers
gaan teen die vloei van die Tao.

Omdat hy in homself glo,
probeer hy niemand oortuig nie.
Omdat hy in vrede met homself leef,
het hy niemand se goedkeuring nodig nie.
Omdat hy homself aanvaar,
aanvaar die hele wêreld hom.

Die Tao Te Ching (‘Die boek van die weg’) is die titel van ‘n bundel van 81 kort Chinese wysheidstekste. Dit is reeds sowat 500 jaar voor Christus geskryf. Dit is ‘n poëties-filosofiese werk van ongeveer 5000 woorde wat vir die afgelope 2500 jaar ‘n leidende rol in die Oosterse denke gespeel het. (Oosterse gevegskunste, Tai Chi, akupunktuur en die grootste deel van hulle mediese vooruitgang, feng shui, ens).

Dit is natuurlik heeltemal anders as die Christendom of die Islam, want hulle maak geen aanspraak op goddelike gesag of inspirasie nie. Dit is veel meer ‘n natuurlike en aardse spiritualiteit. “Tao” word dalk die beste vertaal met “weg” of “pad”.

Lao Tzu word beskou as die skrywer van die Tao Te Ching. Hy was ‘n tydgenoot van Confucius, ‘n ander bekende Oosterse leermeester en staatsman in die sesde eeu voor die huidige era. Mense het hierdie bundel begin bestudeer en daaruit is Taoïsme gebore, ‘n filosofie wat opgesom kan word as ‘Die weg van minste weerstand, of weg van vloei, of weg van harmonie/balans.’

Wat vir my interessant is van Lao Tzu se filosofie, is dat hy al sy wyshede bekom het uit sy waarnemings van die natuur en die lewe self. Geen bonatuurlike verstaan nie. Byvoorbeeld, hy het bevind dat, alles in ‘n delikate balans is; alles in die natuur werk saam om hierdie balans te behou. Jin/Yang (of manlike/vroulik, hard/sag). DIE DANS TUSSEN DIE TWEE IS LEWE.

Niks bestaan op sigself nie, alles is in netwerk met alles. Die netwerk van die lewe. En dit is waarna die Tao Te Ching verwys, vers 51:

Alles in die heelal is die uitdrukking van die Tao.
Die dans van materie,
die dans van vorm…

‘n Ware Wyse (dis hoe ek ‘Sage/Master’ in my poging tot ‘n vertaling dit noem), weet daarom hoe om saam te dans. Selfs te kan dans en vloei binne sy/haar eie verstaan van geslag. Want as Lao Tzu praat van ‘n wyse, is dit manlik en vroulik, geen onderskeid. Tao Te Ching, vers 59:

Die teken van ‘n wyse mens
is die vermoë om los te kan staan van eie idees.
Oop soos die hemele,
deurdringend soos die son,
ferm soos ‘n berg,
soepel soos ‘n boom in die wind,
sonder enige eindbestemming in die oog,
maak die wyse mens van enigiets gebruik
wat die lewe oor sy pad bring.

‘n Ware Wyse kan dus die tekens lees en weet wanneer om oop en soepel te wees en wanneer om deurdringend, gefokus en ferm te wees. Die geheim is egter om soos ‘n rivier te wees; vloei saam met die minste weerstand.

Dit gaan eerder oor die lewenskuns van ‘n diep lewe en hoe om saam met dit wat is, hier en nou, in harmonie te vloei saam met dit wat voor jou ontvou – as wat dit iets dogmaties of resepmatig probeer verkondig.

Eerder as baklei, veg, forseer, ontevrede wees, onvergewendgesind, hard en onbuigbaar wees. Dis die hele konsep waarop die beginsel van WU WEI (“nie-wees”) dui.

Die Chinese uitdrukking Wu Wei (uitgespreek woo way) kan direk vertaal word as “inspanningslose aksie” of “om te doen sonder om te doen” (in Engels vertaal “effortless action”). Met ons Westerse uitkyk van produktiwiteit en prestasie sal ons dalk nie heeltemal hierdie insig verstaan nie ‒ eenvoudig gestel: dat ons minder dinge moet forseer en meer vloeibaar en buigsaam moet wees.

Dit wat Byron Katie probeer sê met: “Stop forcing life to be the way you want it to be; rather accept and let it be the way it is.” En Benjamin Hoff beskryf dit in sy boek, The Tao of Pooh: “Wu Wei is something we can learn by watching water. When a stream comes to some stones in its path, it doesn’t struggle to remove them. It just goes around them. And it goes singing.”

En prakties kom dit neer op die vermoë om nie oorhaastig te wees nie, om met geduld en kalmte elke situasie te benader.

Presies waarna Leo Tolstoy (War and Peace) verwys het: “Everything comes in time to those who know how to wait … there is nothing stronger than these two: patience and time, they will do it all.”

Want dié wat nie kan wag nie, maak foute, dwing, manipuleer en forseer … en die gevolge is pyn en dikwels mislukking.

Ware wysheid is dus soos Eddie Cantor verduidelik: “Slow down and enjoy life. It’s not only the scenery you miss by going too fast – you also miss the sense of where you are going and why.”

Dit is ‘n ingesteldheid van geduldig wees en bereid te wees om te luister en te leer … oop te wees vir die vloei van die lewe, tevrede om te wag dat dinge, situasies eers ryp word. Forseer en ryp druk werk nooit nie! Daarom, ongeag die makrosituasie van die land en die wêreld waarin jy jou bevind, of die mikrosituasie van jou persoonlike lewe en verhoudings, leer om saam met dit wat voor jou ontvou te vloei.

Dit is wat Rainer Maria Rilke ook sê met: “May what I do flow from me like a river, no forcing and no holding back, the way it is with children.” Met ander woorde, iemand wat: ophou inkoop in sy of haar eie ego-storie, vrese en dramas, om op te hou om sy of haar wil te probeer afdruk op ander, ophou glo net hulle is reg of verkeerd.

Kom uit jou eie pad. Hou op dat jou “storie” van die lewe die lewe versmoor.

Die lewe word heilig daar waar mense wakker word vir dit wat is, en daar waar mense hulleself toelaat om spontaan en vry te leef. En dit is wat spiritualiteit as ‘n natuurlike krag en rigtingwyser beteken.

Kom ons bly soek, wonder, bevraagteken, vergewe. Kom ons lewe ligter en vloei meer, kom ons transformer ons eie lewens en sodoende ook ons wêreld waarin ons leef.