“So wat glo jy nou eintlik?,” vra ‘n jongvrou my na ‘n Sondag byeenkoms van Renaissance.

“Ek bedoel, glo jy in God?”

“Met God verwys jy seker na die Bybelse verstaan van God?,” sê-vra ek versigtig.

“Ja natuurlik, die enigste ware God!,” antwoord sy driftig.

“Dit is jammer dat ons, veral hier in Suid-Afrika oor geslagte en eeue heen, net blootgestel was aan die teïstiese godskonsepte of soos jy dit ken ‘die God van die Bybel.’ En sonder dat jy dit besef, jy grootgeword het met ‘n sekerheid, wat dit nou byna onmoontlik maak om in enige ander kategorieë oor God te dink en te praat…”

Die jongvrou hou haar hand op om vir my te wys ek moet stil bly. Dan maak sy haar keel skoon en sê stadig en afgemete, “Dankie, dit is al wat ek wou weet … jy en hierdie byeenkomste is vir ateïste en ongelowiges.”

En dan staan sy op en loop vinnig weg.

Wat ek haar graag sou wou antwoord, maar nie die kans gegee is om te doen nie, het ek hier geskrywe. Miskien lees sy dit, heel waarskynlik nie, maar in elk geval hier is van my gedagtes.

Wat beteken teïsme?

Wel, teïsme is die verstaan dat God ‘n aparte persoon (gewoonlik manlik) is, wat bo in die hemel iewers op sy troon sit. ‘n Persoon of wese met menslike emosies soos woede, jaloesie, haat, hartseer en spyt. Van dáár af maak hy met ons kontak en straf en beloon hy ons. Die verskil tussen die deïstiese en teïstiese godsbeeld is dat in eersgenoemde God gesien word as onbetrokke. Hy het die heelal geskep en die natuurwette ingestel en toe onttrek. Daarteenoor is die teïstiese God wel buite, maar is betrokke en in verhouding met sy skepping.

Maar met die ontwikkeling van die wetenskaplike wêreldbeeld waar daar nie meer ‘n bo en onder in die heelal is nie en waar daar duidelike bewyse is van ‘n evolusionêre ontwikkeling oor miljoene jare, word dit toenemend moeilik vir denkende mense om nog aan ‘n teïstiese God te glo.

Dink maar net aan hoe geloofstradisie buite die Christendom ons kan help met ‘n nuwe verstaan. Byvoorbeeld die siening wat die Chinese Taoïste (spreek dit uit Daoïste) al eeue terug gehad het: “The ultimate was not a personalised god, therefore, but a transcendent mystery that could never be plumbed,” of Boeddha wat geen tyd aan abstrakte formulerings rondom ‘n persoonlike God toegelaat het nie.

En natuurlik kan ateïste ons hierin help. Ek het groot waardering vir moderne ateïste soos Richard Dawkins, Sam Harris, Stephen Hawking en Christopher Hitchens. Want hulle is en was baie waardevol in die dekonstruksie van sogenaamde ou godsdienstige sekerhede. Maar dit beteken verseker nie dat ek oortuig is van die sekerhede waarmee hulle werk nie. En in hulle styl en aanslag is hulle ongelukkig net so onverdraagsaam versekerd en fundamentalisties soos die gelowiges wat hulle kritiseer.

Miskien moet die ateïste net weer gaan kyk na die beginsels waarop die wetenskap in geheel funksioneer. Dan sal hulle sien dat ‘onsekerheid’ die grondbeginsel van die wetenskaplike metode uitmaak – dit wat die voortdurende soeke stimuleer. Dara O’Brian verwoord dit so: “Science knows it doesn’t know everything. If it knew everything, it would stop.” Maar ek is dit wel eens met hulle as dit kom by hulle aanval op die teïstiese Godsbegrip.

So dan was die jongvrou nie heeltemal verkeerd met haar aantygings teen my nie. As dit gaan oor ‘n Teïstiese God dan is ek sekerlik ‘n a-teïs.

Wat beteken ateïsme?

Maar om werklik ateïsme te verstaan, moet daar besef word dat ateïste nie so seer net ‘n algemene verwerping van die bestaan van God of gode voorstaan nie. Hulle is eerder ‘n spesifieke verwerping van ‘n teïstiese Godsbeeld. Soos die evolusionêre bioloog Richard Dawkins dan ook in sy bekende boek The God Delusion skryf, dat hy nie ‘n ateïs is nie maar eerder ‘n a-teïs. (A-teïsme beteken vir hom letterlik anti-teïsme, soos ek myself ook beskou.) En vanuit dié standpunt veroordeel hy godsdienste.

Hierby sluit Karen Armstrong aan, in haar boek The Case for God: “Historically atheism has rarely been a blanket denial of the sacred per se, but has nearly always rejected a particular conception of the divine. At an early stage of their history, Christians and Muslims were both called ‘atheists’ by their pagan contemporaries…”

En hiermee is ek eens, want ek glo ook nie meer in ‘n teïstiese God nie. Biskop John Selby Spong slaan die spyker op die kop met: “I dismiss the supernatural, external God of theism. Theism and God are not the same. Theism is but one human definition of God.”

Binne hierdie verstaan van ateïsme sal ek my vroeëre gespreksgenoot wel dit wil toegee, dat ek ‘n a-teïs is, maar wat ek nie kans gekry het om te verduidelik nie, was dat as ‘n spirituele denker is ek oop vir ander moontlikhede om na te dink oor die bestaan van die goddelike. Wel met ‘n oop en self onsekere gemoed, want enige sekerheid, teen of vir God se bestaan, is volgens my oneerlik.

Let wel, met die term ‘onsekerheid’ verwys ek nie na ‘n passiewe, oningeligte of besluitlose toestand nie. Nee, ek verwys spesifiek na die ingesteldheid van nuuskierigheid (die behoefte om meer uit te vind), sowel as ‘n kritiese ingesteldheid om eie sekerheids-konstruksies te bly bevraagteken. Dalk dit waarna Bertrand Russell verwys met: “What is wanted is not the will to believe but the wish to find out.”

Want kritiese selfdenke impliseer om gereeld buite die vaste en gegewe sekerhede te dink; die behoefte om self te beleef en ontdek.

Hoekom is dit nodig? Om sin te kan gee aan alles wat ons verstaan van onsself, ander mense, die wêreld en die kosmos – dat daar, buite ons bevattings-vermoë, dalk ‘n ontvouende geheim is wat ons God kan noem. Dit is tog die uiteindelike doel van hierdie soeke. En hierdie soeke na sin en betekenis, is my definisie van spiritualiteit.

Daarom het ek geen probleem om vrylik van die mistieke tradisies (o.a. die Christelik Gnostiese, die Soefies van Islam), Boeddhisme en Oosterse denke, sowel as die wetenskap (in geheel), filosofie, sosiologie, kunste en sielkunde, gebruik te maak nie. Elkeen is ‘n voertuig wat gebruik kan word in die verkenning van die vele landskappe.

Daarom, sou ek graag vir die jongvrou wou sê dat ek ek eerder vanuit my liefde vir filosofie as ‘n haat vir godsdiens werk. Dit gesê, nooit mag ons ons koppe afskakel om vir ons harte plek te maak nie, want dan maak ons geloof dom, en dom geloof is bygeloof. Ons moet alles bly ondersoek wat aan ons voorgehou word as die enigste waarheid.

‘n Nuwe ruimte

En ek sou graag ook die kans wou hê om vir die jongvrou te verduidelik dat Renaissance nie ‘n “Kerk” is nie, dat ons slegs ‘n veilige ruimte is waar ons verskillende mense met verskillende sienings, toelaat om te wees. En dat selfs sy welkom is. Maar met die voorwaarde dat daar met respek vir elkeen se reis en denke omgegaan word. En dat daar eerlik elkeen se verstaan of dit ‘n ou verstaan en of nuwe verstaan is, saam te kan bly soek na sin en betekenis in die hier en nou (spiritualiteit).

Sodat ons saam ‘n beter kans kan hê om ietsie van die groot Geheim te ontdek.

Dalk is Osho reg met: “The new man I talk about, will not be Eastern or Western. It will not believe in this world only or that world only, it will believe in the totality of man. It will believe in the body of man; it will believe in the soul of man; it will believe in the spiritual. In fact, the new humanity will think spiritually and materiality as two aspects of one phenomena.”

Niks mag verabsoluteer word nie. Slegs dan kan daar werklik nuwe horisonne geskep en verken word. Want of jy ‘n sterk opinie het of nie, elkeen van ons moet gedurig die moontlikheid ondersoek dat ons verkeerd kan wees. En dit noem ‘n mens: om spiritueel eerder as godsdienstig te wees.