Ons lees in die Gnostiese geskrif, die Thomas Evangelie in vers 7: “Jesus sê: Geseënd is die leeu wat deur die mens geëet word, want die leeu sal ‘n mens word. Maar vervloek is die mens wat deur die leeu geëet word, want die leeu sal ‘n mens word.”

Die “leeu” hier verwys na die ego-kompleks of valse self. En “eet” verwys na integrering. En indien die leeu nie deur die Ware Self geïntegreer word nie, sal die leeu (ego) oorneem. En soos Dr. Piet Muller altyd sê, wie van ons ken nie mense wat volkome deur hul ego’s oorgeneem is nie, kyk maar net in die spieël. Dit is redelik maklik om te sien hoe lyk mense wat deur die “leeu” verorber is. Hulle word deur hul pyn gedryf om meer pyn te skep. Dit wat ons soms na verwys as drama. Almal van ons ken diegene wat altyd moet drama skep. Oral waar hulle gaan is daar altyd een of ander konflik, spanning of angs teenwoordig. En hulle is altyd onskuldig en kan nie verstaan hoekom alles altyd met hulle moet gebeur nie. Slagoffers van hulle eie skepping. Daarom verwys die Thomas Evangelie na die belangrikheid om eers bewus te word van die leeu of ego, voordat daaraan iets gedoen kan word.

Thomas Merton (1915-1968), die Franse Trappiste monnik, sluit hierby aan deur te waarsku dat indien iemand nie bewustelik wakker word vir sy of haar ego (valse self) nie, so ‘n mens deur die ego gedryf en beheer sal word. En dit is die definisie van lyding.

Bewustheid of wakker word is dus ‘n baie belangrike eerste stap. Net soos enige ander verslawing wat die mens bind, moet dit eers erken word as ‘n binding voordat bevryding kan plaasvind. Anthony de Mello, Jesuïete priester (1931-1987) verwys in sy besondere boek, Awareness, na hierdie bewus word as: “You feel pretty strong about certain things and you think it is you who are feeling strongly about them, but are you really? It’s going to take a lot of awareness for you to understand that perhaps this thing you call your “self” is simply a conglomeration of your past experiences, of your conditioning and programming.” Die gevoel van “ek” lê dus ten nouste opgesluit binne jou ego. En alles wat jy waarneem en ervaar word gefiltreer deur jou ego-storie.

Nou, volgens die sielkundige Carl Gustav Jung (1875-1961) het elke mens ‘n sentrale ego-kompleks. Daarmee bedoel hy dat elkeen van ons, soos ons blootgestel is aan die wêreld om ons, ‘n identiteit geskep het om dit te kan interpreteer en verstaan. Hierdie identiteit het met tyd ‘n blinde heerser van ons gedrag geword. En die ego-programmering het ‘n lewe van sy eie gekry. En so ontstaan die gevoel van ‘subjektiwiteit’ of ‘ek-heid’ binne ons.

Dis die ‘Ek’ waarvan ‘n mens bewus is. Dis die “ek” wat die uiterlike wêreld ervaar maar dit is ook jou innerlike prentjie van jouself. Deur ‘n kombinasie van waarneming en emosionele reaksie is die ego ‘n soort van tussenganger tussen jou sosiale omgewing en jou persoonlike onbewuste. Jy het dus ‘n storie geskep, saamgeflans deur jou ondervindings en ervarings en so ‘n EK-storie geskep. En nou glo jy, dit is wie jy is. En jy hou daardie EK-storie in stand deur dit heeltyd oor te vertel, aan jouself en aan ander. Byron Katie slaan dus die spyker op die kop as sy sê: “You are what exists before all stories.” Jy is meer as wat jy van jouself dink of sê.

In Jungiaanse terme is die ego-kompleks dus ‘n dun lagie bewussyn wat op ‘n groter onbewuste inhoud dryf. Van die grootste deel van jouself, jou Ware Self – “what exists before all story” – is meeste dikwels heeltemal onbewus. Want solank as wat jy jou ego-persoonlikheid as die werklike “ek” ervaar, is jy ook blind vir sy werking binne jou. Die spirituele weg wat die valse self of ego kan ontbloot is dus die weg van ‘n bewustelike lewe. Die Amerikaanse neurowetenskaplike, Sam Harris stel dit so: “The true discipline is to remain committed, throughout the whole of one’s life, to waking up from the dream of the self.”

Hoekom is dit ooglopend dan so moeilik vir mense om hul ego (valse self) te herken en dan te kan oorwin? Hoofsaaklik omdat ‘n mens geen direkte konfrontasie met die ego ooit kan wen nie, want elke oorwinning oor die ego is inderwaarheid ‘n oorwinning vir die ego self. Want die hele konsep van wen is ‘n ego-konsep. Nee die spirituele weg om die ego te vernietig, is om eenvoudig net wakker te word vir die feit dat die ego ‘n illusie is wat jy self geskep het. Jy hou juis die ego in stand deur daarteen te wil veg. Want sien, die ego bestaan nie, jy moet hom eenvoudig net laat gaan. Dit is net jou eie denke, patrone, sekerhede en innerlike inkoop op die ego wat hom in stand en “lewend” hou. Dit waarvan die Boeddhistiese skool Dzogchen praat: “Being able to stand perfectly free of the feeling of self is the start of one’s spiritual journey.” Want dit is ‘n daaglikse saak, om die illusie te laat oplos, om jou gereeld bloot te stel aan die lig van die Ware Self. Om doelbewus na binne te gaan en jou motiewe en sogenaamde sekerhede te herbesoek.

Want essensieel is spiritualiteit in die eerste plek, vryheid van die diktatorskap van ‘Ek’ en ‘Myne.’ Dit is ego. Dit is vals. Dit is lyding. Die Ware Self is onbegrens, vry, vrede, genadig en liefde. Die Ware Self is die een wat kyk, die waarnemer.

Beste saamgevat deur Pema Chödrön: “You are the sky. Everything else – it’s just the weather.”