Daar is plekke in hierdie wêreld wat nie hier of daar is nie, nie werklik of denkbeeldig nie. Dit is tussen-in plekke wat jy moeilik vind, en moeilik by kan bly, soos onder ‘n wildevye boom in Indië waar ‘n gewone soeker sy pad vind of in die woestyn by ‘n doringbos wat brand en nie uitbrand nie.
Dit is hier waar dinge gebeur, moeilik verwoordbare dinge, kreatiewe dinge. Jy leer dinge hier wat jy op geen ander plek kan leer nie – soos hoe die wêreld is, en wat en wie jy is, en wat jy met jou lewe moet doen. Miskien was jy ook al by só ‘n plek in jou lewe, dat jy moet stop en afsluit, of op ‘n nuwe paadjie moet loop waar daar nog nie eers ‘n pad is nie.
Skielik val verlede, en hede en toekoms vir jou in perspektief. Jy staan voor jou Rubicon. En hier, in o.a. Eksodus 3, is Moses s’n vir ons opgeteken.
“Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ‘n priester van Midean, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het. Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ‘n vlam binne-in ‘n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. En Moses sê vir homself: “Ek wil tog ‘n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?” Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.” Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond…”
Groot vrae kom hier aan die orde: Wat is jy besig om met jou lewe te maak? Wat soek jy agter die skape, Moses? Wat doen jy in hierdie land, verhouding, werk…? Het jy enigsins ‘n funksie in Suid-Afrika? En in ‘n geglobaliseerde wêreld?
Dis hoekom Moses se storie ons só aangryp, omdat ons soms só ontuis, so vreemd voel, in hierdie wêreld, in hierdie nuwe Suid-Afrika.
Die eerste ding wat in hierdie tussen-in plekke se brandende oomblikke gebeur, is dat die goddelike se stem eg hoorbaar word. Soos ‘n wind waai hierdie stem in ‘n droë woestyn en vind stembande in die droë takke van ‘n doringbos.
Die stem is naby, in ons, om ons. En hier ervaar Moses sy god nie soseer as ‘n persoon nie, maar as ‘n aspek van die werklikheid wat hom aanspreek. Ons noem dit “Panenteïsme,” die krag van die lewe wat voortstu, ten spyte van die vlamme wat brand.
En hoe bekend is hierdie stem nie, “Ek is die Stem van jou voorvaders, die Stem van Abraham, die Stem van Isak, die Stem van Jakob.” Hier kon netsowel gestaan het, “Ek is die Stem van Abel, van Zelda, van Anna wie se man haar slaan, en klein Sipho van Mamelodi wat mank loop weens die messteek toe hulle die Taxi gekaap het, van Karel wat moes sterf toe hy sy vrou op die plaas moes beskerm.” Hierdie Stem is die bekende Stem wat vir rondlopers ‘n blyplek gegee het, en moedeloses ‘n nuwe toekoms.
En wanneer Moses hierdie stem hoor, ervaar hy God as ‘n kreatiewe krag wat die lewe nuut maak vir hom. Luister (verse 3-9): “Ek het die ellende van my volk … gesien en hulle noodkrete … gehoor.
Ek het aanskou … hoe Egipte hulle verdruk.”
En vandag sou ons dalk hierdie ervaring kon vertaal, en hoor, “Ek weet van die mense wat in vuilgoedsakke rondkrap voordat die vragmotors dit kom wegneem; ek hoor die vrees en angs gille van ‘n vrou wat per minuut in Suid-Afrika verkrag word; ek sien die trane by die begrafnisse van die een mens elke halfuur wat vermoor word.”
Dit is presies wat die stem vir my is: dat ons op die een of ander manier in ons woedende stryd om te oorleef, iets soos empatie, iets soos deernis, vir die verloorder, die onderdrukte, die swakke ontwikkel – op een of ander manier die lewe bevorder.
In Moses se verhaal sê die Stem nie vir hom, “Ek sal julle help as jy die regte geloof oor my huldig” nie. Die stem sê bloot vir Moses en vir ons, “Daarom stuur ek jou na die Farao toe sodat jy my volk kan bevry.”
Hoor jy dit? Die stem wil deur ‘n hakkelende en lafhartige Moses met die wêreld gaan praat. Die stem praat nie noodwendig deur mag en sukses nie, nee die stem praat deur sagtheid, vergifnis en liefde.
Om die waarheid te sê, dit is wat spiritualiteit vir my is: dat ons ons stem herontdek, opnuut hoor, om in die klein en die groot krisisse van ons bestaan vir ons sin te help ontdek. Vir elke mens kan dit iets anders wees.
Jy probeer sin maak van die skerwe van jou stukkende drome; jy huil elke dag oor hoe dinge anders kon gewees het; jy is spyt oor mooi dinge wat vertrap agter jou lê … dis tyd vir ‘n Braambos ervaring om die stem, jou stem te hoor, in ‘n gedaante, in ‘n vorm, in ‘n metafoor, op ‘n manier wat net jy van weet en sal verstaan.
Dit vat moed om tussen-in plekke te trotseer, en ‘n mate van dwaasheid om jou veilige ruimtes te verlaat en die woestyn aan te durf. Dit kan vandag of môre of hierdie week met jou gebeur: as jy ‘n baba se lag hoor, of iewers in die natuur sit en die voëltjies hoor, of iemand sien wat vir jou glimlag, of na die geweld in die agtuur nuus luister, of ‘n donderstorm.
Jy raak bewus van wat verkeerd is en hoor die stem, “Ek stuur jou.”
En só begin ons reageer.
Op een of ander eenvoudige manier begin ons om ‘n verskil te maak, in die klein dingetjies, omdat ons in liefde uitreik na ons omgewing. Want net liefde is groot genoeg om al die pyn van hierdie wêreld te omvat.
Recent Comments