In die Bybel, Spreuke 4 (vers 23) staan daar geskrywe: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”
Hierdie gedeelte se bedoeling met “hart” is duidelik nie hier verwysend na die menslike hart wat ‘n spierorgaan is, wat verantwoordelik is vir die pomp van bloed deur die bloedvate deur middel van herhaalde, ritmiese sametrekkings nie.
Dus sekerlik duidelik vir almal dat “hart” hier vir die spreuke skrywer ‘n simboliese gebruik van “hart” is; dit wat verwys na die ‘plek waar denke en emosies plaasvind.’ En ons weet vandag dit is die brein of anders gestel, die kop.
Nou voor ons verder gaan, is dit net weer nodig om onsself te herinner aan die ongelooflike “rekenaar” tussen ons twee ore.
Die volwasse brein het ongeveer 10 tot 15 biljoen neurone wat duisende konneksies met ander breinselle maak. Daar is ongeveer 60 000 km senuweefsels in die brein. (Van Pretoria tot in die Kaap is sowat 1500 km, kan jy jou indink hoe lank 60 000 km is?) En die wonder is dat die menslike brein so groot is soos twee vuiste wat teen mekaar gehou word.
Een neuron kan ongeveer 50 000 boodskappe per minuut hanteer. Miskien moet ek maar hier ophou, want vir meeste van ons is dit te veel inligting.
Het jy geweet dat die nuutste navorsing bereken dat die gemiddelde persoon slegs 0,1 tot 5% van sy brein gebruik?
Met hierdie instrument, die brein, en met ons sintuie, betree ons die lewe elke dag: Elke dag beleef jy duisende emosies, vra honderde vra, sien kleure, ruik en proe, hoor geluide, raak aan honderde verskillende dinge, bedink, verwonder sonder om een keer te vra, maar hoe gebeur dit alles?
Hierdie proses gebeur outomaties, amper soos asemhaling. Jy dink, as voorbeeld, nooit aan jou asemhaling nie. Totdat jy uitasem raak of nie asem kan haal nie.
Nou, dit is neurologies onmoontlik om ‘n emosie te beleef voordat jy nie eers die gedagte gedink het nie. Jy sal nie hartseer kan voel as jy nie eers hartseer gedagtes gedink het nie. Dus kan ‘n mens sê dat hoe jy dink bepaal hoe jy voel.
In die lig van hierdie verstaan begin die spreuke skrywer se woorde al hoe duideliker word, kom ons lees dit weer: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”
Die gedeelte kon dus net sowel gewees het: “…wees versigtig met wat in jou kop aangaan, want dit bepaal jou hele lewe.”
Dit wat binne jou gedagtes leef bepaal jou werklikheid. Dit is soos om deur gekleurde bril-lense te kyk. Wat jy sien is nie noodwendig die kleur van die omgewing se bome en gras nie maar eintlik net jou bril-lense se kleur.
Daar is ‘n klomp ‘oortuigings’ wat jy glo as waar, maar dit is eintlik net ‘n gevoel van sekerheid wat jy aangeneem het as die waarheid. En deur vas oortuig te wees van sekere dinge as waar, leef jy nou vanuit hierdie “waarheid”, sonder om dit ooit weer te bevraagteken.
Hierdie waardes en oortuigings rig nou jou lewe en bepaal jou besluite en optredes. Dit is asof jy vergeet van die brille wat jy dra.
Om wys te wees is dus om bewus te word van jou “brille”. Hoekom? Wel, omdat jou keuses en besluite op jou verstaan van dinge gegrond is en sodoende ook jou emosies en gemoedstoestande. Daarom is dit so belangrik om bewus te wees van hoé jy kyk, eerder as na wat jy kyk.
Steven Covey het dit so gestel: “We must look at the lens through which we see the world, as well as at the world we see, and that the lens itself shapes how we interpret the world.”
Want net soos die spreuke skrywer gewaarsku het, is dit veel meer jou binne-wêreld wat jou elke dag lewe inkleur as enige ander faktore.
Wat vir jou werklikheid is, is dus hoe jy gebeure interpreteer en nie noodwendig die realiteit wat voor jou afspeel nie. Ondersoek dit en jy sal self kan besluit of dit wat ek sê, waar is.
Daarom kan twee mense in presies dieselfde omstandighede wees, en een se belewenis kan dié van wanhoop wees en ‘n ander s’n die van geïnspireerheid. Kan jy nou sien hoekom dit so belangrik is om “…versigtig te wees met wat in jou hart omgaan…” Om bewus te wees waaraan jy heeldag dink. Presies wat Earl Nightingale ook probeer sê het met: “Your life moves in the direction of your currently dominant thoughts.
Om tyd te spandeer om jou binne-wêreld te besoek. Om te mediteer. Watter vorm jou meditasie ook aanneem; daaglikse wandeling, joga, Tai Chi, alleen sit en koffie drink of net sit, maak nie saak nie. Wat saak maak is dat jy dit doen. Wanneer gaan jy begin?
Recent Comments