Die vraag wat ek seker die meeste gevra word, is of ek nog bid.
En my standaard antwoord is dat ek wel nog bid. Dit gesê, is my verstaan van bid, heeltemal anders as die idee van bid waarmee ek grootgeword het.
Kom ek verduidelik.
Baie mense wat soos ek in ‘n Christelike huis grootgeword het, het grootgeword met bid. Ek meen – voor ek gaan slaap het, net na ek opgestaan het, voor elke ete en na elke ete is daar gebid. My skooldae was ook gevul met gebed. Enigiets wat geopen of afgesluit word, was deur gebed voorafgegaan. So ook tydens my diensplig- en studiejare.
Ek was geleer dat gebed ‘n paar doelwitte het, o.a. ‘n manier van dankie sê vir God vir Sy sorg en genade. Maar ook om Sy beskerming en seën te verkry. Natuurlik was gebed ook die kontak met die ‘Skepper van alles’ en daarom ‘n belangrike middel tot vra (baie keer pleit) vir die dinge wat ek graag wou hê of gevoel het ek het nodig.
Soos ek egter ouer geword het, het ek algaande begin verstaan die saak is nie so eenvoudig nie. Ek het toenemend ‘n bewustheid van lewensironie, onregverdigheid en die vele teenstrydighede van die lewe begin besef. En dit het nie lank geneem nie voordat ek tot die insig gekom het dat gebed nie werk soos ek geleer is nie. Om die waarheid te sê, moes ek aan myself erken dat gebed glad nie werk soos ek geleer is nie.
Nee, as ek byvoorbeeld nie vir ‘n eksamen genoeg gestudeer het nie, het gebed nie gehelp nie. Ek moes self inspring en iets doen, anders gebeur niks nie. Gebed het op die meeste dalk vir my ‘n kalm gemoed gee. Ek moes leer dat ongeag of ek bid of nie, seisoene sal kom en gaan. Geliefdes sal sterf (baie keer onverwags, onregverdiglik en selfs wreed). Siekte sal kom en gaan, hartseer en pyn sal deel wees van my bestaan. En gebed sal niks hieraan verander nie.
Ek sal wen en verloor, sukses en mislukking, vreugde en hartseer ken, ongeag of ek bid of nie.
En soos my verstaan van die lewe en van wie God is verander het, het ook my verstaan van gebed verander.
Want hoe jy die lewe en God verstaan, bepaal direk hoe en wat gebed vir jou is. Dink so daaraan: Indien God vir jou ‘n wese is wat daar ver bo die wolke op ‘n troon sit en soos ‘n koning lyk (‘n teïstiese Godsbeeld) spreek dit tog vanself dat gebed nie anders kan as om ‘n baie spesifieke soort kommunikasie met hierdie koninklike wese daar buite en daar bo iewers te wees nie.
En in so ‘n geval word gebed dan meestal ‘n poging om die aandag en goedkeuring van hierdie sogenaamde koning te kry. Daarom is sekere rituele en onderdanige gebruike so nodig.
Want net soos in die antieke tye, kon geen gewone burger voor ‘n koning verskyn sonder om onderdanig en kruipend te wees nie. En daarom moes die koning heeltyd geëer, geprys en lof toegeswaai word. Hy moes gevlei word, sodat hy in ruil jou versoek gunstig sou oorweeg. Daarom lyk gebed vandag nog vir biljoene gelowiges (ongeag of hulle Christene, Moslems, Jode, Hindoes ens. is) presies so.
Maar omdat my verstaan verskuif het en ek nie meer met so ‘n teïstiese Godsbeeld werk nie – en ook nie die lewe meer sien as ‘n uitgewerkte plan of ‘n tipe koninkryk waarin ek deel van die kroon van die skepping uitmaak nie – het logies, my verstaan en beoefening van bid, ook heeltemal iets anders geword.
Want anders as vroeër, sien ek myself nie meer buite die natuur nie – nee, ek’s deel daarvan. En die belangrikste ontdekking wat ek in dié verband gemaak het, is dat daarom ware lewe is: om wakker te wees in die ewige nou. En natuurlik, dat my verstaan van die goddelike groter is as enige prentjie of idee wat ek as mens kan uitdink.
Daarom het gebed vir my ‘n ‘wakker word’ vir dit wat is, geword. Wakker word vir myself, my innerlike wêreld van gedagtes en emosies. Wakker word vir dit wat voor my in hierdie oomblik afspeel.
Daarom is bid vir my om te lewe met ‘n bewustheid vir my asem. En om te weet my asem en die Lewe (ook genoem God) se asem is dieselfde asem. Dalk meer akkuraat is om te sê God of die Lewe, haal deur my asem. Deur so te leef, word elke oomblik heilig, elke asemteug ‘n gebed. Soos Kahlil Gibran dit stel: “Your daily life is your temple and your religion. Whenever you enter into it, take with you your all.”
En vanuit hierdie verstaan word gebed nou vir my ‘n onophoudelike en ewig bewustelike manier van leef. ‘n Aanvaarding van wat is. ‘n Saam vloei in die rivier van die lewe. Sonder om dit wat is, teen te staan, te probeer manipuleer, daarvan weg te vlug of dit te wil verander. En dit is wat gebed is: om wakker te bly in die ewige nou.
Om eerstehands te lewe. Om my eie lewe en myself, vierkantig in die oë te kan kyk. En juis daarom vind ek dat die Zen verstaan van gebed (Zazen, ‘om net te sit’) presies my verstaan verwoord. Dat gebed veel meer is as ‘n vraelysie of prysgesange. Nee, gebed is ‘n manier van lewe. ‘n Manier van wees.
Die Zen leermeester Shunryu Suzuki verduidelik dit so: “The more you practice zazen, the more you will be able to accept the moment as your own, whatever it is.”
Want om doelbewus wakker te begin lewe is om in essensie jouself oop te stel vir die Geheimenis wat rondom en in jou is. Om jouself te laat oorweldig word deur die groot Alles.
Om beheer oor te gee. Om jou klein self te verloor en jou ware Self te vind. Of soos Suzuki dit verder stel: “What is true zazen? To discover your true nature. That is to say, your own true nature resumes itself.” Want is dit nie wat gebeur wanneer ‘n mens oop, wakker en direk begin lewe nie? Jy word meer jouself. En dit beteken dat jy nie meer bid nie, jy word gebid. Jy is die antwoord op jou en almal se gebede.
Maak dit sin? Seker nie.
As dit wel sin maak, sal jy ook die woorde van Dogen, die stigter van die Soto Zen tradisie verstaan: “If you cannot find the truth right where you are, where else do you expect to find it?” En dit is hoe ek bid. Dit is my lewe. En my lewe is my gebed. En my gebed is om hier en nou te leef.
Recent Comments