Met ‘n skok besef ek dat ek nou presies so oud is soos Nelson Mandela was toe hy gevonnis is om uiteindelik vir sewe-en-twintig jaar opgesluit te word.
Hoekom dit vir my so ‘n skok is, is seker omdat dit my laat besef dat ek dalk glad nie so braaf is soos Mandela toe was nie. Want alhoewel ek passievol voel oor idees soos gelykheid en vryheid, weet ek regtig nie of ek bereid sou wees om my lewe daarvoor op te offer nie.
Want dit is wat hy gedoen het. Hy was bereid om vir sy idees te sterf. Daarom is en sal hy altyd vir my ‘n held en rolmodel wees.
Ek wil egter nie net oor hierdie opoffering van my held skryf nie, ek wil eerder oor die transformasie-moontlikheid van elke mens nadink. Dink so daaraan, die Nelson Mandela wat as een-en-sewentig-jarige uit die tronk gestap het, het hemelsbreed verskil van die Nelson Mandela wat op vier-en-veertig daar ingestap het.
Hoe het hierdie vurige, emosionele, bitter, haatvolle rewolusionêr so ‘n deurdagte, gebalanseerde en beheerste staatsman geword? Iemand wat kon sê: “As I walked out the door toward the gate that would lead to my freedom, I knew if I didn’t leave my bitterness and hatred behind, I’d still be in prison.”
Wel, hy was deur ‘n smeltkroes wat hom gelouter het en alles weggebrand het wat vals en negatief was. Hoe dan anders, want om vir sewe-en-twintig jaar opgesluit te wees in ‘n tronk waar jy daagliks moes kies vir lewe of sterwe, gaan jy of vernietig of gesuiwer word.
In die tronk moes Nelson Mandela al sy reaksies temper. Want ‘n gevangene het maar oor min dinge beheer. Die een ding wat hy egter kon beheer – wat hy moes beheer – was sy besluit waarop om te fokus. Niemand kon dit van hom wegneem nie.
Ja, uiterlik kon ‘n gevangene se persoonlike ruimte beheer word. Ek onthou toe ek die eerste keer in Mandela se voormalige sel op Robbeneiland ingestap het, dit het my regtig ontstel. Daardie sel was nie groot genoeg vir enige mens nie. Die toerleier het aan ons verduidelik dat wanneer Mandela gelê het, hy nie eers homself kon uitstrek nie.
Dit was dus duidelik dat die gevangenis hom letterlik sowel as figuurlik kon beheer. Daar was duidelik geen plek vir oortollige bewegings of emosies nie; alles moes terug gesnoei word. Die twee waarhede wat hy eenvoudig moes leer, of sterf, was eenvoud en geduld.
Maar soos ons weet kan ‘n lewe van eenvoud en geduld jou juis help om jou fokus op die oomblik te plaas. Iets wat Nelson Mandela vinnig moes besluit, as hy die lewe in die tronk wou oorleef. Geen drome oor môre nie, want daar was geen waarborge dat daar ‘n môre sou wees nie. Een tree op ‘n slag, dis al wat hy gehad het. Dit kon hom moedeloos, depressief en hopeloos gemaak het – of hy kon sy fokus doelbewus geplaas het op nóú.
Dit is natuurlik juis hierdie keuse om in die nou te leef wat Nelson Mandela gehelp het om wakker te word vir sy ware self. Want die ego (valse self) kan eenvoudig nie oorleef in die daglig van die bewuste nie.
“A Buddha is one who lives from moment to moment. Who does not live in the past, who does not live in the future, who lives in the here and now. Buddhahood is a quality of being present – and it is not a goal, you need not wait, you can become a buddha just here and now.” So skrywe Osho. Wat hy hier “Buddha” noem, kan ons net sowel vertaal met “Christus-bewussyn” of verligte mens. Boeddha beteken mos maar net “Die een wat wakker is.”
En presies dit is wat ek dink met Nelson Mandela gebeur het, hy het wakker geword.
Meeste mense leef vas aan die slaap. Meeste van ons word ook nooit wakker nie. Dit is hartseer om te sien, maar meeste mens lewe onbewustelike lewens. Ons kan dit ook noem ‘n lewe wat op “auto pilot” geplaas is, of soos iemand wat in sy slaap wandel.
Is dit nie ironies nie, dat dit juis onmenslike dinge is soos om opgesluit te wees in ‘n tronk, siekte wat jou lewe inperk of situasies waar jy buite beheer voel, wat jou meer van jou ware “human existence” leer.
En wat ons leer is nie net om wakker en teenwoordig te lewe nie, maar ook dit wat daarmee saam gaan. Want om te fokus op die nou is om vrede te maak met wat is.
Om te aanvaar waar jy jouself bevind, al is dit nie noodwendig waar jy sou wou wees nie. In die geval van Nelson Mandela: ‘n te klein tronksel.
Henry David Thoreau noem dit: “Only that day dawns to which we are awake.” Om wakker te word vir die realiteit van die oomblik: goed of sleg, bly of hartseer, hoogtepunt of laagtepunt. Dit gaan oor wakker word vir die realiteit van die oomblik.
Saam met Thoreau voel ek ook dat ‘n bewustelike lewe jou laat wakker word vir die ewige Nou. Want is dit nie so dat gister al gister verby is en môre nog nie gebore is nie? Ja, ons kan beplan vir môre en leer uit gister, maar ons kan verseker nie daar leef nie. Om in jou kop weg te kruip in gister of môre se herinneringe en drome, is om aan die slaap wees.
Ek onthou toe ek ‘n paar jaar gelede na een van my gunsteling-kunstenaars gaan kyk het, die Nederlander, Herman van der Veen. Ek was so opgewonde om hom in lewende lywe te kon sien optree. Maar omdat ek op daardie stadium redelik moedeloos was oor my lewe, het ek in die gehoor gesit met ‘n kop vol gedagtes. Ek het obsessief getob oor hoe en wat ek moes doen, so veel so dat ek nie eens gehoor het toe die vertoning begin nie. Ek was totaal verlore in my eie kop.
Presies dit wat Eckhart Tolle beskryf as: “The human condition: lost in thought.” ‘n Plek waar jy nie meer eerstehands, direk en spontaan leef nie, maar gevangene is van jou ego tronk-in-jou-kop.
Gelukkig het die musiek van Herman van der Veen se eerste liedjie my wakker laat skrik. En ook net betyds om hom te hoor sê: “Om gelukkig te wees is om bewus te wees!” En natuurlik om bewus te wees is om teenwoordig te wees. En om teenwoordig te wees is om wakker te wees – wakker vir die hier en nou.
Hierdie wakker word vir die Nou, is ‘n baie belangrike spirituele waarheid. Daarsonder is niemand werklik besig om te lewe nie, eerder net besig om te oorleef.
Hoekom sukkel ons so om teenwoordig te leef? Is dit dalk omdat ons vergeet het elke dag is ‘n geskenk? Dit is asof ons onder die illusie leef dat daar nog baie dae gaan wees. Iemand soos Nelson Mandela kon egter nie bekostig om so te dink nie en was daarom verplig om op die hier en nou te fokus.
En die geskenk van so ‘n fokus op die hier en nou, het gemaak dat die hier en nou heilig geword het.
‘n Bewustelike lewe groei vanuit die keuse om vandag as heilig te sien. Dr. Elisabeth Kübler-Ross som dit so op: “It is when we truly know and understand that we have a limited time on earth, and that we have no way of knowing when our time is up, that we will begin to live each day to the fullest, as if it was the only one we had.”
Dit laat my dink aan ‘n gediggie van die Sufi, Jalaluddin Rumi (1207-1273): “God is a letter to everyone. You open it. It says, Live!”
Ja, met ‘n skok het ek besef ek is nou presies so oud is soos Nelson Mandela toe hy tronk toe is. Maar saam met dit het daar ook iets binne my wakker geword vir die feit dat ek nou hier is. En dat ek net nou braaf genoeg moet wees om vir my waarheid te leef. More sal dan sorg vir hom self!
Nelson Mandela: “We must use time creatively, and forever realize that the time is always ripe to do right, now.”
Recent Comments