Die wêreld is soos een groot spinnerak.

Almal en alles is op ‘n manier verbind aan mekaar. Sou jy pluk aan een stringetjie van die spinnerak, bewe die hele spinnerak.
Daarom is Frankryk se hartseer, Sirië se wanhoop en Suid-Afrika se moedeloosheid, ingevleg binne die res van die wêreld se realiteit. Of ons dit wil weet of nie. Ons is in der waarheid almal in dieselfde bootjie.

En om vir mekaar kwaad te wees en te baklei, is om uiteindelik die bootjie vir almal om te keer. Presies wat ons nou weer sien met die onlangse Parys terreuraanvalle.

Juis daarom is dit so nodig dat ons anders begin dink oor wêreldvrede en hoe om dit in ons leeftyd te kan bereik.

Die oor-en-weer baklei, dreigemente en bloedvergieting werk nie, het nog nooit gewerk nie. Fanatisme, oorlog, geweld, terreur en bomme het nog altyd net meer van dieselfde na vore gebring. Want vrees bewerk essensieel net meer vrees.

Dit waarna die Amerikaanse burgerregte en Christen prediker, Martin Luther King jnr, verwys met: “Darkness cannot drive out darkness; only light can do that. Hate cannot drive out hate; only love can do that.”

Daarom sal geweld, magspleging en selfs oorlog altyd net meer van dieselfde voortbring – ‘n siklus van vrees, haat en vergelding. Dit wat Mahatma Gandhi beskryf het as: “An eye for an eye makes the whole world blind.”

En voor ons nie besef dat ons nie die siklus kan verbreek met meer geweld nie, sal ons ongelukkig ook nie die vrees minder kan maak nie. En soos ons tog weet, mense wat bang is dink nie helder nie.

Wat doen mense wat bang is? Hulle trek laer. Skep grense. Kyk maar net hoe die hele wêreld opgedeel is in mensgemaakte grense. Dit lyk letterlik soos ‘n groot skaakbord. En skaak is ‘n spel waar daar ‘n wenner en ‘n verloorder is. Kyk maar net hoe verskillende gelowe hulleself teenoor mekaar opstel. Politiese, ideologiese en kulturele verskille doen presies dieselfde.

So het ons letterlik ons hele planeet opgedeel in hierdie mensgemaakte grense. Uiterlik is daar velkleur, godsdienstige gebruike, geslagtelike ongelykheid, grensdrade, betonmure en grensposte met gewapende wagte wat dit bewaak. Innerlik het ons ons vooropgestelde idees, afkere, haat, ideologieë, geloofsoortuigings wat grense opstel tussen “ons” en “hulle.”

Al hierdie grense bring kunsmatige skeiding. Die geboorteplek van vrees, haat en fanatisme.

En die hartseer realiteit is natuurlik, die onvermoë van meeste mense om te besef dat die grense wat hulle opgestel het – innerlik en uiterlik – net self geskepte persepsies is. In hulle koppe geskep en oorgedra van geslag tot geslag. ‘n Menslike oortuiging. ‘n Menslike grens.

Dit wat Boeddha lank terug al gesê het: “In the sky, there is no distinction of east and west; people create distinctions out of their own minds and then believe them to be true.”

Net soos met ‘n kaart, is die ingetekende grense nie die werklikheid nie, net ‘n interpretasie van die werklikheid.

Natuurlik vervul grense ‘n belangrike funksie. Dit help met bestuur, beheer en beskerming van grondgebiede. Grense bring verseker ‘n gevoel van orde en beheer. En binne hierdie self geskepte grense leef, speel en sterf mense.

Maar dit is op die einde slegs ‘n illusie. Want essensieel maak grense ons meer weerloos en dit skep vrees. Vrees wat soos gewoonlik oorspoel in woede, haat, terreur en bloedvergieting.

Dalk is dit tyd dat ons begin droom oor ‘n wêreld waar ons mekaar as familie sien eerder as vyande. Dat ons besef almal van ons smag uiteindelik na dieselfde dinge, ongeag ons kultuur, taal, geloof, seksualiteit, voorkoms of enige ander mensgemaakte grense.
Elkeen van ons smag na vrede, vryheid en ‘n plek waar ons veilig kan leef.

En alle mense streef na ‘n diep en betekenisvolle lewe. ‘n Lewe wat saak maak, wat ‘n verskil kan maak en wat dinge uiteindelik beter kan maak vir almal.

En hiermee kan vrees en fanatisme ons glad nie help nie. Want fanatisme is gebou op vrees en vrees beteken dood.
As ons enigsins ‘n kans wil staan op oorlewing, groei en ‘n beter lewe vir almal, het ons nodig om te besef liefde is die antwoord, nie vrees nie.

Miskien as ons mekaar weer begin raaksien as deel van mekaar, sal ons ons vrees vir mekaar verloor, sal liefde ons rigtingwyser word. Dit wat die Indiese leermeester Ramana Maharshi geantwoord het op die vraag, “How are we to treat others?” en hy rustig geantwoord het: “There are no others!”

Presies dit wat die sanger en skrywer John Lennon so kragtig met sy “Imagine” verwoord het. Woorde waarvolgens ons kan leef en laat leef. Woorde wat ons kan help om vreesloos in ‘n bang wêreld te leef. “Imagine there’s no countries, it isn’t hard to do. Nothing to kill or die for, and no religion too. Imagine all the people living life in peace…”

Natuurlik vra dit van elkeen om by sy eie hart te begin. Om eers sy eie vrese te transformeer deur vergifnis en liefde. Dan kan so ‘n mens ‘n lig word vir ander. Ek wil afsluit met ‘n vers uit die Tao Te Ching (My vertaling), vers 67: “Bly in gedagte en aksie naby eenvoud,
En jy sal terugkeer na die bron van jou wese.
Wees geduldig met beide jou vriende en jou vyande,
En jy sal in harmonie leef.
En met deernis teenoor
Jouself en ander,
Word jy ‘n brug
Vir alle lewende wesens.”