Is dit nie ironies nie dat dit juis die mens se sekerheid is wat hom of haar gevange neem?
En aan die ander kant is dit, vreemd genoeg, onsekerheid en twyfel wat mense op die pad na vryheid kan help.
Presies waarna die ou Latynse spreuk verwys: “Ubi dubium ibi libertas (Waar daar twyfel is, is daar vryheid).”
Want uiteindelik is alles waarvan ons so seker en oortuig is maar net tydelike, menslike idees, opinies, oortuigings, afleidings, vertellings en konstrukte.
In wese is enige sogenaamde sekerheid net maar ‘n klein stukkie van ‘n groter geheel. Slegs ‘n weerspieëling van net een kant van ‘n meervlakkige diamant. En per definisie kan enige sogenaamde sekerheid tog verander. Soos daar meer ontdek, gevind en bevind word, word gister se sekerhede maklik verander in vandag se onsekerhede.
Miskien daarom dat die Franse filosoof en teoloog, Pierre Abelardus (1079-1142) geskryf het: “The beginning of wisdom is found in doubting: by doubting we come to the question, and by seeking we may come upon truth.”
Want die lewe is en bly ‘n ontvouende misterie en ons bly altyd soekend.
Op hierdie soektog groei ons deur verskillende fases van bewuswording. Die eerste fase word ons so te sê gegee by geboorte. Die gelowige fase.
Hierdie fase is noodsaaklik in die ontwikkeling van insig en begrip, net soos kinders ook eers die lewe se basiese boublokke moet leer ken, voordat hulle daarop verder kan uitbrei en uitbou.
Maar hierdie kinderlike en selfs naïewe fase moet ontgroei word. Want in essensie is dit ‘n geslote denk-raamwerk waarin daar met absolute waarhede gewerk word. Slegs één antwoord vir al die vrae. Daar kan niks bygevoeg of weggelaat word nie. Indien ‘n mens in hierdie fase vasval (en baie doen) word jy ‘n slagoffer van vaste dogmas en reëls. Word jy ‘n slaaf van die fase se sogenaamde sekerhede.
Dit perk jou in, en maak jou blind. En of dit nou in godsdiens, wetenskap of politiek is, daar moet besef word dat niks ooit onkrities aanvaar moet word nie.
Daarom dat daar net werklike vryheid kan wees wanneer ‘n mens die ingesteldheid het van kritiese selfondersoek. Is dit nie iets wat ons diep binne reeds weet nie?
Robert M. Pirsig (Zen And The Art of Motorcycle Maintenance) verwoord dit so: “You are never dedicated to something you have complete confidence in. No one is fanatically shouting that the sun is going to rise tomorrow. They know it’s going to rise. When people are fanatically dedicated to political or religious faiths or any other kinds of dogmas or goals, it’s always because these dogmas or goals are in doubt.”
Interessant is dat binne hierdie eerste fase, twyfel reeds ingebou is. ‘n Twyfel wat, indien jy dit ontgin, jou kan help om te groei in die volgende fase in. ‘n Twyfel wat jou krities na jou eie sekerheids-konstruksies laat kyk – en sodoende kan jy hierdie eerste fase transformeer.
Die Indiese filosoof, Jiddu Krishnamurti, wys dan ook dat die meeste mense ongelukkig binne hierdie eerste fase vassit en nooit eerlik na hulle twyfel kan kyk nie. En sodoende leef hulle dan “tweedehandse” lewens (soos hy dit noem).
En dit maak dat hulle lewens nie vry is nie. Dit is veel eerder ‘n lewe as ‘n slaaf van ander se idees, vrese en oortuigings. “We are the result of all kinds of influences and there is nothing new in us, nothing that we have discovered for ourselves; nothing original, pristine, clear.”
Dit maak mense se lewens meganies. Soos ‘n papegaai wat net kan herhaal wat vir hom geleer is. En in hierdie fase word onverdraagsaamheid vir idees wat anders is, vreemd of nuut is, gevoed.
Natuurlik beteken dit nie dat alles as ongeldig en vals afgemaak word nie. Ek meen wanneer jy eerlik, krities en met respek omgaan met jou en ander se sekerhede kom jy dikwels agter dat daar wel waarheid in baie daarvan steek.
En om kritiese vrae te vra, te twyfel en soekende te wees beteken nie noodwendig die vernietiging van alle sekerhede nie, dit beteken net die oorsteek van kennis- of idee-grense, die verskuiwing daarvan.
Daar sal altyd nuwe horisonne wees. Nie waar nie?
Die tweede fase ontstaan dus wanneer daar ‘n ongemak beleef word oor die sogenaamde waarhede en sekerhede wat deur die jare voorgehou is. En so word die tweede fase betree, ek noem dit die soeker-fase.
Die soeker-fase bring onsekerheid en twyfel, wat op hul beurt ‘n impuls aan die soekende gee om op ‘n avontuur te gaan. ‘n Gevoel van bevryding van skuld en vrees is, vir seker, van die positiewe byprodukte. Hierdie fase bring ook vernuwing. Hoor hoe mooi beskrywe Wilhelm Jordaan dit met:
“Toe ek ‘n kind was,
het ek gedog die dinge is maar so,
maar noudat ek ‘n man geword het,
weet ek dit is dogmadinge,
wat mens doodmaak binne.”
Diesulkes beleef nou onsekerheid en twyfel as ‘n positiewe krag. Dink maar aan iemand soos die Franse skrywer en wenner van die Nobelprys vir literatuur, André Gide, toe hy gesê het: “Believe those who are seeking the truth. Doubt those who find it.”
Dit is egter ‘n pad wat elkeen sélf moet loop, niemand kan dit namens jou doen nie. Thich Nhat Hanh sê: “Freedom is not given to us by anyone; we have to cultivate it ourselves.”
Krishnamurti sluit hierby aan met: “There is no guide, no teacher, no authority. There is only you – your relationship with others and with the world – there is nothing else.”
Soms gebeur dit dan ook dat hierdie onsekerheid en twyfel tot ‘n derde fase kan lei – dié van vrydenker. Dit behels die verwerping van bekende sekerhede, soveel so, dat daar nou ook geen heilige koeie meer is nie.
Selfs gevestigde gelowe se heilige oortuigings is oop vir kritiek en bevraagtekening. Hierdie vryheid bring ‘n nuwe bewussyn van onverbondenheid, vreesloosheid en nuuskierigheid.
Dit waarna die Soefi en digter, Jalaluddin Rumi (1207-1273) verwys met: “Out beyond ideas of wrong doing and right doing there is a field. I’ll meet you there.” ‘n Fase wat nie veel mense ooit betree nie.
Maar die paar wat dit wel doen, is gewoonlik die grensverskuiwers wat die mensdom kollektief, mettertyd kan help skuif.
Dink so daaraan, indien jou sekerhede jou nie help om voluit en vry te leef nie, is dit besig om jou in te perk en gevange te hou. En indien jou sekerheid jou op enige manier verhinder om liefde en geregtigheid in die gewone wêreld te beoefen, en jou ook weerhou om jou kreatiwiteit as mens ten volle uit te leef, dan is jou sekerheid tog iets negatiefs en afbrekend.
Daarom, moenie dat enige idees, ideologieë of vaste dogmas jou lewe ooit definieer nie. Wees braaf genoeg om vrae te vra. Onthou dit sal nie net jou lewe verryk nie, dit het ook die potensiaal om jou vry te maak. Ek sluit af met die betekenisvolle woorde van William Strunk: “A person who does not have the courage to doubt may not acquire the wisdom to believe.”
Recent Comments