Die hoeksteen van vryheid is die vrye vloei van inligting en daarmee saam die reg om jouself te kan uitdruk sonder die vrees van vervolging. Iets waaraan ons gewoond geraak het die afgelope paar jaar. Onder apartheid was dit nie so nie, maar na 1994 het ons as ‘n jong demokrasie ‘n nuwe grondwet gekry. Dit het ons vele vryhede gegee en ons sodoende ‘n oop, vrye en demokratiese samelewing gemaak.
Veral betreffende vrye vloei van inligting en vryheid van spraak. Ek meen dit is nie eens snaaks om die koerant oop te maak en berigte te lees waarin ministers, regters, polisiehoofde en selfs die land se president aangevat word oor hulle korrupsie en ander misdrywe nie. Ja ons mag dalk voel dat daar nie altyd voldoende optredes is nie, maar die feit bly staan, niemand is gevrywaar van ondersoeke of geregtelike vervolging nie. En daarmee saam mag almal daarvan weet.
Dink maar net hoe gewoond ons daaraan geraak het om terwyl ons werk toe ry, na die radio te luister en te hoor hoe die omroeper openlik kritiek uitspreek teen een of ander staatsdiens department wat swak diens lewer. Of hoe blasé ons op ‘n Sondag na Carte Blanche kyk en sien hoe hulle aanbieders ‘n hospitaal se administrasie ontbloot vir wanbestuur of met ‘n versteekte kamera polisieselle besoek en wandade uitwys. Ons aanvaar dat ons mag weet, ons mag vrae vra en ons mag kritiseer. Ons aanvaar as van self sprekend dat artikel 16 van ons grondwet, dit moontlik maak.
Om die waarheid te sê, weet ons nie eens wat artikel 16 sê nie. Dit is mos maar hoe mense is as hulle bederf is. Hulle verleer om dankbaar te wees vir hulle vryheid, hulle word lui en selfsugtig. Tot die dag wat hulle vryheid van hulle weggeneem word. Dan eers besef hulle wat hulle gehad het. Hoekom moet ons altyd eers iets verloor voordat ons die waarde daarvan besef?
Wel kom ek herinner jou aan wat artikel 16 sê, dit gaan oor die reg op, Vryheid van uitdrukking. Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby ingesluit is (a) die vryheid van die pers en ander media; (b) die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra; (c) die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en (d) akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing. Natuurlik solank dit nie die volgende bevat nie: (a) propaganda vir oorlog; (b) die aanhitsing van dreigende geweld; of (c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhits om leed te veroorsaak.
En wat maak hierdie artikel so belangrik? Hoofsaaklik omdat dit die waghond is vir die res van die handves van menseregte. Want soos jy weet het elkeen van ons onder die grondwet die reg op gelykheid, menswaardigheid, reg op lewe, reg op vryheid en beskerming, reg op privaatheid, reg op godsdiensvryheid en eie opinie, vrye assosiasie, en so gaan die lys aan. Verseker kom al hierdie regte nie altyd tot hulle reg nie, maar jy mag kla, protesteer, toi toi, skryf in die koerant, aangee by die Polisie, dagvaar en openlik blog, twitter of facebook oor alles wat jou pla of waaroor jy ongelukkig voel. Natuurlik sonder die vrees van vervolging. Dit is die krag van hierdie artikel 16, dit beskerm die vrye vloei van inligting.
Dink maar net aan die hele wapentransaksie skandaal in Suid-Afrika. ‘n Gewone burger, wat nie tevrede was met die verklarings en antwoorde van die regering nie, Terry Crawford-Browne, het met hofsake en aktiewe protes die ANC regering uiteindelik gedwing om die saak weer van voor af oop te maak en te ondersoek. Dit is die krag van artikel 16 van ons grondwet.
In lande waar hierdie vrye vloei van inligting nie toegelaat word nie, soos o.a. Iran, Viëtnam, Noord-Korea en China is daar baie vergrype aan menseregte. Byvoorbeeld, in al hierdie lande word ook kunstenaars, letterkundiges, joernaliste, TV en radio omroepers, verslaggewers, sosiale media gebruikers soos bloggers, facebook en twitter gesensor en selfs vervolg.
Goeie voorbeelde hiervan is die Nobel-vredesprys wenner Liu Xiaobo, ‘n Chinese skrywer, wat vir die afgelope tien jaar al in die tronk sit. Omdat hy durf skryf het oor vryheid van spraak en menseregte wat misken word in China. Of dink aan die tien mense in onderskeidelik Iran en Viëtnam, wat die doodstraf opgelê is omdat hulle geblog het oor sg. sensitiewe sake.
Want wanneer beheer lê by die staat en hulle namens mense kan besluit wat hulle mag weet en wat nie, spoel dit vinnig oor op ander terreine van die samelewing. So word mense dan selfs vertel watter flieks, boeke, webtuistes en musiek na gekyk en geluister mag word. Hoor hoe mooi som George Washington (eerste president van die VSA) die gevolge van geen vrye vloei van inligting op: “If the freedom of speech is taken away then dumb and silent we may be led, like sheep to the slaughter.”
Want is die probleem van enige instelling wat vrye vloei van inligting beperk, nie uiteindelik die vernietiging van oopheid, rekenskap en deursigtigheid nie? Daarom is dit nie onredelik om te dink dat sensuur op een terrein, mettertyd alle vorme van uitdrukking sal versuur nie. Dit kan nie anders nie, met sensuur volg stilte. Dit is seker hoekom Martin Luther King jnr. homself so sterk uitgespreek het: “Our lives begin to end the day we become silent about things that matter.”
Op 22 November 2011, kom die ANC regering en stem die nuwe ‘Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting’ in. ‘n Wet, wat as dit deurgaan, gaan bepaal dat die regering sekere dokumente kan klassifiseer as “nasionale belang” of “nasionale veiligheid” of as “vertroulik”, “geheim” of “hoogs geheim”. Hiermee saam maak hierdie wet geen voorsiening vir “openbare belang” nie en swaar tronkstraf kan opgelê word aan joernaliste wat sensitiewe inligting bekend maak of mense wat ongerymdhede ontbloot.
Dus impliseer hierdie wet dat ondersoekende joernalistiek inperk word. Dit kan beteken dat as ‘n joernalis oor iets skryf en die dokumente publiseer, kom ons sê dokumente wat gelykstaande is aan die ‘Pentagon Papers’ (geklassifiseerde Amerikaanse dokumente wat aantoon hoe die land se presidente oor Viëtnam gejok het) kan so ‘n joernalis dan tot 25 jaar tronkstraf kry.
Kan jy sien dat dit onmiddellik tot selfbeperking of selfsensuur gaan lei? En daarmee bedoel ek ‘n bang media! En verseker nie net ‘n bang media nie, op alle ander terreine gaan politici, filosowe, skrywers, kunstenaars, openbare sprekers en meningvormers hulle woorde tel, om nie eens te praat van die “whistleblowers” wat nie meer hulle nek gaan uitsteek nie. Want net nou sê jy iets wat deur die regering dalk net as teen “nasionale belang” geïnterpreteer word.
Die groot vraag agter sensuur is natuurlik altyd, wie bepaal wat mag gesê word en wat mag nie gesê word nie? Wie bepaal waar sensuur begin en waar dit ophou? Natuurlik sensuurbase en dit is die heersers van die dag. Dit is hulle wat bepaal wat sg. in die “nasionale belang” is al dan nie. Die probleem is natuurlik dat die regering dan namens mense gaan besluit wat in hulle belange is, en wat nie.
Suid-Afrika is werklik nou by ‘n kruispad. Daar sal moet gekies word: Die koers van byvoorbeeld, Nederland, waar totale vrye vloei van inligting toegelaat word of die Chinese opsie, waar die regering al die troewe hou, en die nuusdraer spreekwoordelik geskiet word. Wel as jy die afgelope tyd se tendense fyn dopgehou het, sou jy gesien het waarvoor daar gekies word. Kom ek noem net twee voorbeelde:
Eerstens, onder Chinese druk, is die vriendelike besoek van ‘n vorige Nobelpryswenner, die Dalai Lama, Suid-Afrika geweier. Hoekom? Nee blykbaar was sy paspoort nie in orde nie. Regtig? Dit het blykbaar niks te doen met China se stryd met die Tibettaanse mense nie. En tweedens, is dit nie skrikwekkend om te sien hoe die ANC reeds, net soos die Chinese taktiek is, sy eie ondersteuners nie ‘n vrye debat toegelaat het oor die nuwe “Secrecy Bill” nie. Almal is aangesê om vir die nuwe wetsontwerp te stem.
Natuurlik is dit waar dat die media hier en daar foute maak, en sodoende mense se menswaardigheid aantas. Niemand kan ontken dat die media dit soms erg verkeerd kry nie. Veral wanneer hulle fokus op sensasie en skindernuus versprei – wanneer kyker- en lesersgetalle meer tel as integriteit van die joernalis. Maar ek vat dit veel eerder as sensuur. Daarom stem ek heelhartig saam met Albert Camus as hy sê: “A free press can, of course, be good or bad, but, most certainly without freedom, the press will never be anything but bad.”
Die reg om te kan verskil en die reg tot die vrye vloei van inligting is onontbeerlik vir Vryheid. Kom laat ons nie in die geskiedenis bekend staan as die mense wat die bal laat val het nie. Kom ons wees die mense wat geveg het vir Vryheid, toe ons nog kon veg! En as jy vra hoe moet ons veg daarvoor? Is dit eintlik eenvoudig.
- Leer jou kinders die waarde van hulle vryheid. Leer hulle debatteer. Leer hulle die waarde van dialoog en oop gesprek.
- Help jou kinders onderskei tussen gesonde openbare debat en swak beriggewing. (Leer jou kinders om kritiese lesers te wees.)
- Bestudeer die Handves vir menseregte. Kyk weer wat mense moes opoffer vir dit wat ons nou as vanselfsprekend aanvaar.
- Lees meer, luister meer en wees ‘n ewige student.
- Dink vir jouself.
- Word ‘n aktivis vir ‘vryheid van spraak’. As jy wil weet hoe? Leer by ouens soos die Indiese filosoof Amartya Sen as hy sê: “…democracy requires the protection of political freedom, such as free speech, uncensored media, freedom from political prosecution or persecution.”
- Ondersteun organisasies soos: die Instituut vir ‘n Demokratiese Suid-Afrika (Idasa), die Freedom of Expression Institute, die Sentrum vir Grondwetlike Regte, Oudpres. F.W. de Klerk se Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) en Nelson Mandela se Herinneringsentrum.
Laastens nog net dit: die volgende stap is dat hierdie wetsontwerp nou verwys is na die Nasionale Vergadering, waar die LP’s daaroor debat gaan voer. Kom ons almal wees van hier af wakker en bewus van die proses. Want dink net, wat ek hier geskryf het, kan dalk oor ‘n jaar van nou af, my 10 tot 20 jaar tronkstraf op die lyf haal. Of dit wat jy by ‘n braai vir iemand sê, kan jou dalk die tronksel met my laat deel…
George Orwell: “Freedom is the right to tell people what they do not want to hear.”
Recent Comments