In die Tao Te Ching vers 75 (my vertaling) staan die volgende:
Mense word onregeerbaar,
as heersers reëls uitvaardig uit eiebelang.
Mense verloor hulle vrees vir die dood,
as heersers mense laat sterf vir hul eie glorie.
Hulle wat geen eiebelang nastreef,
gee aan mense hulle waardigheid terug.
Klink hierdie eeue oue woorde van Lao Tzu nie onheilspellend akkuraat vir ons tyd nie?
Ek meen oneerlikheid, wanbestuur en korrupsie is aan die orde van die dag onder die heersers. En dalk is dit maar altyd so waar mense in posisies van mag kom. Presies waarna die woorde van Sir John Acton verwys: “Power tends to corrupt, and absolute power corrupts absolutely. Great men are almost always bad men.”
Dit is hartseer om so daaroor te dink maar dit is ongelukkig meermale waar.
En volgens die Tao Te Ching is die enigste teenvoeter, leiers wat nie hulle eiebelang nastreef nie. Maar hoe kry ons sulke leiers? Hoe word ons sulke leiers?
Wel een manier is om altyd tot verantwoordelikheid geroep te word, om gehelp te word om verantwoordbaar op te tree. En volgens my is daar geen beter waghond hiervoor as die reg tot vryheid van spraak nie.
Dis sekerlik een van die hoekstene van vryheid; vrye vloei van inligting en daarmee saam die reg om jouself te kan uitdruk sonder vrees van vervolging. ‘n Gesonde samelewing is juis ‘n samelewing wat oop en eerlik kan wees oor hulle foute sowel as hulle tekortkomings. Net dit kan op die langtermyn die leiers en magspersone verantwoordbaar en eerlik hou.
Daarsonder, word mense mislei, onderdruk en beheer. En kan ons nie regtig ‘n gesonde, oop, demokratiese en vrye samelewing wees nie. Dit waarna David Ben-Gurion verwys met: “The test of democracy is freedom of criticism.”
“Mense met waardigheid” kan dus net wees waar enigiemand tot verantwoording geroep kan word. Dit is die weg na ware vryheid. Dit wat George Orwell so mooi gesê het met: “Freedom is the right to tell people what they do not want to hear.”
Tot nou toe was dit is nie eens snaaks om die koerant oop te maak en berigte te lees waarin ministers, regters, polisiehoofde en selfs die land se president aangevat word oor hulle korrupsie en misdrywe nie. Ja ons mag dalk voel dat daar nie altyd voldoende optredes is nie, maar die feit bly staan, niemand is gevrywaar van ondersoeke of geregtelike vervolging nie. En daarmee saam mag almal daarvan weet.
Ons het begin aanvaar dat ons mag weet, ons mag vrae vra en ons mag kritiseer. Toe gebeur die onlangse verwikkelinge waar die SAUK verbod geplaas het op negatiewe en kritiese joernalistieke uitsprake op regering. Ook deur onder andere ‘n verbod te plaas op die uitsaai van enige opstande en betogings wat geweldadig word.
Dit is natuurlik strydig met die uitsaaier se redaksionele beleid, die Uitsaaiwet en die Grondwet. Want dit skaad joernalistieke integriteit en ontneem hulle hul reg van vryheid tot spraak.
Dit wat in Artikel 16 van ons Grondwet staan. Om die waarheid te sê, weet meeste van ons nie eens wat in artikel 16 staan nie, juis omdat ons tot nou toe bederf was met die einste Vryheid. Ons het verleer om dankbaar te wees vir die vryheid.
Nou word hierdie vryheid bedreig. Dit is dus nodig om weer te weet wat Artikel 16 sê. Kom ek herinner jou: dit gaan daaroor dat elkeen die reg het op vryheid van uitdrukking, waarby ingesluit is (a) die vryheid van die pers en ander media; (b) die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra; (c) die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en (d) akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing.
Natuurlik solank dit nie die volgende bevat nie: (a) propaganda vir oorlog; (b) die aanhitsing van dreigende geweld; of (c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhits om leed te veroorsaak.
En wat maak hierdie artikel so belangrik? Hoofsaaklik omdat dit die waghond is vir die res van die handves van menseregte. Want soos jy weet het elkeen van ons onder die grondwet die reg op gelykheid, menswaardigheid, reg op lewe, reg op vryheid en beskerming, reg op privaatheid, reg op godsdiensvryheid en eie opinie, vrye assosiasie, en so gaan die lys aan.
Verseker kom al hierdie regte nie altyd tot hulle reg nie, maar jy mag kla, protesteer, toi-toi, skryf in die koerant, aangee by die Polisie, dagvaar en openlik blog, twitter of facebook oor alles wat jou pla of waaroor jy ongelukkig voel. Natuurlik sonder die vrees van vervolging. Dit is die krag van hierdie Artikel 16, dit beskerm die vrye vloei van inligting. Daarsonder is gesonde samelewing nie moontlik nie.
Dit wat die Franse filosoof Albert Camus verwoord met: “A free press can be good or bad, but, most certainly, without freedom a press will never be anything but bad.”
Dink maar net aan die hele wapentransaksie skandaal, Nkandla, Zupta en vele ander in Suid-Afrika. Gewone burgers kan hulle opinie gee, kan kritiseer en soos in die geval van die wapentransaksie skandaal het ‘n gewone burger, Terry Crawford-Browne, met hofsake en aktiewe protes die ANC regering uiteindelik gedwing om die saak weer van voor af oop te maak en te ondersoek. Dit is die krag van Artikel 16 van ons Grondwet.
Dus meer as enigiets anders moet ons waak en veg vir vryheid van spraak, so kan ons mense met eiebelang ontbloot. So kan ons ook van ander hoor as ons ons posisie misbruik. Dan sal ons “…aan mense hulle waardigheid kan teruggee.”
Kom ons staan op vir ons reg tot vryheid van spraak. Kom ons onthou wat die Franse filosoof Voltaire hieroor gesê het: “Think for yourselves and let others enjoy the privilege to do so, too.”
Want as ons dit nie doen nie loop ons ‘n groter gevaar. En dit is die verlies van vryheid.
Recent Comments