Jou vrae sê meer van jou as jou antwoorde.
Dit klink dalk verregaande, maar dink vir ‘n oomblik na oor my stelling. ‘n Vraag dui op die rigting van jou soeke. Dit dui ook op wat binne jou gemoed leef.
Jou vrae wys waarmee jy worstel, jou antwoorde wys wie jy lees, na wie jy luister en in wie jy glo. Dit is juis daarom so hartseer dat ons in ‘n tyd leef waar mense met vrae gesien word as oningelig en selfs dom. En dié met vinnige antwoorde word gesien as ingelig en intelligent.
Volgens my is dit juis andersom. Vrae is ongelooflike belangrik. Soos Albert Einstein dit dan ook gestel het: “The important thing is never to stop questioning.” En daarmee het hy verwys na die waarde van die ondersoekende gees van die mens.
Want hy het geweet daarin lê groei en ontwikkeling. Ja toegegee, vir baie is hulle antwoorde die vrug van baie vrae. Maar wat van as jy die verkeerde vrae gevra het? Dan kan jou antwoorde misleidend en selfs vals wees. En hoe sal jy ooit weet?
Ja, jy het dit geraai, deur meer vrae te vra. Om vrae te vra is wys, maar om die régte vrae te vra, is wysheid. Naguib Mahfouz sê: “You can tell whether a man is clever by his answers. You can tell whether a man is wise by his questions.”
Dit laat ‘n mens wonder wat is die regte vrae?
En natuurlik deur hierdie vraag te vra is jy reeds besig om die eerste “regte” vraag te vra. Dit is juis deur my baie vrae dat ek verlief geraak het op my medevraagstellers – ook bekend as filosowe.
En met my ontdekking van filosofie het ek beter vrae en dieper vrae ontdek. Presies wat die astronoom Carl Sagan gesê het: “We can judge our progress by the courage of our questions and the depth of our answers.”
‘n Nuwe wêreld van vrae, antwoorde en meer vrae het voor my oopgegaan. ‘n Avontuur van wonder. En ek het ontdek hoe waar is die woorde van die Roemeense skrywer Eugene Ionesco Decouvertes: “It is not the answer that enlightens, but the question.”
‘n Mens se vrae rig immers jou gedagtes en jou fokus. Jou vrae bepaal in watter rigting jy gaan soek vir die antwoord. Presies dit is wat filosofie doen.
Want filosofie is om te wonder. Die vader van filosofie, Sokrates, het dan ook op ‘n keer gesê dat verwondering die begin van wysheid is. Uit hierdie verwondering het die wetenskaplike model ontwikkel. ‘n Kosbare hulpmiddel, want dit rig en verskerp jou vrae. Want in die wetenskap gaan dit veel meer oor die vrae as wat dit gaan oor die antwoorde.
Antwoorde is altyd tydelik en voorlopig. Antwoorde maak altyd meer vrae wakker. Enige wetenskaplike wat sy of haar sout werd is, sal vir jou sê dat daar nie iets is soos ‘n finale, altyd geldende antwoord nie.
Want enige antwoorde kan in beginsel altyd geloënstraf word; met ander woorde dit is slegs geldig tot tyd en wyl dit die toets van verdere vrae nie meer kan deurstaan nie.
En net met vrae kom die veelkantigheid van enige saak na vore. En natuurlik onthul iemand se vraag ook sy of haar aannames en voorveronderstellings.
Werner Heisenberg som dit raak op met: “What we observe is not nature itself, but nature exposed to our method of questioning.” Die kuns is egter nie om mens bloot lukraak te laat vrae vra nie. Nee, die kuns is om mense te help om hulle diepste twyfelvrae te verwoord. Want net dan kan hulle werklik insig verkry.
Slegs wanneer ‘n mens begin verstaan hoekom en waarom jy doen wat jy doen, kan jy begin transformeer, kan jy groei in wysheid.
Daarom is enige sisteem – of dit polities of godsdienstig van aard is – wat mense se vrae onderdruk of ontmoedig, ‘n ongesonde stelsel wat dodelik kan wees vir die spirituele ontwikkeling van enige mens.
Dit is ongelukkig ‘n feit dat slegs mense wat openlik en braaf omgaan met hulle eie twyfel, eerlik genoeg is om die regte vrae te kan vra.
Vera Farmiga het so geskryf oor twyfel: “Doubt is the middle position between knowledge and ignorance. It encompasses cynicism but also genuine questioning.”
Dit is veral iemand wat op ‘n spirituele reis is, ‘n reis na binne, wat die flitslig van twyfelvrae so nodig het. Daarsonder verval ‘n mens se vrae en twyfel baie vinnig in bygeloof en uitgewerkte, resepmatige antwoorde.
Want is dit nie maar so nie dat net jý die eerlike vrae kan vra wat jou lewe se kern raak? Daarom kan die vrae wat jy het, eintlik ook net deur jouself beantwoord word.
Ander se antwoorde kan vir jou rigtingwysers wees, selfs help om jou eie antwoord te vind. Maar net jy kan jou vrae beantwoord.
“The most important questions in life can never be answered by anyone except oneself,” skryf John Robert Fowles, ‘n Engelse skrywer wat sterk beïnvloed is deur vraagvraende filosowe soos Jean-Paul Sartre en Albert Camus.
En wat is die belangrikste vraag in ‘n mens se lewe? Wel, dit wissel van mens tot mens en ook van tyd tot tyd. Maar ek vermoed dit is enige vraag wat jou soeke na die sinvolheid van die lewe kan verdiep.
So, die vraag wat jy vandag vra, sal more se rigting bepaal. Daarom is die belangrikste vraag altyd jóú vraag, nou.
Recent Comments