Die tweedejaar kunsstudente neem met ‘n opgewonde afwagting hulle plekke in. Voor elkeen ‘n esel, ‘n skoon doek en die reuk van lynolie wat die ateljee vul. Hulle is voorbereid en gereed vir hierdie belangrike eksamen.

Dan gaan die deur oop en die dosent stap in. Hy gaan staan voor in die ateljee en met sy vinger wat na bo wys sê hy: “Die vinger wat na die maan wys is nie die maan nie, dit wys net na die maan. Interpreteer dit en skilder dit!” Hy kyk na sy horlosie.

Daar’s ‘n oomblik van gespanne stilte en dan begin almal gelyk praat. “Wat bedoel jy met die vinger is nie die maan nie?”, “Wat beteken dit?”, “Wat bedoel jy met interpreteer dit?”, “Wat moet ons skilder?”

Dan hou die dosent sy hand op en wanneer die studente uiteindelik bedaar, sê hy: “Skilder wat jy dink dit beteken.” Dit help nie veel nie, want nou is almal nog meer deurmekaar. Wat bedoel die dosent met “skilder wat jy dink dit is?” Dan staan die klasleier op en maak keel skoon, “Meneer, wat moet ons teken, die vinger wat wys na die maan of die maan of albei? Wat presies wil u hê?” Die dosent kyk geamuseerd na hom. “Meneer, julle is nie meer eerstejaars nie. Julle moet kan self dink en interpreter. So ek sê vir die laaste keer, skilder wat julle dink, interpreteer vir julleself!”

Die scenario hierbo beskryf presies die moderne mens se worsteling om vir hulleself te dink, veral as dit kom by antieke simbole en metafore oor God. Want kom ons wees nou eerlik met mekaar, meeste oorgelewerde geloofsverhale oor die goddelike is slegs vingerwysing na die goddelike, dit is tog nie God self nie. Maar net soos die studente, wag meeste mense dat hierdie geloofsverhale, simbole en metafore vir hulle geïnterpreteer, uitgelê en verduidelik moet word. En so gebeur dit dan dat niemand regtig die dieper betekenisse verstaan of begryp nie. Almal staar na die wysende vinger en sien nooit waarheen dit wys nie.

Neem byvoorbeeld van die ‘vingers’ wat deur die menslike geskiedenis, na die ‘maan’ (die goddelike) gewys het. Mense wie se lewens en woorde ander geïnspireer het om iets groters as hulle omstandighede, hulle self en idees raak te sien – maar wat dan die einste mense geword het wat vereer en aanbid is. Dink maar aan byvoorbeeld Boeddha en Jesus.

By wyse van ‘n metafoor sou mens dus kon sê: dié twee se lewens was van die helderste vingerwysings na die goddelike. Maar Boeddha en Jesus se woorde en lewe het die hoof fokus geword. Kyk maar net hoe het Jesus die fokus van die aanbidding en teologie van die kerk geword, eerder as Dit waarna hy gewys het.

Kyk jy teen die vinger vas, verloor jy die rigting. Jy moet in die rigting kyk waarheen die vinger wys en in daardie rigting verder op reis gaan. Dis tog die doel van die heilige geskrifte van al die verskillende godsdienstige tradisies. Dis tog nie historiese feite nie, of bedoel om ‘n godsdiens of ‘n dogma daar te stel nie. Dit is daar om die lesers te begelei tot ‘n reis van spirituele ontwaking en verligting. ‘n Reis wat jou nie na buite iewers neem nie, nee, veel eerder na binne jou. Of soos Joseph Campbell dit stel: “What is referred to in mythology as ‘the other world’ is really (in psychological terms) ‘the inner world’.”

Daarom is dit so hartseer om te sien hoe die dogma en leer waarmee verskillende godsdienste hulleself so besig hou, eintlik gebou is op meestal ‘n verkeerde lees van antieke mitologiese tekste. Tekste soos o.a. die Hindoes se Bhagavad Gita, Boeddhiste se Sutras, Christene se Bybel en Islam se Koran – almal in hulle oorsprong en wese mitologie.

Wat is mitologie? Wel volgens Joseph Campbell: “…the first and most essential service of a mythology is this one, of opening the mind and heart to the utter wonder of all being.” Om mense te help om sinvol hulle lewens se dieper betekenisse te interpreteer en verwerk, en om sodoende by die heiligheid van lewe en sterwe uit te kom. Om iets te probeer snap van die transendente, van die grootsheid en nietigheid van ons bestaan.

As ons kyk na die vroeë Christendom is dit interessant om te sien dat daar juis Christene was wat nie die verhale as historiese feite gelees het nie, maar as mitologie, met simboliese waarde. Hulle was genoem die Gnostiese Christene. Omdat hulle weergawe van die ortodokse Christene verskil het en daarmee saam teen dit wat Keiser Konstantyn by Nicea gelegitimeer het, is hulle nie net vervolg nie, maar ook stilgemaak, doodgemaak en hulle geskrifte vernietig.

Dit is ongelukkig wat gebeur wanneer mitologie verkeerdelik as geskiedenis of wetenskap gelees word. Iets wat as ‘n metafoor bedoel was word ‘n dogma, ‘n dogma waarvoor dan gesterf sal word en selfs die wat van jou verskil, aangeval of vermoor sal word.

As ons hoegenaamd die wyshede van godsdienste wil verstaan en die waarde daarvan vir volgende geslagte wil behou – om sodoende die goddelike te herontdek, in die klein en die groot krisisse van ons lewens sin te ontdek – sal ons dit wat mitologie is weer moet lees as mitologie. Anders gaan ons nog ‘n geslag hê wat vasgenael sit ek kyk na die vinger sonder om ooit die maan binne hulleself raak te sien.