Mahatma Gandhi het op ‘n keer gesê: “There is more to life than simply increasing its speed.” Woorde wat my elke keer laat besef hoe gewoond ons aan spoed geword het.

Alles moet vinniger, van ons selfone tot by ons kos. Maar hierdie ewigdurende spoed versnelling het ons lewens begin verskraal.

Meer nog, dit het ons verleer om te kan onderskei tussen wat regtig noodsaaklik is en wat net lekker is om te hê.

In hierdie snelle wêreld van massaproduksie en materialisme het ons selfs ons menslikheid en lewensgeluk begin verloor. Op ‘n manier het ons weg van ons self begin leef, vasgevang in ‘n maalkolk van besig wees, meer inpas en lysies van “nog te doen.”

Waarop dieselfde Gandhi gereageer het: “Speed is irrelevant if you are going in the wrong direction.”

Ek vermoed dat meeste van ons ernstige spoed aanpassings moet maak, indien ons nie opgesluk wil word deur oppervlakkige, siellose, ‘gejaag na wind’ lewens nie.

Want onthou, in die lewe wen niemand nie, ek meen die wenstreep is die dood. Nie waar nie? Dit wat die Italiaanse spreekwoord so raak beskryf: “After the game, the king and the pawn go into the same box.”

Daarom dink ek ‘n goeie plek om te begin is om eenvoudig te stop, net een ding op ‘n slag te doen. Hoekom?

Wel, dit sal jou dwing om te kies. Want om een ding op ‘n slag te doen sal jou spoed dadelik verminder en teen ‘n stadiger pas kan jy nie meer alles inpas in jou dag nie.

Jy sal moet kies vir kwaliteit in plaas van kwantiteit. Jy sal moet besluit waarop gaan jy eerste fokus. Om meer kwaliteit tyd te spandeer aan minder, eerder as meer dinge te doen maar oppervlakkig en vinnig daaroor te gaan.

Daarvoor sal jy doelbewus ‘n stadiger pas moet aanleer. En om dit reg te kry sal jy die onnodige en oortollige dinge in jou lewe moet herken en uitsny. Jy sal moet leer fokus op die essensiële dinge wat saak maak. Jy sal moet prioritiseer.

Presies waarna die Zen spreekwoord verwys, “Zen means doing one thing at a time.”

Natuurlik is ‘n stadiger lewe nie net iets wat jy uiterlik doen nie, nee dit gaan in die eerste plek oor jou ingesteldheid teenoor die lewe.

En daarvoor moet jy eers verstaan waaroor lewensgeluk en lewensin werklik gaan. En waaroor gaan die lewe?

Wel, sekerlik om bewustelik, teenwoordig en gelukkig in harmonie met jou omgewing en medemens te kan leef. Nie waar nie?

En om ‘n sinvolle impak te kan maak. M.a.w. nie net te bestaan nie maar werklik te lewe. En soos ons almal weet, kan jy slegs ‘n sinvolle impak hê op jou lewe, verhoudings, werk, gesondheid as jy werklik teenwoordig is.

En daarvoor het jy nodig om rustiger en kalmer te wees … meer gefokus! St. Francis de Sales verwoord dit so: “Never be in a hurry; Do everything quietly and in a calm spirit. Do not lose your inner peace for anything whatsoever, even if your whole world seems upset.”

‘n Lewe van tyd maak. Nêrens heen haas nie. Een ding op ‘n slag. ‘n Lewe van bewus word, inneem, verwonder, núút leer sien, lewe en lewensgeluk.
Daarom, maak nou ‘n bewustelike keuse om elke dag ten minste tien minute in stilte iewers by jouself te sit. Sodoende jouself te herinner om spoed te verminder.

Doen dit elke dag, en ek belowe jou, jou lewe sal meer sin bykry as wat ‘n oorsese vakansie ooit sal kan doen!

So ‘n sinvoller, kalmer en meer gefokuste lewe bring natuurlik nie net vir jouself ‘n dieper en betekenisvoller lewe nie maar ook vir almal wat jou pad kruis.
So ‘n lewe word pragtig vasgevat in een van my nuwe gunsteling gedigte (dankie Cecile!), Desiderata van Max Ehrmann.

“Go placidly amid the noise and haste,
and remember what peace there may be in silence.”

Gaan kyk gerus by hier vir die hele gedig. (Dankie Andries!) En dan het ek die Afrikaanse vertaling van die gedig gekry by Phillip (vir die hele gedig epos hom by pd.albertyn@gmail.com) – vertaal deur Jan Nel.

“Wees rustig te midde van die haas en rumoer,
gedagtig aan die vrede wat uit stilte kan kom.”