Is jy desperaat op soek na vrede en harmonie in jou lewe? Smag jy daarna om gelukkig te wees en ook om ander te help om dit te vind? Wil jy ‘n lewe leef wat diep en betekenisvol is? Wil jy ‘n verskil maak gedurende die tyd wat jy hier is? Wil jy met hartstog en energie lewe? Wil jy meer liefde en minder vrees in jou lewe hê?
Die antwoord op al bogenoemde vra kom neer op presies dieselfde, en dit is: Vergewe, vergewe en vergewe sonder ophou.
Klink dit oorvereenvoudig; te maklik om waar te wees? Wel, eenvoudig is dit beslis nie, en maklik – nooit! Enigeen wat al iemand moes vergewe wat hom of haar diep gewond het, sal saamstem, dis sekerlik een van die moeilikste dinge op aarde om te doen.
Seker daarom dat Mahatma Gandhi die volgende oor vergifnis gesê het: “The weak can never forgive. Forgiveness is the attribute of the strong.” Want dit vra alles van ‘n mens om werklik te kan vergewe. Soveel so, dat meeste mense dit eenvoudig net nie doen nie. En eerder bereid is om vir jare met die verlammende pyn, hartseer en woede saam te leef.
Hoekom is dit so moeilik om te vergewe?
Buiten die feit dat dit teen die instinktiewe (emosionele) reaksie van vergelding gaan, is dit grootliks op ‘n misverstand gebou. Ons glo dat vergifnis ‘n vryskelding is van ‘n ander se misdrywe en dade. Is dit so? Kom kyk nou saam met my na wat vergifnis werklik beteken.
Vergifnis, soos met enige dieper waarheid, begin altyd eers by jouself. Binne bepaal buite. Vergifnis gaan ten diepste meer oor jouself as oor dit of wie jy vergewe. En daarom is om jouself te vergewe altyd die norm van die mate waartoe jy ander sal kan vergewe.
Met ander woorde, jy kan net iemand anders vergewe in verhouding met die mate waartoe jy jouself kan vergewe. As jy dus sukkel om jouself te vergewe, hoe kan jy iemand anders enigiets vergewe? Daarom dat Joan Baez sê: “Forgiveness of oneself, is the hardest of all the forgivenesses.”
Jy moet altyd begin by die vraag: Waarvoor kan ek myself nie vergewe nie? Die antwoord op die vraag is presies die omskrywing van jou tronk en wie jou tronkbewaarder is.
‘n Tronk van haat en vrees; ‘n nagmerrie waar ou patrone jou oor en oor folter soos iemand wat ‘n ou plaat oor en oor speel. En die een wat dit doen is jyself. Jy is die een wat die plaat opsit. Jy is die een wat die verlede nie kan laat los nie. Die verlede hou jou nie vas nie, jy hou die verlede vas.
Daarom is dit noodsaaklik om jouself te vergewe om jou te bevry van die vernietigende energie van haat, woede en vergelding. Om te verstaan self-foltering en straf kan niks verander nie. Dit laat jou op ‘n vreemde manier dalk geregverdig voel, maar in wese doen jy niks; verander dit niks. Dis selfsugtig en ‘n maklike uitweg.
Die moeiliker pad is om op te staan en jouself te vergewe. En te lewe. Dit waarna die Griekse filosoof Plato verwys het met: “We can easily forgive a child who is afraid of the dark; the real tragedy of life is when men are afraid of the light.” Wanneer mense bang is om te leef, leef jy in die donker.
Desmond Tutu het dit mooi beskrywe met: “Because forgiveness is like this: a room can be damp because you have closed the windows, you’ve closed the curtains. But the sun is shining outside, and the air is fresh outside. In order to get that fresh air, you have to get up and open the window and draw the curtains apart.”
Die een wat uit die tronk van selfregverdiging, selfvergelding, haat, woede ensovoorts moet breek, is jy. Jy is die een wat die vensters moet oopmaak, sodat die lig kan inskyn.
Jou seldeur was en is nooit gesluit nie. Die Persiese Mistikus Rumi stem saam: “Why do you stay in prison, when the door is so wide open?”
Lewis B. Smedes sluit daarby aan met: “To forgive is to set a prisoner free and discover that the prisoner was you.”
Indien jy bogenoemde kan insien sal jy verstaan dat vergifnis meer te doen het met jou as met ‘n ander. En as jy dít verstaan, kan jy nie anders nie as om raak te sien vergifnis gaan in die eerste plek oor vry wees.
Indien jy nie vergewe nie, verruil jy die hier en nou vir ‘n tronk gevul met woede, haat, vrees en pyn. En die tronkbewaarder is óf jy óf die mens of mense wat jy nie kan vergewe nie.
Wanneer jy iemand nie iets kan vergewe nie, ketting jy jouself vas aan die persoon. Vergifnis is die enigste manier om jouself los te maak.
Die misverstand is juis hier op sy sterkste. Vergifnis beteken nie om die ander persoon vry te skeld van enigiets nie. Dit is om jouself vry te maak van die gevolge van daardie persoon se aksies en negatiewe energie.
Dis wat Alice May probeer sê met: “Hanging on to not forgiving, someone once said, is like drinking poison and hoping it will kill someone else.”
Dit vergiftig jou. Jy loop rond met daai energie, die ander persoon is dalk nie eens bewus van jou gevoelens nie.
Boeddha het dit vergelyk met ‘n warm kool wat jy optel om iemand anders mee te gooi, en op die ou einde is jy die een wat brand.
Daarom is vergifnis, eerstens, om jouself los te maak van ‘n ander se skuld en gevolge. Onthou, geen mens kan ‘n ander vryskeld van enigiets nie. Noem dit Karma, noem dit “wat jy saai sal jy maai,” maar die gevolge van jou dade volg jou soos ‘n skaduwee, en die pad wat iemand kies om te loop, word sy lewe. Die gevolge daarvan kan niemand wegneem of oorneem nie. Sekerlik daarom die spreekwoord: As jy leef volgens die swaard sal jy sterf volgens die swaard.
Dit bring ons dus by die kern van vergifnis, en dit is nie net om jouself en ander te vergewe nie, dit is om los te kom van die verlede. Die verlede se skuld. Soos ek soveel keer al gesê het: Lewe gebeur net in die hede. Gister is ewig verby en môre is nog nie gebore nie – ons het dus net nou. Nou is lewe.
En vergifnis is die spirituele krag wat jou kan losmaak van gister se houvas; ‘n houvas wat jou kan laat sterf voor jy sterf. Sekerlik daarom dat Gerald Jampolsky so sterk gevoel het dat hy gesê het: “Forgiveness means letting go of the past.”
Dit is natuurlik waarop Paul Boose se woorde ook wys: “Forgiveness does not change the past, but it does enlarge the future.”
Wat vir my meer en meer begin sin maak het oor die afgelope paar jaar, is dat die geheim tot die groot misterie van die lewe lê in die ewigdurende ontvouing van die nou. En dat wanneer ek teenwoordig is in my alledaagse lewe, met sy klein en groot, nuut en oud en vinnig en stadige pas, ek die polsslag van die goddelike kan beleef.
Daarom is vergifnis die enigste manier om bewustelik te lewe, soos David Ridge dit stel: “True forgiveness is not an action after the fact, it is an attitude with which you enter each moment.”
Een van my gunsteling Bybelse verhale, waar die beginsel van onophoudelike vergifnis geïllustreer word is waar Petrus, een van Jesus se dissipels, die vraag vra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds aan my gedoen het?” En dan antwoord hy self: “Selfs sewe keer?”
Hiermee probeer Petrus die algemene riglyn van die dag, naamlik om iemand drie keer te vergewe, nuut te interpreteer deur dit meer as te verdubbel. Jesus antwoord hom dan: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer.” Daarmee sê Jesus net soos Boeddha voor hom, dat vergifnis ‘n onophoudelike aksie is. Dit is die enigste manier om wakker en bewustelik te bly. Die enigste manier om vry te wees van gister se skuld en môre se vrees. Die enigste manier om vrede te vind, om harmonie en geluk te beleef.
Recent Comments