25 Desember vier miljoene Christene oor die wêreld heen Jesus se geboortedag. Dit ten spyte van die feit dat meeste van hulle weet dat 25 Desember nie die fisiese geboortedag van Jesus is nie. Dit is wel so dat meeste historiese kenners dit eens is dat die beskikbare bewyse daarop dui dat Jesus nie in Desember gebore is nie. Heelwat ander maande is al voorgestel; soos laat Januarie, Maart, April en selfs Mei – almal keuses wat meestal op ingewikkelde berekenings gegrond is.

So, hoe het dit dan gebeur dat 25 Desember die geboortedag geword en gebly het?

Wel, seker die mees voor die hand liggende rede is dat die vroeë Christene wat toe nog ‘n ondergrondse beweging was, ‘n bestaande Romeinse fees gebruik het as ‘n dekmantel om hulle eie fees te vier. En hierdie bestaande fees was die Romeinse feestyd van die Saturnalia. ‘n Fees wat jaarliks op 17 Desember begin het en geëindig het op 25 Desember.

Saturnalia was die tyd waar die Romeine hul god van gesaaides, Saturnus, vereer het. Op die laaste dag van hierdie fees, die 25ste Desember, het mense dan vir mekaar geskenke gegee.

25 Desember is ook beskou as die geboortedag van die songod, Mithras. In die Romeinse kalender (Noordelike halfrond) is dit dag van die Winter sonnestilstand, d.w.s. die dag waarop die lengte van die dae begin langer word. Op die daaropvolgende kalenderdae, die begin van Januarie, is die Dies Natalis Invicti Solis, die “verjaardag van die onoorwonne son” met sy terugkerende gloed en lig herdenk.

Eers in 336 n.C. het keiser Konstantyn die fees amptelik en openlik verklaar as die feesviering van Jesus se geboortedag. Dit was deel van die organisering en strukturering van die Christen geloof as ‘n amptelike godsdiens. Ongeveer veertien jaar later het pous Julius I (337-352) besluit die geboorte van Christus sou voortaan op 25 Desember herdenk word. Op dié manier het die pous gehoop om die Romeine makliker te bekeer. So sou hulle immers ook hul fees behou.

Daar is egter nog vele ander tradisies wat help vorm het aan die viering wat ons vandag ken as Kersfees. Maar meer as net die verkeerde geboortedatum van Jesus, bewys Kersfees ook hoe die proses van mitologisering werk.

Want wie presies was hierdie Jesus wie se geboorte miljoene mense nog jaarliks vier? Wel, die enigste manier om by die kern uit te kom, is om soos met die lae en lae verf en vernis op ‘n antieke tafel, te begin om dit af te skuur. In die proses kan jy selfs vind dat daar strukturele veranderings aan die tafel aangebring is.

Net so is Jesus ook onder lae van mitologisering toegeverf. Lae van bo-natuurlike engele, maagdelike geboorte, wonderwerke, ‘n hellevaart, ‘n opstanding, en ‘n hemelvaart.

Maar wie was die historiese Jesus? Wie was die Jesus onder die lae mitologie-verf?

‘n Mens, soos ek en jy.

Maar om by hierdie Jesus uit te kom is nie baie maklik of ‘n gewilde opsie nie. Dit ontstel en ontwortel mense in hulle geloof. Hulle wil “soos kinders” bly glo aan die gemitologiseerde kinderbybel Jesus. En sodra daar dieper gekrap word beleef baie mense dit as vyandig en selfs godslasterlik.

Daarom wil meeste Christene nie verder dink oor die saak nie. Hulle wil eenvoudig Kersfees vier op die 25ste Desember, met skaapwagters, wyse manne, stal en maagdelike Maria, geskenke en familie ete, presies soos hulle van kleinsaf geleer en gedoen het.

Daar is egter wel mense wat agter die skyn van dinge na die waarheid op soek is. Vir hulle maak die soektog na die oorspronklike Jesus tog wel sin. Soos om die antieke tafel te restoureer deur lae en lae verf en vernis af te stroop.

En een van die eerste lae verf wat weggestroop moet word is natuurlik die geboorte verhaal.

Die tradisionele Kersverhaal

Mites het ongelukkig die historiese Jesus se menslike spore weggevee, soveel so dat daar baie min herkenbare spore van hom as mens oor is. Net soos nou met Mandela besig is om te gebeur. En al wat uiteindelik oorbly is dan ‘n super-mens, bonatuurlike mitologiese wese, wie se menslike boodskap saam sy menslikheid verdwyn.

Kom ek illustreer wat ek bedoel vanuit die teks in Matteus 1:18-25 wat oor Jesus se geboorte praat (los vertaling):

“Die geboorte van Jesus Christus was só. Nadat sy ma, Maria, aan Josef as vrou beloof is, voordat hulle begin saambly het, het dit duidelik geword dat sy swanger was van die Heilige Gees. Haar voormalige man, Josef, het volgens Moses se wet geleef. Hy wou nie skande oor haar bring nie, en het toe besluit om in die geheim van haar afstand te doen. Terwyl hy daaroor dink, het ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en vir hom gesê: “Josef, jy het koning Dawid as ‘n voorouer. Moenie huiwer om Maria as jou vrou te neem nie, omdat dit wat met haar gebeur het, deur die Heilige Gees veroorsaak is. Sy gaan geboorte gee aan ‘n seuntjie en jy moet hom Jesus noem want hy sal sy volk van hulle sondes verlos.” Dit het alles gebeur sodat dit wat die Here deur die profeet Jesaja voorspel het, waar sou word: ‘Kyk, die maagd sal swanger word en aan ‘n seuntjie geboorte gee. En hulle sal hom Immanuel noem, dit beteken, God is nou by ons.’ Toe Josef wakker geword het uit sy droom, het hy gemaak soos die engel van die Here hom aangeraai het. Hy het Maria as sy vrou aanvaar, maar het nie seks met haar gehad totdat sy geboorte gegee het aan haar seuntjie nie. Josef het hom die naam Jesus gegee.”

Die teks bevat al die elemente van ‘n mite. Dit bevat bo-natuurlike karakters (‘n Engel, Heilige Gees, en droom visioene); hiermee saam reflekteer dit ‘n kosmos wat uit drie verdiepings bestaan, ‘n hemel bó die wolke, die aarde, en die onderwêreld en tyd word in twee gedeel, ‘n tyd van beloftes of voorspellings, en ‘n tyd van vervulling (die einde van die tyd).

Hierdie tyd word só deur God gedetermineer om daardeur ‘n vasgestelde struktuur aan die geskiedenis te gee. Só is die geboorte van ‘n kind uit ‘n maagd reeds in die Ou Testament (Jesaja 7:14) voorspel, en is daar ‘n Messias uit Dawid se nageslag soos lank reeds verwag.

Sien ook hoe kommunikasie tussen hemel en aarde by wyse van bo-natuurlike wesens met vlerke (engele) gebeur. Ons lees ook van ‘n tipiese mitologiese gebeurtenis, van ‘n goddelike wese wat ‘n kind verwek by ‘n aardse maagd. (Soos ook in die mite van die god Zeus en sy aardse vroue.)

Maar hier stop dit nie, die evangelie skrywers verf nog lae op Jesus. Lukas voeg die storie van die skaapwagters en die engele ook by.

As jy die mitologiese aard van hierdie en ander Kersverhale verstaan, kan jy baie duidelik die aangeverfde lae begin onderskei.

Die maagdelike geboorte

Die mite van die maagdelike geboorte berus natuurlik op ‘n primitiewe verstaan van die geboorteproses. In die Antieke wêreld is mense wat groot hoogtes bereik altyd vergoddelik. En hulle sukses is verklaar as dat hulle pa’s gode was. Voorbeelde hiervan is baie, Griekse heldefigure of gode (soos Heracles en Dionysus) is met maagdelike geboortes vereer, so ook, Alexander die Grote, keiser Nero, Konstantyn, Socrates, Plato, Aristoteles en Pythagoras.

En die hoofrede hiervoor was antieke mense se gebrekkige kennis van die geboorteproses. Hulle het regtig gedink ‘n vrou se bydrae is slegs soos die van ‘n blompot, waarin die manlike saad geplant word. Daarom was dit in daardie tye, nooit ‘n man wat onvrugbaar was nie, dit was altyd die vrou se skuld.

Die lewe van ‘n baba was dus alles gesetel in die saad van die man. Dit is onder andere die rede waarom geslagsregisters altyd volgens die lyn van die man gedoen is.

Om dus ‘n goddelike oorsprong vir Jesus en ander belangrike persone of figure aan te dui, moes die man daarom uit die vergelyking weggelaat word, nie die vrou nie. Presies so in die Jesusverhaal, waarin die Heilige Gees die rol van die man vervul.

In die 18e eeu is daar uiteindelik bewys dat die vrou die eiersel verskaf, asook 50% van die genetiese materiaal. En net op hierdie punt alleen, het die wetenskaplike onderbou vir ‘n teologie van Jesus se goddelikheid, eintlik geen gronde meer nie.

In elk geval, wanneer ons die mitologiese lae van die geboorteverhaal in Matteus konsekwent bly afskil, is al wat oorbly dat Jesus eintlik ‘n buite-egtelike kind was.

Dink so daaraan: Op ‘n jong ouderdom, waarskynlik kort nadat sy begin menstrueer het, het Maria se ouers (soos die gebruik was) haar as vrou beloof aan die veel ouer Josef, ‘n skrynwerker. Maar nog voordat Maria en Josef begin saamwoon, wat die amptelike begin van hulle huwelik sou aandui, het Maria reeds swanger geword.

Wie die pa van die kind was, is onduidelik. Dit was egter duidelik dat dit nie Josef was nie, want hy het dit ernstig oorweeg om nie met die reëling voort te gaan nie. Die Bybel self sê dit in soveel woorde; Matteus 1 vers 18: “Toe Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het…”

Daar bestaan wel baie teorieë, waarvan een is dat Maria swanger geword het weens ‘n verkragting. Ek noem dit, omdat vanuit ‘n buite-Bybelse geskrif daar hieroor melding gemaak word.

In ongeveer 178 n.C. skryf Celsus (sy geskrifte is verbrand; ons ken hom net uit ‘Contra Celsum’, Origenes se verweer), dat Jesus se pa moontlik ‘n Romeinse soldaat, Panthera, kon wees.

Ook in ‘n ander geskrif, die Joodse Talmud, word daarna verwys met: “Jesus, die seun van Panthera.”

Nou, hoe die storie verloop, is dat rondom die Christelike jaartelling, Palestina deur Romeinse soldate beset was. En Panthera was deel van die soldate wat so met Maria in kontak gekom het. In die Rynland, Duitsland, is juis ‘n grafskrif gevind waar ‘n Romeinse soldaat en boogskutter, Panthera, begrawe is nadat hy in Palestina diens gedoen het en toe in 9 n.C. oorgeplaas is.

Dit is dus heel moontlik dat hy die biologiese pa was van Jesus wat gebore is kort nadat Maria begin menstrueer het, waarskynlik op 12 of 13-jarige ouderdom.

Oor die aard van die verhouding tussen Panthera en Maria sou mens net kon spekuleer. Gesien die jong ouderdom van Maria, sou ons in elk geval haar swangerskap vandag as die gevolg van statutêre verkragting beskou het.

Die tradisie dat Jesus dus ‘n buite-egtelike kind was, is baie oud. Om die waarheid te sê, dit kom in die Bybel self ook voor. Die oudste Evangelie, Markus, wat so ongeveer 65-75 n.C. geskryf is, het byvoorbeeld glad nie die verhaal van die maagdelike geboorte in nie. Daarin word byvoorbeeld (Markus 6) vertel dat Jesus eenkeer na sy geboortedorp teruggekeer het. En op die sabbat het hy in die sinagoge gepreek. Toe het die mense daar gesê (6:3): “Is hy dan nie die timmerman, ‘n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?”

Nou hierdie vraag spreek boekdele. Want daar is altyd na ‘n kind se afkoms van vaderskant af aangedui, behalwe waar die kind buite-egtelik was; dan is dit van moederskant af gedoen.

Paulus beweer ook slegs dat Jesus “uit ‘n vrou gebore is” (Gal. 4:4), en het geen aanduiding dat die vrou ‘n maagd was nie.

‘n Ander verhaal

As die Jesus geboorte dus sonder die mitologiese lae gesien word, is daar ‘n wonderlike ander verhaal besig om vorm aan te neem.

‘n Buite-egtelike kind wat teen alle verwagtinge in, een van die grootste leermeesters van sy tyd geword het. Dit insig self is ‘n inspirerende verhaal. So inspirerend dat ek heeltemal kan verstaan dat die mense van sy tyd (en daarna) hom wou vergoddelik. En so het die mites rondom hom vinnig begin groei.

En onthou, mites is nie noodwendig vals nie. Per definisie is ‘n mite ‘n storie wat vertel is om te probeer verduidelik hoe die wêreld werk en hoe mense, binne ‘n sekere tyd, hulleself daarbinne probeer verstaan het en hoe hulle dinge gesien en vertolk het. Mites is dus wonderlike rigtingwysers op die pad van selfontdekking en die spirituele reis waarop ons almal is. Dit is simboliese en metaforiese vertellings.

So, wat was hierdie verhaal se eintlike betekenis dan?

Dat net soos die kindjie wat buite-egtelik gebore is en opgegroei het en iemand geword het wat nie net homself getransformeer het nie, maar ook so geleef het (en gesterf het) dat hy sy wêreld ‘n beter plek gemaak het. Net so lê daardie selfde potensiaal binne elkeen van ons. Sy lig het kom skyn in die donker sodat mense kon sien. Nou elke keer as ons hom herdenk moet ons onthou om self ook te skyn. En wat laat ‘n mens skyn?

Wel, soos Jesus as mens ons kom wys het – net liefde. Liefde wat praktiese gestalte kry, deur omgee, vergifnis, nederigheid, deernis en opoffering.

Is dit nie iets om te herdenk nie? Iets om jaarliks te vier nie?

Presies wat ons wêreld nodig het. Meer liefde. Minder vrees, haat, woede en ego. Presies wat hierdie onwaarskynlike verhaal van Jesus vir ons so kragtig illustreer. Dat ons wêreld net ‘n beter plek kan wees, as mense vanuit liefde leef eerder as ego. Dit is die betekenis van Kersfees sonder die mites. Vir my is die boodskap van Kersfees dus, dat Jesus my voorbeeld is van hoe om in liefde te leef. Hoe om te skyn in ‘n liefdelose wêreld. En daarom is Kersfees vir my ‘n Verligting-fees. ‘n Vryword-fees. ‘n Eenword-fees. ‘n Liefde-fees.