Tyd, glo meeste mense in die moderne wêreld, beweeg in ‘n reguit lyn; die individu is in beheer, ‘n agent van verandering, altyd op pad êrens heen.
En juis daarom meet ons sukses deur hoeveel van ons doelwitte ons bereik. Doelwitte wat ons moet indeel op hierdie reguit lyn van tyd: korttermyn-, intermediêre en langtermynteikens. Vyf- en tienjaarplanne.
Die ideale tydsbegrip (met ander woorde, die mees produktiewe) is dus die lineêre verstaan van tyd, nie waar nie? Want met so ‘n verstaan van tyd is dit moontlik om jou vordering te meet. Sekerlik waarop Benjamin Franklin se uitdrukking “Tyd is geld” ook gebou is. So word daar al hoe langer ure gewerk. En regverdig die ‘tyd gee vir die doelwitte’ die prys wat betaal moet word vir kwaliteit familietyd, gesondheid en speel.
Sukses word nou slegs gemeet in terme van rand en sent. Want is dit nie die kruks waarop meeste doelwitte neerkom nie?
Mense brand op ‘n al vroeër ouderdom uit, want as jy dit in die lewe jou doelwitte wil maak, moet jy bybly. Navorsing dui daarop dat ons gemiddeld al hoe minder slaap. En sodoende begin ons met ons gesondheid betaal.
Toe daar onlangs vir die Dalai Lama gevra is wat hy dink van die moderne mens se lewenstyl, was dit sy antwoord: “He sacrifices his health in order to make money. Then he sacrifices money to recuperate his health. And then he is so anxious about the future that he does not enjoy the present; the result being that he does not live in the present or the future; he lives as if he is never going to die, and then dies having never really lived.”
Die ironie is dus, dat alhoewel ons al vinniger begin leef, al meer doen, al meer sien, doelwit na doelwit aftiek, ons essensieel al hoe minder leef.
Omdat alles so vinnig moet gebeur, het ons kitsmense geword – alles moet nóú gebeur. In die proses het ons verleer om na iets uit te sien en die grootheid van oomblikke aan te gryp.
Die pas waarteen ons leef, het ook op kinders afgesmeer. Kinders móét presteer, kinders se programme is óórvol. Kinders leer dat selfwaarde en lewenswaarde gemeet word aan doelwit bereiking, en slegs dit. Nie meer van speel en kindwees nie, nie meer van ontdekking, menswees, deernis en geduld nie, maar van “buitemuurse aktiwiteite,” en “tyd is geld.”
En so verloor ons en ons kinders die bewustheid van een tree op ‘n slag. Een dag op ‘n slag. Daar is nie meer ‘n verskil tussen enige dae nie. Op ‘n Maandag of Saterdag of Sondag is die winkels oop. Een dag is soos die ander. Presies waarteen Paulo Coelho ons waarsku: “You can become blind by seeing each day as a similar one. Each day is a different one, each day brings a miracle of its own. It’s just a matter of paying attention to this miracle.” Miskien as ons tyd begin anders sien sal ons ook met ‘n ander ritme begin leef.
Dalk is ‘n sikliese verstaan van tyd meer akkuraat: dit beweeg in ‘n sirkel, van een oestyd na die volgende, afhangend van die seisoene; wat was, kom altyd weer verby. En weer. En weer. Net soos die son wat opkom en weer sak. Dalk is nog ‘n verdere stappie nodig. Miskien is selfs die sikliese verstaan van tyd ook ‘n illusie. Ek dink dit is nader aan die realiteit as die lineêre verstaan maar tog skiet dit te kort. Dalk bestaan tyd nie. Dit is iets wat ons as mens geskep het om te kan meet en onsself te oriënteer.
Wat ons deur die eeue heen goed gedien het, maar ongelukkig het dit ook ons beroof van sekerlik die kosbaarste geskenk, naamlik lewe in die nou.
Ja, tyd soos ons dit verstaan – met ‘n gister, vandag en more – is belangrik vir ordening, prioritisering, beplanning en organisering. Dit is belangrik vir die bak van ‘n koek en die meet van die maan se siklus om die aarde, die aarde om die son (dag en nag), die aarde se rotasie periode (seisoene) en atoom ossillasie.
‘n Horlosie meet hierdie tyd. Maar as die horlosie stop, stop tyd nie ook nie die beweging van die aarde nie. Eintlik is daar glad nie iets soos lineêre tyd nie. Al wat daar is is konstante vloei en beweging.
Seker daarom dat die Zen leermeester, Dogen die volgende gesê het: “Time is not separate from you, and as you are present, time does not go away. As time is not marked by coming and going, the moment you climbed the mountains is the time-being right now. If time keeps coming and going, you are the time-being right now.”
Tyd is dus ‘n wonderlike dienskneg maar ‘n wrede en genadelose slawedrywer. Want binne hierdie geskepte konstruk van gister, vandag en more, word ons gevangenes van iets wat nie eens bestaan nie. Dit bestaan net binne ons koppe/psige.
Daarom is Alan Watts se woorde ‘n goeie rigtingwyser: “Stop measuring days by degree of productivity and start experiencing them by degree of presence.”
Om dus op te hou wag vir eendag, want dit is om kosbare lewe te verruil vir ‘n illusie van more. Die lewe ontvou op geen ander plek of tyd as hier en nou nie. En iemand wat wag vir eendag, mis dit. En besef nie dat die toekoms waarop gewag word reeds gearriveer het in die oomblik nie. In essensie is daar nie iets soos more nie.
Dit wat Thich Nhat Hanh bedoel met: “Only this actual moment is life.” En hierby sluit die wetenskap ook aan deur Albert Einstein se verduideliking: “The distinction between the past, present and future is only a stubbornly persistent illusion.” Waarby Eckhart Tolle ook aansluit met sy: “To be free of time is to be free of the psychological need of past for your identity and future for your fulfilment.”
Die realiteit is, die lewe is deurmekaar, onregverdig, wonderlik, tragies, vinnig, stadig, mooi en lelik, eenvoudig en kompleks, alles in een. Alles nou en alles hier.
Daarom dat dit so belangrik is om ‘n bewustelike lewe te leef.
Verminder dus jou spoed, en ja ook jou doelwitte. Dus, maak jou los van die houvas van ‘n geskepte idee van tyd. Wees eenvoudig net wakker in die moment. En of jy sit of staan, loop of lê, wees teenwoordig daarin. Wees waar jy asemhaal.
Wees die beste jy wat jy kan wees binne hierdie oomblik, gee jou alles, gee jou aandag en werk hard. Doen dit nou. Dit op sig self sal die volgende moment se rigting bepaal.
Presies wat Alan Watts vir ons probeer sê: “No valid plans for the future can be made by those who have no capacity for living now.”
Recent Comments