Baie mense het ingekoop op die idee dat die lewe uitgestel kan word. Dat daar gewag kan word vir eendag, eendag wanneer – jy oud genoeg is, suksesvol genoeg, omstandighede meer gunstig is, die liefde van jou lewe gearriveer het, jou bevordering ‘n werklikheid geword het, meer geld en status na jou kant toe kom ens. – dan sal jou lewe werklik begin. Tot dan toe, probeer meeste mense maar net dag tot dag oorleef.

Dit is egter misleidend. Perfekte en volmaakte omstandighede is ‘n illusie. Volmaakte verhoudings bestaan net in stories en eendag op ‘n reëndag arriveer nooit nie. Die realiteit is, die lewe is deurmekaar, onregverdig, wonderlik, tragies, vinnig, stadig, mooi en lelik, eenvoudig en kompleks, alles in een. Alles nou en alles hier. Albert Einstein het dit mooi raakgevat met: “The distinction between the past, present and future is only a stubbornly persistent illusion.”

Om dus te wag vir eendag is om kosbare lewe te verruil vir ‘n illusie van more. Die lewe ontvou op geen ander plek of tyd as hier en nou nie. En iemand wat wag vir eendag, mis dit. En besef nie dat die toekoms waarop gewag word reeds gearriveer het in die oomblik nie. In essensie is daar nie iets soos more nie.

Dit wat Thich Nhat Hanh bedoel met: “Only this actual moment is life.”

Daarom dat dit so belangrik is om ‘n bewustelike lewe te leef. En dit beteken om wakker te wees vir nou, wakker vir die misterie, wakker vir die oomblik. Wakker vir die lewe.

Ja, tyd soos ons dit verstaan – met ‘n gister, vandag en more – is belangrik vir ordening, prioritisering, beplanning en organisering. Dit is belangrik vir die kook van ‘n eier, die bak van ‘n koek en die meet van die maan se siklus om die aarde, die aarde om die son (dag en nag), die aarde se rotasie periode (seisoene) en atoom ossillasie.

Dit help die mens om ‘n bewustheid te kry van tyd en ruimte en die voortbeweeg daarvan. ‘n Horlosie meet hierdie tyd. Maar as die horlosie stop, stop tyd nie ook nie, en die beweging van die aarde ook nie. Eintlik is daar glad nie iets soos lineêre tyd nie. Al wat daar is, is konstante vloei en beweging.

Seker daarom dat die Zen leermeester, Dogen die volgende gesê het: “Time is not separate from you, and as you are present, time does not go away. As time is not marked by coming and going, the moment you climbed the mountains is the time-being right now. If time keeps coming and going, you are the time-being right now.”

Tyd is dus ‘n wonderlike dienskneg maar ‘n wrede en genadelose slawedrywer. Want binne hierdie geskepte konstruk van gister, vandag en more, word ons gevangenes van iets wat nie eens bestaan nie. Dit bestaan net binne ons koppe/psige.

Kom ek illustreer wat ek bedoel. Daar is geen vloei van gister na vandag na more nie. Daar is net ‘n konstante nou. Maar omdat ons ingekoop het op die konstruk van tyd, leef ons asof gister nog ‘n realiteit is.

Finley Peter Dunne wys dit uit met: “The past always looks better than it was. It’s only pleasant because it isn’t here.”

En daarmee saam is daar die van ons wat die skuldgevoelens van gister heeltyd saamdra. Ons ly, ons folter onsself. En die ironie is, dit bestaan net in ons koppe.

Dus, maak jou los van gister. Wees eenvoudig net wakker in die moment. En of jy sit of staan, loop of lê, wees teenwoordig daarin. Wees waar jy asemhaal.

“Be the master everywhere and wherever you stand is your true place.” Sê Linji hieroor. Volg sy raad. Wees wakker en teenwoordig in jou lewe. Om dit reg te kry, volg die raad van die Tao Te Ching vers 20:

Klim uit jou kop,
En die meeste
Van jou probleme
Sal verdwyn. En dan, slegs dan sal jy verstaan wat Alan Watts probeer sê het met: “Stop measuring days by degree of productivity and start experiencing them by degree of presence.”