Hoekom is innerlike vrede en harmonie so ‘n skaars verskynsel? Dit ten spyte van so baie geloofs- en wysheidstradisies wat beloof dat hulle die goddelike aanwysings na lewensin en vrede het.

Want kyk ek rondom my sien ek baie mense wat sukkel met depressie en angsaanvalle. Statistieke van die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsstoornisgroep wys juis dat altesaam 22 mense in Suid-Afrika elke dag selfmoord pleeg en ongeveer 220 daagliks onsuksesvol probeer. En dan wys kenners ons daarop dat hierdie statistieke ‘n onderskatting is, aangesien die meeste gevalle nie aangemeld word as selfmoord of poging tot selfmoord nie.

Die realiteit is egter dat meeste van ons ten minste een iemand (indien nie self) ken wat aan depressie ly. En die persentasie van mense wat depressief is en wat tot selfmoord oorgaan staan op 60%. Wat verder ontstellend is, is dat die afgelope 15 jaar, selfmoord veral onder 10 tot 15 jariges verdubbel het. Dus, enigiemand wat nog maklike oplossings wil gee soos “Glo net in God” of “Kom tot bekering” verstaan duidelik nie die probleem nie.

Want in Suid-Afrika is meer as 75% van die bevolking Christene. Altesaam is 98% van die bevolking gelowig. Duidelik werk die oplossings wat die verskillende geloofstradisies bied, nie teen oormatige stres, angstigheid, gevoelens van paniek en buite beheer wees nie.

En anders as wat meeste mense dink, gaan selfmoord nie oor die dood nie, dit gaan oor desperaatheid. ‘n Desperaatheid wat duidelik die laaste paar jaar weens die ekonomiese, sosiale en ander lewensveranderende gebeure, onder mense toegeneem het. Nou is my vraag, hoe kan ‘n mens hierdie innerlike gevoelens van desperaatheid beveg?

En let asb. op, ek maak ‘n duidelike onderskeid tussen kliniese en maniese depressie (Bipolêre stoornis) en depressie wat deur stress, desperaatheid, verlies, trauma en dwelmmisbruik veroorsaak word. Die mediese wetenskappe behandel kliniese of major depressie baie suksesvol; studies toon juis dat tot 80% van pasiënte wat ly aan kliniese depressie met medikasie en mediese behandeling genesing kan vind.

Die depressie waaroor ek praat, gaan oor die donker en angstige gemoedstoestande wat ‘n reaksie is op omstandighede en gebeure. ‘n Toestand wat geen medikasie permanent kan verlig nie. Ek wil dus my vraag van vroeër weer herhaal: hoekom is innerlike vrede en harmonie so ‘n skaars verskynsel?

Miskien het dit te doen met die westerse denke wat leegheid sien as iets negatief, die afwesigheid van iets. Kyk maar net na die obsessie met sukses en welvaart. Leegheid wat gevul moet word met besig wees, doelwitte, prestasies, dinge en besittings. ‘n Tipiese verskynsel hiervan is dat mense die prys van alles ken maar die waarde van niks. Kyk maar net hoe mense uiterlike dinge en sekuriteit ten koste van innerlike vrede, najaag.

Die onlangse reaksie van Japan se mense op die tsunami en aardbewing tragedie, en daarmee saam die moontlike bestraling deur sy kernaanlegte, staan in radikale kontras met hoe die weste reageer op tragedies. Die kalmte, aanvaarding en daarmee saam die inspring om te herbou, het my aangegryp. Het dit nie dalk te doen met Oosterse denke en veral hulle verstaan van leegheid nie?

In die Oosterse denke word leegheid gesien as positief; die leë spasie maak beweging moontlik, vanuit niks word alles gebore. Soos in Zen verduidelik word, “Empty space is what makes a cup useful. (What good is a cup that is filled?)” Vir ons westerse denke maak hierdie uitsprake nie regtig sin nie. Maar hierin lê ‘n kragtige waarheid opgesluit wat elkeen wat dit ontdek se lewe radikaal kan verander.

Om regtig Oosterse denke te verstaan, is om te begin by een van hulle grootste spirituele leermeesters, Lao Tzu. Boeddhisme en vele ander Oosterse wysheidstradisies kan terug herlei word na sy wysheid.

Lao Tzu het volgens oorlewing in die sesde eeu v.C. geleef. ‘n Mistieke leermeester wat dikwels uitgebeeld word in ‘n lang wit rok en sandale, ‘n ou man met ‘n grys baard, wat die grootste deel van sy tyd in meditasie deurgebring het. En soos Boeddha en Jesus na hom, altyd daar was as mense met hom wou gesels en by hom wou raad hê.

Confucius (‘n ander bekende Oosterse leermeester en staatsman) het op ‘n keer by Lao Tzu, wat op daardie stadium reeds ‘n baie ou man was, gaan kuier. Na die tyd het Confucius aan sy volgelinge die volgende gesê: “Ek weet dat ‘n voël kan vlieg, ‘n vis kan swem, en dat diere kan hardloop. Om die wat hardloop te vang, stel jy ‘n wip; vir die wat swem, ‘n vangnet; en vir die wat vlieg, gebruik jy ‘n pyl en boog. Maar om ‘n draak wat sweef op die wind te vang is bo my begrip. Vandag het ek Lao Tzu ontmoet, en hy is soos ‘n draak!” En die simbool van ‘n draak, vir Oosterlinge, is die van wysheid en goddelikheid.

Die mite van Lao Tzu vertel dat teen die einde van sy lewe, hy besluit het om alleen weg te gaan. Nadat hy alles ingepak het, het hy op die rug van ‘n waterbuffel geklim en vertrek na die berge. By die Han-ku pas (op pad na Tibet) het die grenswag, met die naam Yin His (wat glo net die vorige aand van Lao Tzu gedroom het) hom voorgekeer en geweier om hom deur te laat as hy nie vir hom iets op skrif stel van sy filosofie en insigte nie. Lao Tzu het toe die Tao Te Ching (uitgespreek Dow De Jing) geskryf. Daarna het hy vertrek, en niemand het hom ooit weer gesien nie. Wel so word die legende vertel.

Die Tao Te Ching is ‘n dun bundel wat bestaan uit een en tagtig verse. Mense het hierdie bundel begin bestudeer en vanuit dit is Taoïsme gebore. ‘Tao’, as direk vertaal word beteken ‘Die Weg’. En as jy die Tao volgens Lao Tzu se filosofie wil opsom, sal ‘Die weg van minste weerstand’ seker die naaste daaraan kom. Vanuit hierdie filosofie kan iets van die optrede van die Japanese verstaan word.

Interessant van Lao Tzu se filosofie, is dat hy al sy wyshede gekry het vanuit dit wat hy in die natuur waargeneem het. Hy het byvoorbeeld ontdek dat selfs chaos ‘n delikate balans het, en dat in die natuur alles saamwerk om hierdie balans te behou. En dat net soos ‘n rivier, die mens moet vloei daar waar die minste weerstand is.

Deur die eeue het miljoene mense hierdie een en tagtig verse gebruik om vrede en innerlike verligting te beleef. En so het ‘Tao’ die omskrywing gekry as ‘Die Weg van Harmonie’. Lao Tzu het nooit enige aansprake gemaak op goddelikheid of heiligheid nie. Hy het met sy bundeltjie maar net probeer om sy filosofie deur te gee. In vele van die hoofstukke in die Tao Te Ching skryf hy dan ook dat as iemand van hom sou praat as ‘n meester, hulle nie daardeur moet sê hy was iemand wat heilig was nie, nee, hy was maar net iemand wat die verskil geken het tussen die werklikheid en sy idees oor die werklikheid.

Stephen Mitchell, ‘n Amerikaanse kenner van die Tao Te Ching, beskryf dit soos volg: “The master is just like everyone else, except that he no longer believes that in this moment things should be different than they are. Therefore in all circumstances he remains at ease in the world, is efficient without the slightest effort, keeps his lightness of heart whatever happens, and, without intending to, acts with kindness toward himself and everyone else. He is who you are once you meet your mind with understanding.”

Die klein bundeltjie het egter so ‘n kragtige effek op die psige gehad dat baie mense wel daarvan ‘n godsdiens gemaak het. Daarmee saam het dit meeste van die Oosterse lewens verstaan radikaal beïnvloed. Dink maar aan die Chinese se interne “Martial arts”, Tai Chi, Qigong, Feng Shui ens. Mettertyd is die Tao Te Ching opgevolg met twee ander werke, albei deur studente van Lao Tzu – Chuang Tzu en Leih Tzu. En vandag vorm hierdie drie geskrifte die basis van klassieke Taoïsme. En in essensie gaan die lering oor ‘n lewenstyl van harmonie, balans en innerlike vrede.

Hierdie eenvoudige verstaan van Lao Tzu kan natuurlik vir ons vandag baie help. Veral ons met ons oorvol, uitkoms gedrewe, aggressiewe en angstige lewens. Dit kan ons veral help om anders te kyk na die sin van die lewe. En dit op sig self kan ons uit die toestand van depressie lig.

En wat presies leer Lao Tzu?

Wel volgens hom is die Tao die verwysing na die oorsprong of bron van alles. Dit is interessant dat hy iets van evolusie verstaan het nog voor iemand soos Charles Darwin op die toneel verskyn het. Hoor hoe beskryf hy dit: “Tao gives birth to One, One gives birth to Two, The Two gives birth to Three, The three gives birth to all universal things.” As Paulus in die Romeine boek God beskryf met: “Uit hom en deur hom en tot hom is alle dinge”, beskrywe hy in essensie Tao.

Priya Hemenway beskryf Tao as volg: “It is from Tao and towards Tao that all life moves. At the beginning and at the end there is Tao. By its nature it is indefinable; it is emptiness, nothingness. It is perfectly still even while being in motion. To contemplate Tao is to contemplate the great mystery of life; to experience Tao is to have an experience which the mind cannot comprehend. To know Tao is to experience that which is eternal.”

Dit alles wys op wat Lao Tzu met Tao bedoel het, “dit wat is”, die realiteit van nou. Miskien sê Stephen Mitchell dit dalk duideliker: “Tao is reality. Reality is simple. There’s nothing behind it or above it, and it holds no secrets. It’s whatever is in front of you, what ever is happening. When you argue with it, you lose. It hurts not to be a lover of what is.”

Om dus vrede te maak met jou omstandighede, die gebeure daarbinne en die ontvouing daarvan in die nou. Dit is om “ja” te sê vir wat is; goed of sleg. Want eers as jy kan aanvaar wat is, kan jy vrede in die oomblik beleef. En vanuit hierdie vrede vloei daar dan ‘n krag wat positiewe invloed het op die lewe. Die filosofie van die ‘Weg van Harmonie’ kan veral mense wat moedeloos, ongewaardeer en hartseer voel, baie help. Om net enkele beginsels te noem:

Wu Wei. Die Chinese uitdrukking Wu Wei (uitgespreek woo way) kan direk vertaal word as “inspanninglose aksie” of “om te doen sonder om te doen”. In Engels vertaal “effortless action”. Met ons westerse uitkyk van produktiwiteit en prestasie sal ons dalk nie heeltemal hierdie insig verstaan nie, maar eenvoudig gestel beteken dit dat ons minder dinge moet forseer en meer vloeibaar en buigsaam moet wees. Soos Byron Katie dit sou stel: “Stop forcing life to be the way you want it to be, rather accept and let it be the way it is.”

As jy ooit die voorreg het om ‘n Tai Chi meester in aksie te sien, sou jy dalk beter verstaan hoe Wu Wei werk. Met grasie en sonder enige inspanning kan so ‘n meester die grootste opponente met slegs ‘n gewrigsbeweging omdop. Hierdie inspanningslose aksie kan ook waargeneem word by ‘n sportman of vrou wat in die oomblik is en egoloos vergeet van die skare, ook genoem “flow”. Daarom indien jy sou kon leer om lig en ongeforseerd te leef, soos ‘n arend in vlug, sou baie stress en spanning vanself verdwyn.

Nederigheid. In die Tao Te Ching word die leser telkens aangemoedig “om te word soos water”. En dit beteken dat net soos water wat altyd die laagste punt soek om na te vloei, of soos Jesus sou sê “die minste wees”, ons vanuit ‘n nederige en selflose kern moet leef. Want alhoewel die see laer is as die riviere, vloei alle water tog altyd terug na die see. Om daarom soos die see te wees is om te besef dat mettertyd jy verhef sal word tot meer. Hierdie ingesteldheid kan jou baie angstigheid spaar.

Sag en buigsaam. In Stephen Mitchell se vertaling van die Tao Te Ching skryf hy: “Men are born soft and supple; dead, they are stiff and hard. Thus whoever is stiff and inflexible is a disciple of death. Whoever is soft and yielding is a disciple of life. The hard and stiff will be broken. The soft and supple will prevail.” Die les hieruit is om sag en buigsaam te leef, nie net fisies nie maar ook emosioneel – in woord en daad. Want dan word jy net soos water. En niks is sterker as die soepel krag van water nie.

Yin en Yang. Hierdie beginsels gaan oor die aanvaarding van die werklikheid, naamlik dat alles in die lewe ‘n komplimenterende teenoorgestelde het, byvoorbeeld: soet en suur, manlik en vroulik, dag en nag. Dit is nie negatief teenoor positief nie, nee, dit is meer soos twee kante van dieselfde muntstuk. Hierdie simbool herinner ons dat die lewe bestaan uit ‘n konstante siklus van geboorte en sterwe en dat die een voortvloei uit die ander – net soos die sons-opkoms gevolg word deur ‘n sons-ondergang en seisoene mekaar die heeltyd afwissel. En omdat verandering ‘n konstante proses is, is dit baie dom om in te koop op enigiets as goed of sleg. Die een het die ander nodig. Net so het jy ook ‘n skadukant. Die geheim is om balans te vind. Om geïntegreerd te leef.

Natuurlik is dit maar ook net nog ‘n manier om na ons werklikheid te kyk. Alhoewel ‘n baie sinvolle lewensfilosofie, kan dit nooit verabsoluteer word as die enigste lewensfilosofie nie. Die kern beginsels wat Lao Tzu deurgegee het kom ook in baie ander wysheidstradisies na vore.

Beginsels wat ons moderne mens kan help om weer diepte en sin te vind. Ten spyte van ‘n wêreld wat deur kapitalistiese uitbuiting, onseker ekonomieë en toenemende desperaatheid gedryf word, kan ons vanuit ‘n stil kern leef. ‘n Innerlike vrede en harmonie kan ons gids wees in ‘n deurmekaar wêreld.

Dalk is dit wat Lao Tzu amper drieduisend jaar terug probeer sê het: “In the middle of nothing, I join the Source of All Things.” En Benjamin Hoff sluit hierby aan in sy briljante boek The Tao of Pooh met:

“We simply need to believe in the power that’s within us, and use it. When we do that, and stop imitating others and competing against them, things begin to work for us.”