Die filosofie van Lao Tzu (tydgenoot van Confucius in die sesde eeu v.C.) word saamgevat in sy enigste werk, genoem die Tao Te Ching (Boek van die Weg). Hierin lê hy veral klem op die mens se eie verantwoordelikheid om ‘n betekenisvolle en sinvolle lewe te leef. Hy beskrywe dan binne die 81 verse hoe hy dink so ‘n sinvolle en gelukkige lewe bereik kan word.

Sy wegspringplek is om te verduidelik dat die “Tao” (wat beteken “weg” of “pad”) neerkom op elkeen se persoonlike en unieke weg. Dat jy niemand anders se pad kan loop nie en dat niemand namens jou joune kan bewandel nie. Jy moet hierdie pad self stap.

Presies wat Boeddha se sterwenswoorde ook was: “Verganklik is alle dinge, werk julle eie heil uit.” Dit moes sy volgelinge seker baie ontstel het, want vir hulle was hy die redder, self god. En hier kom sê hy dat hy nie die antwoorde het nie, dat elkeen self sy antwoorde moet vind.

Maar hy’t geweet dat indien hy homself as die antwoord sou aanbied, dit sou meebring dat mense ophou om hulle eie weg te bewandel. Mense sou blindelings hom nagevolg het en uiteindelik slawe van sy denke en waarheid word. En dit sou meebring dat so ‘n persoon nie meer eerstehands leef nie. Alles sou net gefiltreer word deur die sogenaamde “god se waarheid.” Ongelukkig presies wat met meeste godsdienste gebeur het.

Hulle vloeibare woorde van wysheid het vinnig versteen in harde dogmas. Dogmas wat mense bind in plaas van bevry.

En wanneer ‘n mens gevangene is van sulke vooropgestelde dogmas, gevul met ander se idees, konsepte, ideologieë en ego-stories, word daar nie meer geleef nie, net bestaan. Presies wat die Zen leermeester Matsuo Basho jare later aan sy volgelinge sou leer: “Seek not to follow in the footsteps of sages; seek what they sought.”

Goeie raad. Want dit help ‘n mens verstaan dat jou lewensreis, joune is. Enige rolspelers (voor jou leeftyd of tydens) is slegs rigtingwysers. Gidse op die pad van jou lewe. Presies dit wat Lao Tzu se filosofie op die ou einde is. ‘n Wonderlike rigtingwyser. Maar slegs dit, ‘n rigtingwyser, nie ‘n bestemming nie.

Daarom seker dat hy so baie moeite doen om mense te herinner dat die enigste plek waar jy werklik waarheid en wysheid kan vind, is in in die ontvouende Tao, binne die oomblik, binne jouself.

Vers 14 van die Tao Te Ching sluit treffend hierby aan (my vertaling):

Jy kan dit nie begryp nie,
want daar is geen begin nie;
jy kan dit nie ken nie,
maar jy kan dit wees.

Tevrede en in harmonie met jouself
kan jy kennis verwerf van jou oerbegin;
dit is om werklik wys te wees.

Want is dit nie so nie, dat slegs deur nou en hier, wakker en bewustelik teenwoordig jou lewe in die oë te kyk, kan jy die insig en wysheid vind om die volgende tree sinvol te gee. Want sien, môre – of dan die toekoms – is net soos nou, oop en kreatief, daar is geen vaste of uitgewerkte plan nie. Niks is in vaste vorm gegiet of vooraf beskik nie, daar is geen bloudruk nie.

Die gegewe werklikheid is dat nou en die volgende nou en die een daarna, vol potensiaal en veranderlikes is, onvoorspelbare verrassings wat deel is van elkeen se lewensreis. Wysheid is dus om jou oop te stel vir hierdie veranderlike en onvoorspelbare en ontvouende aard van die werklikheid.

Om op te hou baklei teen dit wat is, en eerder die hier en nou te leer omarm en te gebruik as ‘n voertuig vir jou reis.

As jy dus wil weet wat die sin van jou lewe is en hoekom jy hier is, sal jy die antwoord vind deur die lewe in hierdie oomblik te leef, eerder as om te probeer inpas in ‘n formule of resep.

Want die lewe word heilig daar waar jy wakker word vir dit wat is, en daar waar jy jouself toelaat om spontaan en vry te leef.

Want deur hierdie wakker en vry lewe, kan jy, die reisiger, die Tao ontdek. Alhoewel onnoembaar, onsigbaar en selfs leeg, is dit ook ‘n kragtige teenwoordigheid, ‘n onkeerbare krag. Die bron en oorsprong vanwaar alles kom en waarheen alles uiteindelik weer terugkeer.

En op jou lewensreis word dit die kragbron wat jou kan help skyn.

Vergun my om af te sluit met vers 4 van die Tao Te Ching (my vertaling) om hierdie wysheid te illustreer: Die Tao is ‘n onuitputlike leegheid;
en al maak almal daarvan gebruik,
word dit nooit opgebruik nie.
In hierdie leegheid is daar plek vir alles.
En hoewel onsigbaar, skyn dit deur alles.