Ek was nog altyd ietwat van ‘n soekende swerwer.
Die eerste keer dat ek bewus geraak het van my swerwers-aard was toe ek omtrent nege jaar oud was. Dit was een Sondag tydens ‘n oggenddiens in die NG Moedergemeente op Bethal, ‘n klein dorpie daar ver ver op die plat Hoëveld.
Die predikant het iets gepraat van hoe seer ons God maak, elke keer wat ons twyfel in Sy bestaan. En net daar beleef ek ‘n lucidum intervallum. Ek het begin wonder oor God se bestaan. En soos die jare verby gegly het, het my vrae meer geword.
Ek moes net weet! Bestaan God of is dit ‘n menslik geskepte idee? Is daar bewyse vir Sy bestaan? Mag ek sulke vrae vra? Hierdie vrae het ek daagliks met my saam gedra.
Ek kon eenvoudig nie die twyfel wat dit in my gemoed wakker gemaak het, afgeskud kry nie. Ek vermoed dit is die hoof rede hoekom ek toe jare later teologie gaan studeer het. Maar selfs na ses jaar se teologiese studies en drie grade later moes ek erken die vraag was nie beantwoord nie.
Maar die vrae moes maar vir eers weggebêre word, want as ‘n jong predikant by ‘n bekende makro-gemeente in Pretoria, was dit tyd om te begin bou aan my loopbaan.
Gedurende hierdie tyd is ek gereeld oorval met twyfelvrae maar ek het instinktief geweet niemand mag hiervan weet nie.
Oor die jare heen het die swerwersgees my egter nie verlaat nie. En ek moes oor die jare al harder en harder werk om my soeke te onderdruk.
Hoekom kon ek nie vrae oor God vra nie? Hy is dan Almagtig! Sou my paar nietige vragies werklik God se almag kon bedreig? En so het hierdie fluistering wat ek as negejarige die eerste keer gehoor het, al harder binne my begin weerklink. Totdat ek eendag dit nie meer kon stil maak nie…
Ek het uit die kerk as predikant en as lidmaat bedank. Dit het soos verwag ‘n woestyn-tydperk laat aangebreek, iets wat maar met enige swerwer gebeur: die ongemak van waar jy is, oortref die vrees vir die onbekende.
Ek het verskillende godsdienste, o.a. Hindoeïsme en Boeddhisme begin bestudeer. Ek het filosofie en sielkunde begin bestudeer. Ek het ‘n wêreldreisiger geword wat sogenaamde heilige plekke die een na die ander besoek het. ‘n Mens sou kon sê ek het ‘n professionele God-jagter geword.
Ek kon op daardie stadium saamstem met Marie DeFloris se woorde: “Hunting God is a great adventure.” Want ek het so veel beleef, gesien en ontdek. Dit was verseker ‘n avontuur.
Die konklusie waartoe ek mettertyd gekom het was dat God ‘n geskepte idee was en is. Daarom dat daar só baie verskillende idees en konsepte van God bestaan. Want net soos mense in verskillende dele van die wêreld leef, verskillende tale praat en verskillende kulture beoefen, net so skep mense verskillende sienings, prentjies en idees van God.
Daarom seker dat God altyd lyk en klink soos die mense wat hom aanbid. Presies dit wat Steven Covey bedoel het met die mense se vermoë om dit wat hy sien self te skep: “We see the world, not as it is, but as we are – or, as we are conditioned to see it.”
Hierdie gewaarwording het my vry gemaak. Ek kon nou duidelik sien dat ek my eie idees, menslike idees, soos dit ook in meeste godsdiens gevind word, kon skei van God.
Dit is nie dieselfde ding nie, in teendeel. Hierdie vryheid het my gehelp om meer en meer my vrae oor God te besoek. Weg van die vrees en skuldgevoelens wat godsdiens so dikwels in ‘n mens wakker maak, het my soeke begin vloei.
Ek het tot die besef gekom dat niemand kan sê wie God is nie. God kan nie gedefinieer word nie, miskien net ervaar word, en die ervaring is dikwels nie veel meer as ‘n illusie nie. Tog is hierdie ervaring iets werklik vir die een wat dit beleef.
En dit wat jy ervaar, is binne jou, vir ‘n oomblik, baie keer iets soos ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan, ‘n eindelose rus, ‘n innerlike eenwording en ‘n intense gevoel van vervulling en tevredenheid.
Om God in jouself te vind is natuurlik nie ‘n nuwe konsep nie. Dit word al eeue lank bevestig, soos gesien kan word deur inskrywings op oue grafstene, tempels en mistici se uitsprake soos: “Daar is geen onderskeid tussen mens en God nie. Dieselfde oog waarmee ek na God kyk, is die oog waarmee God na my kyk.”
Want sien die menslike brein met sy twintig biljoen neurone en dertig duisend gene is ‘n geïntegreerde idee skeppende en kommunikatiewe sentrum. So die vraag is, is dit dáár waar elke mens se vermoë opgesluit lê om by die universele bewussyn uit te kom? Vind ons God dáár waar ons op ‘n manier verby die menslike grense van selfbewustheid beweeg en van die algehele eenheid van alles bewus word?
Of beteken dit maar net my bewussyn was al die tyd deel van God se bewussyn? Want as jy hierdie belewenisse het, begin ‘n mens God radikaal anders sien en ervaar jy in hierdie oomblikke van lucidum intervallum (Latyn: ‘n helder oomblik in tye van verwarring) jou lewe as sowel tydloos as grensloos.
Maak dit sin? Tien teen een nie. Miskien is dit presies die probleem wat Boeddha, Jesus, Rumi en Kahlil Gibran en ander beleef het, toe hulle iets van hulle gewaarwordings wou verwoord aan ander. Dit was nooit bedoel om letterlik opgeneem te word nie. Dit was nooit bedoel om dogma te word nie. En daarin lê die omskrywing van God ook vir my – iets van wat die teoloog Paul Tillich (1886-1965) genoem het “The ground of all being” of wat die filosoof Martin Heidegger Sein, “Being as the supreme reality” genoem het.
Dalk was Boeddha se manier, om nie oor God of die transendente te praat nie, maar tog die beste weg. Hy het gesê dit is sinloos om te probeer praat of filosofeer oor God. Daarom sy fokus om eerder hierdie lewe, hier en nou heilig te maak. Dalk is dit waar God is. In die lewe hier en nou. In die asem van jou asem.
En so het my soeke na God, uiteindelik ontvou in ‘n soeke na sin. ‘n Reis – ‘n swerwersreis – na myself. ‘n Reis wat nooit ophou nie. ‘n Reis wat nêrens heen gaan nie, maar ook nooit stilstaan nie. ‘n Reis wat nie buite God of weg van God plaasvind nie. Die reis is deel van God. Die reis is God.
En my besef dat alhoewel ek eendag fisiek sal vergaan, dit nie die einde van my reis nie. Maak dit sin? Tien teen een nie.
Die reis gaan voort… Sela, al die swerwers!
Recent Comments