Meeste van ons ken die verhaal van Moses en die brandende doringbos baie goed. Die verhaal wat in die Bybel, Ou Testament opgeteken is (Eksodus 3:1-12). In kort gaan dit oor Moses wat die kleinvee van sy skoonpa Jetro oppas. Nie iets wat Moses noodwendig vervul het met sin en betekenis nie, maar dit was werk wat gedoen moes word. En terwyl hy dan met die kleinvee diep die woestyn in gaan, kom hy by Horeb, die berg van God.
Daar aangekom, kom hy af op ‘n brandende doringbos. Nie noodwendig iets buite die gewone nie. Die verskil in dié geval is egter, so word vertel, dat die spesifieke bos nie uitbrand nie.
En soos Moses nader beweeg om ondersoek in te stel, so word daar deur oorlewering vertel, kom daar ‘n stem uit die brandende doringbos. “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Natuurlik skrik Moses en word baie bang.
Die stem gaan dan voort om vir Moses te sê dat die lyding van sy volk onder die mag van die Egiptenare, nou end moet kry. En dat Moses die uitverkorene is om die bevrydingswerk te gaan doen.
Miskien voel baie Suid-Afrikaners presies soos Moses. Ook ons is by ‘n fase in ons lewens, waar ons moedeloos is met die situasie in die land, elke dag bring vir baie van ons nader aan ‘n tipe Rubicon.
Hier praat ek natuurlik nie van wit teen swart nie, nee, ek praat van Suid-Afrikaners, ongeag kleur, ras, geslag, ouderdom, godsdiens, kultuur of seksuele oriëntasie. Suid-Afrikaners wat moedeloos en vuisvoos is van die korrupsie, wanbestuur, misdaad, kultuur van geweld en uitsiglose toekoms waarin ons ons daagliks bevind.
Dis hoekom Moses se storie ons so aangryp, omdat ons soms net so ontuis, so vreemd voel, in ons eie land. En soos vir Moses, kom groot vrae daagliks aan die orde: Wat is ons besig om met ons lewens te maak? Wat soek jy agter die skape, Moses? Wat doen ons nog hier in Suid-Afrika? Het ons ‘n rol te speel of moet ons eerder onttrek en vlug? Is daar nog hoop?
En net soos met Moses gebeur in hierdie verhaal, word ons krisisse, ons brandende doringbos oomblik. Ons situasie word ons oomblik van keuse. Ons situasie dwing ons om wakker te word vir dit wat voor ons ontvou.
Daar is sulke oomblikke, wat nie gister of more is nie, nie ‘n spesifieke plek of tyd nie, nie bo of onder nie, nie werklik of denkbeeldig nie. Dit is tussen-in tye, wat jy moeilik vind, en moeilik by kan bly, soos in die woestyn by ‘n doringbos wat brand en nie uitbrand nie. Dit is hier waar iets gebeur, soms iets vreemd, buitengewoon, kreatief. Jy leer wat jy op geen ander plek of tyd kan leer nie – soos wie is jy, wat is jy en hoekom jy spesifiek hier is.
Een van die eerste dinge wat in hierdie buitengewoon kritiese oomblik gebeur, is dat jy soos Moses ‘n stem hoor. Soos ‘n wind wat in ‘n woestyn waai en in die droë blare van ‘n doringbos stembande vind. ‘n Stem wat opwel vanuit die diepste dieptes van jou wese. ‘n Goddelike stem, jou stem. ‘n Ontwaking.
Net soos Moses wat God ervaar, nie soseer as ‘n persoon nie, maar as ‘n aspek van die werklikheid wat hom direk aanspreek. Ons noem dit “Panenteïsme,” die krag van die lewe wat voortstu, ten spyte van angs en vrees se vlamme.
En wat sê die stem? “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Hier kon net so wel gestaan het, “Ek is die God van almal, die God van jou hele lewe. Die God wat orals is, heeltyd is, die lewe self en jy-self.”
Dit wat so mooi verwoord word in die Tao Te Ching, vers 25:
Alomteenwoordig.
Dit is die Moeder van die heelal.
Die naam ken ek nie,
Ek noem dit daarom maar die Tao.
Dit vloei deur alle dinge,
Dit brei uit en omvat alles,
En alles omvattend keer dit terug
Na die oorsprong.
En wanneer Moses hierdie kreatiewe krag ervaar, wat die lewe nuut maak, beleef hy ook ‘n ontwaking in homself. Hy word wakker. En omdat hy nou anders is, verander alles. Hy kyk met nuwe oë na ‘n ou situasie. En alhoewel niks konkreets verander het nie, het alles tog verander, want hy is anders.
Dit is presies wat die wakkerword proses vir my is: dat ons op die een of ander manier in ons elke dag stryd om te oorleef, iets soos deernis, iets soos medelye, iets soos liefde vir die situasie en mense rondom ons begin ontwikkel. Dat ons met oë van liefde na die liefdelose wêreld om ons begin kyk. Vir my is dit die definisie van ‘n wonderwerk.
En ja, die Bybelse verhaal van Moses se ervaring is baie primitief. Sy visie van die beloofde land is ‘n visie ten koste van ander. Om daar te kan bly, moet ander volke uitgemoor en verdryf word: die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewitiete en die Jebusiete.
Die eng beskouing van die Christendom dat God ‘n persoon is wat baie soos ‘n patriarg of koning lyk (Teïsme) begin al hoe meer nadele inhou: ‘n God wat as ‘n meestersimbool funksioneer vir “ons” teen “hulle,” vir ‘n samelewing wat sekere mense as tweederangs hanteer, vir onderdrukking van sekere mense, vir haatspraak teen mense wat anders is as ek.
Dit is wat ons van die tradisionele Christendom begin moeg maak: die engheid, die seksisme, die onverdraagsaamheid, die haat, die veroordeling, die volgehoue stryd om mense te probeer beheer en manipuleer. Daarom is die verhaal van Moses by die brandende doringbos soveel meer as net ‘n eng verstaan, nee dit reflekteer die allesomvattende struktuur van die werklikheid, van die lewe self.
Die “ons” wat verruim word sodat niemand langer vreemd en uitgesluit voel nie; ons is hier en deel van alles. Deel van die netwerk van die lewe. Dit is wat verander binne mense wanneer hulle wakker word vir die lewe self. Noem dit ‘n egte Godservaring: die besef dat ek deel is van die groter geheel.
En as ek ‘n patroon hierin kan raaksien, lyk dit vir my, is dit ‘n beweging weg van vormgodsdiens af, want vormgodsdiens skep identiteit wat mense afgrens van ander af. En dit help ons nie met die situasie in ons land nie, nee, dit vererger dit net. Vorm staan ondergeskik aan die inhoud. En die inhoud van godsdiens, dit waaroor dit eintlik gaan, moet eerder: geregtigheid, gelykheid, liefde, medemenslikheid, ‘n groter wordende en insluitende eenheid wees.
Die stem sê nie vir Moses: ek sal jou help as jy die regte geloof oor my huldig nie. Die stem sê bloot vir Moses en vir ons, “Daarom stuur ek jou na die Farao toe sodat jy my volk kan bevry.” Let wel, ons, jy word gestuur om die plan te gaan uitvoer.
Hoor jy dit? Moses, ‘n hakkelende en lafhartige mens word gestuur om die werk te gaan doen. Net so is daar geen verskoning vir enigeen van ons om nie deel te word van hierdie land se oplossings nie. Jy is nie te wit of te swart, te ryk of te arm, te swak, te ongeleerd of onbelangrik om deel te word van die bevryding van die “slawe” nie.
Om die waarheid te sê, elkeen van ons word opgeroep om ‘n verskil te maak. Dit kan wees daar waar jy iemand vergewe of jouself vergewe. Dit kan ‘n oomblik in tyd wees waar jy vir die eerste keer jou ware self ontmoet. En só begin ons op een of ander eenvoudige manier iets doen, om ‘n verskil te maak, omdat ons in liefde uitreik na ons omgewing en ons situasie. Want net liefde is groot genoeg om die stukkend en seer van ons wêreld te omvat. Jy is Moses en Suid-Afrika is jou brandende doringbos.
Recent Comments