Elkeen van ons het nodig om te herontdek dat ons in eenheid met alles en almal om ons staan, eerder as die foutiewe aanname dat ons los staan en geïsoleerd kan leef. Dat ons ‘n eiland is.
Die feit van die saak is dat ons onlosmaaklik (“interconnected”) deel is van alles. En of dit diere, plante of mense is, indien ons iets sou seermaak – ons inderwaarheid dit ook aan onsself doen. Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar: Wanneer ons onsself liefhet on so ook ander kan liefhê.
Ons is dus nie ‘n eiland nie maar deel van die stroom, deel van die rivier.
So word alles ‘n spieël. Jy sien jouself in alles. Of dit ‘n spinnekop of ‘n blom is, jy is deel daarvan. Ons moet ophou dink in kategorieë. Wysheid is om te besef dat jy juis nie los van die skepping staan nie, maar inherent deel daarvan is. Dit bring mee dat jy twee keer dink voordat jy sinlose geweld gebruik teenoor enige lewende wese, of dit mense van ander kulture is of renosters of “fracking” in die Karoo. En hiermee saam ook die vele menseregte bewegings wat juis deur hierdie nuwe spiritualiteit gedryf word.
Daar word nou meer met liefde gewerk eerder as vrees. Daarom word daar heeltemal wegbeweeg van oordeel, sonde, straf en verdoemenis. En nader beweeg aan vergifnis, aanvaarding en verdraagsaamheid. Iets van ‘n eerlikheid wat na vore kom eerder as ‘n skynheiligheid.
Hierdie verstaan van deel-wees en een-wees met die stroom van die lewe, maak die mens mensliker, meer aards. Dit help ons om meer te lag, stadiger kwaad te word en vinniger te vergewe. Daarom is die strewe na ‘n beter wêreld en lewenskwaliteit vir alle lewende wesens, onafskeidbaar deel van een wees met alles en deel wees van alles.
Die Amerikaanse digter Walt Whitman som hierdie spiritualiteit op met die volgende: “This is what you shall do: Love the earth and sun and the animals … dismiss whatever insults your own soul, and your very flesh shall be a great poem.”
Dink net hoeveel anders ons wêreld sou lyk as mense wakker geleef het vir die realiteit dat hulle deel is van die stroom, teenoor die eiland konstruk. Wakker vir hulle deel-wees, wakker vir hulle gedeelde identiteit met alles om hulle. En wakker vir die realiteit dat alles vloei, beweeg en lewe. Dink net hoeveel energie mense daagliks vermors omdat hulle probeer om ‘n eiland te wees in die ewigdurende veranderende stroom. Hulle probeer dit doen deur te manipuleer, forseer, oorheers en beheer. Heeltyd besig om te heers en domineer. Eerder as om te vloei saam met die stroom van die lewe.
Om te verstaan dat ons moet ophou weerstand bied teen die ewigdurend wisselende ritme van die lewe. Miskien is dit omdat meeste mense nog nie besef daar is so ‘n vaste ritme nie. Miskien het ons godsdienste en teorieë ons aan die slaap gemaak vir hierdie realiteit.
Wat ook al die rede, meeste mense mis die essensie van hulle lewe omdat hulle vasgevang sit binne hulle koppe en droom van eendag, eerder as om nou te leef. Ons het blind geword vir die feit dat ons die interpreteerders en beoordelaars van ons lewens is. Dat ons gevoelens binne ons is, nie binne ons realiteit nie, en ons het inkoop op ons ego stories.
“A Buddha is one who lives from moment to moment. Who does not live in the past, who does not live in the future, who lives in the here and now. Buddhahood is a quality of being present – and it is not a goal, you need not wait, you can become a Buddha just here and now.” So skrywe Osho.
Wat hy natuurlik hier “Buddha” noem, kan net so wel vertaal word met “Christus bewussyn” of verligte mens. Boeddha beteken mos juis, “Die een wat wakker is.”
Wakker vir wat? Wakker vir die lewe wat is. En wakker vir die feit dat jy verantwoordelik is vir jou eie lyding veral wanneer jy inkoop op jou stories en konsepte oor die lewe, in plaas van die lewe self. In Zen word na hierdie ‘wakker word’ verwys as ‘Satori’ (Awakening). Alan Watts omskrywe Satori so: “Satori is to know what reality is not. It is to cease identifying oneself with any object of knowledge about reality.”
Neem nou maar net die werklikheid van die lewe as ‘n dans tussen donker en lig, geboorte en sterwe. Konstante verandering, konstante groei.
Om die waarheid te sê, die enigste iets wat in hierdie lewe nooit verander nie, is dat alles heeltyd verander. Konstante afwisseling van dag na nag na dag. My en jou lewensgeluk hang daarom daarvan af dat ons die wisseling aanvaar en nie teenstaan nie.
Die denkfout wat meeste van ons maak is om nag teenoor dag te stel. Om te wil kies vir een, in plaas van saam met die afwisseling te dans. Want om nie te aanvaar wat in die oomblik ontvou nie, is om heeltyd te dink aan waar jy nie is nie en aan dit wat jy nie nou het nie, en dit is ‘n resep vir lyding. Deur te aanvaar dat jy in die hier en Nou is, bring jou direk in die stroom van die lewe. Die feit van elkeen van ons se lewe is tog: waar jy ook al is, daar is jy.
Om wakker te word vanuit jou onbewuste bestaan beteken dus om raak te begin sien wat reeds hier is, om te aanvaar sonder oordeel en om teenwoordig te wees sonder veroordeling.
Presies wat die spirituele leermeester, Thich Nhat Hanh se lering van “mindfulness” so kosbaar vir my maak. Dit herinner my elke keer dat die lewe se vloei gebeur net hier en nou. En dat ek bewustelik moet teenwoordig wees binne my lewe en saam moet vloei. En om te besef dat ek, net soos enige ander lewe, deel is van hierdie stroom … self die stroom is.
Recent Comments