Stres is sonder enige twyfel een van die dodelikste simptome van ons moderne samelewing.

Want dit is nou maar net ‘n feit, dat teen te veel senuspanning die mens eenvoudig min tot geen effektiewe verweer het. Dit beïnvloed nie net ons uiterlike lewenskwaliteit nie maar is ook ‘n dodelike innerlike kanker wat sistematies ons gesondheid en lewensvreugde kan steel.

Maar presies wat is stres? Op sy heel eenvoudigste, is stres ‘die innerlike gevoel wanneer jy spanningsdruk beleef.’ En let wel, dit beteken nie noodwendig dat dit net sleg is nie. Matige druk kan produktief wees, jou selfs die motivering gee om tot aksie oor te gaan en om te streef na verbetering en sukses.

Vra maar enige goeie sportman of vrou. Innerlike druk, wanneer positief gekanaliseer, kan ‘n wonderlike motiveerder wees.

Die ironie is dus dat stress ‘n goeie en selfs nodige energie is. Maar te veel daarvan en veral ongekontroleerde stres is baie skadelik en afbrekend vir die mens.

In die geneeskunde veral word hierdie ongesonde stres gedefinieer as ‘n ‘fisieke, chemiese of emosionele ontwikkeling wat spanninge veroorsaak wat tot liggaamlike siektes kan lei.’

So het die Kanadese navorser Hans Selye (1907-1982, die eerste persoon wat die term stres gebruik het) in sy navorsing bevind dat blootstelling aan langdurige stres ongelooflik nadelig en skadelik vir die mens (en dier) is.

Die rede hiervoor is, dat stres die hele liggaam in die stres-reaksie betrek. Jou sintuie sit die reaksie aan die gang, waarna die boodskap van gevaar of angs deur die brein ontvang word. Dan kring dit uit na al die liggaamstelsels deur onder andere adrenalien wat afgeskei word.

Adrenalien help om die liggaam reg te kry om te reageer, deur onder meer die hartklop en asemhaling te versnel en die bloedsuiker te vermeerder.

Dit is soos wanneer ‘n mens skrik vir iets, of jouself in ‘n oomblik van dreigende gevaar bevind – die veg of vlug scenario. Selfs ook, wanneer jy voor mense moet optree of op jou voete moet dink, is adrenalien ‘n goeie ding.

Die probleem kom egter in wanneer stres onbeperk bly voortduur, en jou liggaam dus aanhoudend adrenalien produseer, en dit lankal nie meer nodig is nie. Hierdie uitgerekte blootstelling aan stres put dan nie net die liggaam se energievoorrade uit nie, dit kan selfs tot die dood lei.

Presies wat gebeur in meeste mense se daaglikse lewens. Mense wat letterlik heeltyd in die hoogste versnelling funksioneer – gedurig gereed om te “veg of te vlug.” Dit kan gebeur weens die oggend se druk verkeer op pad werk toe, werkspanning, verhoudingsdruk, finansiële probleme of weens politieke en sosio-ekonomiese toestande.

Wat natuurlik eerste gaan ingee in so ‘n onbepaalde stres toestand, is die geneties kwesbare kettings in jou liggaamstelsels of -organe. Veral komende van die gene wat jy oorgerf het.

Byvoorbeeld, as vernoude bloedvate ‘n oorerwing in jou familie is, en jy dalk ook onfiks, oorgewig, gedrewe en dalk perfeksionisties is – is beroerte of ‘n hartaanval vir seker jou voorland.

Maar nog lank voordat jou liggaam so dramaties begin ingee, sal stres jou op allerhande ander maniere begin afbreek.

Die Engelse praat hiervan as “burn-out” (die verskynsel van “uitbranding”). Dit word meestal gekenmerk deur fisieke tekens soos gereelde hoofpyne, moegheid, diarree of hardlywigheid, slaaploosheid en spierpyne om maar net ‘n paar te noem.

Emosioneel kan die uitbranding manifesteer as angstigheid, geïrriteerdheid, liggeraaktheid, selfs huilerigheid, moedeloosheid of depressie.

Baie keer sal iemand wat so voel kla dat hulle verstand suf voel of dat hulle nie meer so goed kan onthou nie of lewensmoeg voel.

Dat hierdie gevolge van langdurige stres, benewens die genoemde hart- en bloedvatsiektes, ook tot kwale soos maagsere, depressie en selfs kanker kan ly, is hoogs waarskynlik.

Die rede is natuurlik omdat stres die liggaam se vermoë verminder om teen siektes te veg. Stres is dus een (van baie komponente) wat die werking van die immuunstelsels teenwerk.

Nou, indien ons eerlik kyk na die afbrekende voorkoms van stres in ons lewens, moet ons ook daarby raaksien, dat stres iets is wat ons kan beheer en bestuur. Soveel anders as byvoorbeeld iets soos jou gene (erflike faktore) waaroor jy geen beheer het nie.

Presies so is die lewe ook verdeel tussen dit binne jou beheer en dit daarbuite.

En ironies genoeg, word stres juis veroorsaak wanneer mense fokus op dinge buite hulle beheer, eerder as dit binne hulle beheer.

Kom ek verduidelik wat ek bedoel. Die lewe werk soos ‘n seilboot op die oop see. As kaptein van hierdie seilboot is jy in beheer, jy bepaal die rigting en die spoed. Maar die wind en die weer is buite jou beheer. Die beste wat jy daaraan kan doen is om so vaardig moontlik te wees in die lees van weer-tekens en die tegnieke van seilkuns onder die knie te kry.

As jy dus onverhoeds betrap word deur ‘n storm, help dit nie om kwaad te word of selfs angstig nie. Jou enigste sinvolle opsie is om na die beste van jou vermoë te probeer om jou seile te gebruik om die grootste gevaar van die storm te probeer vryspring. Die realiteit is egter dat jy oorgelaat is aan die storm, wat natuurlik totaal en al buite jou beheer sal voortwoed.

So is dit binne jou beheer om te beplan, maar ‘n ongeluk is nie. ‘n Gesonde lewenstyl is binne jou beheer; om egter met kanker gediagnoseer te word is buite jou beheer. Om vriendelik te wees is binne jou beheer, om vriendelikheid terug te ontvang is buite jou beheer.

Hiermee saam is dit ook interessant om raak te sien dat die area van beheer kleiner is as die area buite jou beheer. Maar die goeie nuus is, dat indien jy fokus op jou area binne jou beheer, jy wel invloed kan uitbrei oor die area buite jou beheer.

Ek illustreer wat ek bedoel: Terug na die seilboot metafoor. Hoe meer ervare en geoefen die kaptein van die seilboot is, hoe beter kans op oorlewing is daar. Met ander woorde, hoe vaardiger jy oor dit binne jou beheer is, hoe beter vaar jy met dit buite jou beheer.

‘n Voorbeeld hiervan is iemand wat geleer het om sy humeur te beteuel. So ‘n persoon het ‘n beter kans op sukses in ‘n oomblik van krisis as iemand wat gereeld sy emosie die oorhand laat kry.

‘n Ander voorbeeld is die van iemand wat motor bestuur. Die persoon wat geleer het om ‘n motor te kan hanteer as dit byvoorbeeld gly, sal tien teen een beter vaar as iemand wat nog nie dit geleer het nie. Sodoende het die persoon wat geoefen het om beheer te behou as die kar gly, sy invloed oor dit buite sy beheer uitgebrei.

Die essensie van hierdie benadering is dus om te leer om dit wat buite jou beheer is te laat gaan en te fokus op dit binne jou beheer.

Hugh Prather sê dit so goed met: “You can’t control other egos and events, so let go of control. You can only control your focus. So focus on what unites, comforts, and stills your mind.”

Die ‘laat gaan’ van dit buite ons beheer, bevry ons van die kettings van stres.

Om te ‘laat gaan’ beteken natuurlik nie om net terug sit en oor te gee nie. Nee, wat ek bedoel met ‘laat gaan’ is ‘n innerlike losmaak van jou oor-identifisering met dinge wat buite jou beheer lê.

Selde impliseer ‘laat gaan’ ‘n uiterlike weggee of afstaan van iets. In wese gaan dit meer oor ‘n gesindheid van aanvaarding, losmaak en vrede maak met gegewe uiterlike omstandighede.

Iets van wat in die Bybel in Prediker 11 vers 6 voorkom: “Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort. Jy weet nie watter van die twee sal ‘n oes lewer nie en of altwee ewe goed sal wees nie.”

Die kragte buite jou beheer, is wat hoë stress vlakke bring. En om daarom te ‘laat gaan,’ is om te erken dat jy net beheer het oor jouself, jou gesindheid, jou keuses, jou bereidheid, jou passie en jou fokus. En dat dit ‘n illusie is dat jy enige beheer het oor dinge soos die wêreld ekonomie, politieke strominge, die weer of ander mense se gemoedstoestande.

Die teenoorgestelde van stres is ontspanning. En wanneer jy kan vrede kan maak met dit wat buite jou veld van beheer lê, slegs dan kan jy begin ontspan.

Sodoende kan jy leer om ook te ontspan oor môre en dit wat môre bring. Hierdie ontwaking breek die bande van stres.

Die effektiefste manier wat ek ken om te leer ontspan, is om doelbewus die spoed waarteen jy leef te verminder. Dit waarna die Amerikaanse Boeddhis Sharon Salzberg verwys met: “Restore your attention by dramatically slowing down whatever you’re doing.”

Want is dit nie maar so, dat net wanneer jy stadiger en meer ontspanne leef, jy kan sien wat belangrik is en wat minder belangrik is. Jason Fried dink ook so met: “When you really want to do something right, which is usually what you should be striving for, you tend to slow down.”

Daar is geen beter teenmiddel teen stres as die vermindering van spoed nie. Om te midde van jou gejaagde lewe, ‘n innerlike ingesteldheid van rustiger en kalmer uitkyk te hê.

Die einste raad wat St. Francis de Sales (1567-1622) soveel jare terug al gegee het: “Never be in a hurry; do everything quietly and in a calm spirit. Do not lose your inner peace for anything whatsoever, even if your whole world seems upset.”

Let wel, hierdie is nie ‘n luuksheid nie. Óf jy vind balans en fokus en daarmee saam sin en diepte in jou lewe. Óf jy gaan te vinnig leef en hoë stresvlakke beleef en iewers eendag sal jou liggaam oppak en daarmee saam jou lewenskwaliteit.