Die einde van die jaar het gekom en gegaan en die nuwe jaar is hier, kan jy dit glo!

Dit voel vir my of ek nog gister myself moes instel om te onthou dit is 2015. En nou, nou snel ons al tot die konklusie daarvan. Dit maak ‘n mens net weer bewus van die spreuk: tyd staan stil vir niemand nie. Onverstoord en onkeerbaar vloei sekondes in minute, minute in ure, ure in dae, dae in maande en maande in jare.

Dit is dus verstaanbaar dat as jy nie oppas nie, jy alles kan mis, selfs jou lewe.

Juis daarom is ‘n diep en spirituele lewe, ‘n wakker en bewustelike lewe. Dit beteken om te kies vir minder eerder as meer, stadiger eerder as vinniger. Om te fokus op wat in die oomblik voor jou afspeel en ontvou, hoe gering ook al.

Dit is dus om in die teenoorgestelde rigting te gaan as wat die wêreld propageer. Hulle sê doen meer, prop elke minuut vol ervarings en belewenisse. Doen meer.

Wat ek hier bedoel is, doen minder. Dalk omskrywe die Tao Te Ching vers 48 (my vertaling) dit beter:

In die soeke na kennis,
Word daar elke dag iets bygevoeg.
In die soeke na die Tao,
Word daar elke dag iets weggeneem.

Of soos Henry David Thoreau dit stel: “Our life is frittered away by detail … simplify, simplify.”

Skaal af, doen minder maar met meer aandag. Is dit nie maar so, dat slegs wanneer jy spoed verminder en begin waarneem wat om jou gebeur, jy eers regtig begin sien nie?

Dink maar net aan wat gebeur as jy op vakansie gaan en meteens die sonsondergang se skoonheid weer sien. Dit is natuurlik veel meer as net sien, dit word ‘n belewenis. Dit word selfs heilig.

Daarom seker dat St. Francis de Sales so aangedring het op ‘n stadiger lewenspas: “Never be in a hurry; Do everything quietly and in a calm spirit. Do not lose your inner peace for anything whatsoever, even if your whole world seems upset.”

Hierdie ‘verminder spoed’ filosofie gaan egter nie daaroor om alles teen ‘n slakkepas te doen nie. Dit gaan veel eerder om te soek na die regte spoed waarteen alles gedoen moet word.

Om die minute en ure se tempo te voel, eerder as om jou tempo daarop af te forseer. Om dinge so goed as moontlik te doen, eerder as so vinnig moontlik.

Presies dit wat Eddie Cantor ook gevind het en omskrywe het: “Slow down. It’s not only the scenery you miss by going too fast – you also miss the sense of where you are going and why.”

Dit gaan dus oor kwaliteit eerder as kwantiteit, in alles, van werk, oefening, speel, eet, drink, seks tot verhoudings.

Want die realiteit van die saak is, dat indien jy te vinnig leef, die gejaagdheid binne jou kom nes skrop. En hierdie innerlike gejaagdheid veroorsaak dat jy baie foute maak en baie gevaartekens miskyk.

Dit wat Ieyasu Tokugawa omskrywe as: “Let thy step be slow and steady, that thou stumble not.” Want in jou haas vorder jy meestal veel stadiger, as wanneer jy rustig en kalm dinge sou benader. Dus is stadiger, eintlik vinniger.

Natuurlik voel dit nie so nie. Want jy het al so gewoond geraak aan spoed, soveel so dat meeste mense permanent gejaagd voel. Heeltyd aangedryf voel – al is dit meestal nie nodig nie. Die einste gejaagdheid wat jou dryf om meer en meer te probeer inpas in ‘n dag.

En sonder dat jy dit agterkom betaal jy ‘n baie duur prys. Nie net met jou gesondheid nie (bekende gevolge soos stres, hoë bloeddruk, spysvertering probleme, lae immuniteit, hartprobleme ensovoorts) maar ook veral met jou innerlike harmonie en vrede.

Stadiger lewe, is dus ‘n innerlike ingesteldheid, eerder as ‘n uiterlike toestand. Dit gaan oor die vind van ‘n spontane verhouding met tyd. Om die “regte spoed” te vind. En dit gaan net gebeur as jy meer tyd maak vir stilte, luister, rus, lag, kuier, speel en net wees. Meer nog, dit is lewensbelangrik.

Om stadiger te leef is dus om dieper en gelukkiger te leef.