Ek moes op die harde manier leer dat niemand my kan help met my soeke na my self nie. Dit is my pad om te loop. My avontuur, my reis.

Want sien, elke keer wat ek eerder na iemand anders luister as na my eie innerlike waarheid, verstil ek my eie stem en word ek al hoe meer afhanklik en selfs ‘n slaaf van iets of iemand buite my.

‘n Goeie leermeester is dus altyd iemand wat jou help om jou eie stem, jou eie waarheid te herontdek. Iemand wat ‘n spieël vir jou ophou.

Dus enige persoon, lering of organisasie wat jou verder van jouself af neem, buite jouself oplossings en redding voorhou, is lewensgevaarlik.

En presies hier sien ons die gevaar van enige georganiseerde godsdiens. Ja, alhoewel meeste godsdienste wel selfkennis propageer, is die beskouing van “Ons alleen het die antwoorde,” sekerlik die giftigste gif moontlik teen selfkennis en selfontdekking.

Want die oomblik wat enigiemand of enige lering jou probeer oortuig om iets buite jouself te gaan soek, maak dit jou ‘n slaaf. ‘n Slaaf van wat ook al hulle as antwoord aanbied.

En deur die eeue is daar baie wat oortuig was hulle het die “antwoord” gevind. Dan is daar reëls en dogmas vasgelê vir almal – om die “antwoord” wat gevind is, as die volkome en enigste waarheid te (moet) aanvaar. En stadig maar seker het hierdie reëls en formules ook goddelike wette geword.

Geen verdere twyfel of vrae was geduld nie, net lojaliteit en blindelingse geloof en navolging. Kategorieë ontstaan soos: ons en hulle, gelowiges en ongelowiges, verlostes en verlorenes. Jy is gered of jy is verlore. En so het enigiemand wat nie dieselfde “waarheid” aanhang nie, jou vyand geword. Vandag nog sien ons die verskynsel, Christene is Moslems se “infidels” en Christene beskou Moslems as ongered.

So word Godsdienste dan geslote sisteme. Geen soeke of twyfel daarbinne toegelaat nie – net glo, verdedig en bely. Die hele lewe en sin vasgevang binne spesifieke rituele, seremonies, simbole en verstaan.

Dus, jy is wie jou godsdiens sê jy is. En dis gewoonlik sondig, swak en verlore, totdat jy jou self (en al jou lojaliteit en geld) aan hulle gewy het, dan is daar moontlikheid om gered te word van hierdie sukkel-bestaan.

En natuurlik ook geen verdere soeke nodig nie. En wat gebeur? Jy verloor jou stem, jou waarheid. Jy word ‘n slaaf van ander mense se opinies en idees. Nee, die antwoord op “Wie is ek?” lê ongelukkig buite godsdienste en eerder binne jouself. Sekerlik daarom dat die Indiese leermeester Osho ook waarsku: “Discover yourself, otherwise you have to depend on other people’s opinions who don’t know themselves.”

So indien jy wil weet wie jy is, hou op om ander te vra, vra jouself. En hiermee kan spiritualiteit wel baie help. Spiritualiteit is ‘n eerlike reis na die waarheid nie buite jouself nie, maar ‘n reis na binne. Dis nie ‘n filosofie met ‘n klomp reëls nie, dit is veel meer van ‘n belewenis en ‘n wete.

Dis ‘n misterieuse ervaring nie ‘n universele waarheid nie. Dis ook nie ‘n doel in sigself soos godsdiens nie. Dis nie ‘n doelwit wat jy kan bereik of ‘n eindpunt waarby jy kan aankom nie. Dis ‘n voortdurende reis. Dit is soos ‘n kunstenaar wat skep. Geen enkele skepping van ‘n kunstenaar is sy of haar finale werk nie. Elke nuwe kunsstuk verteenwoordig die kunstenaar se groei en transformasie.

Ram Dass het spiritualiteit beskrywe as ‘n voortdurende proses van transformasie. Hy verwoord dit as volg: “Everything in your life is there as a vehicle for your transformation. Use it!” Om enige verwarring te vermy, is dit nodig om duidelik te besef, Godsdiens en spiritualiteit is nie dieselfde ding nie.

Spiritualiteit is in wese die proses van selfontdekking en groei. Spiritualiteit is altyd oop. Godsdiens is nie en godsdiens se fokus lê na buite, spiritualiteit se fokus is weer altyd na binne. Dit kan natuurlik op die oog af baie egosentries en selfsugtig lyk. Want waar godsdiens mense uitstuur om ander te gaan bereik vir hulle “evangelie” en aangemoedig word om hulle self op te offer, vra spiritualiteit van jou om eers na binne te beweeg.

Dit vat jou weg van ander af sodat jy eers jouself kan ontdek. Hiervan is Jesus se woestyntyd ‘n goeie voorbeeld. In sy selfontdekking word sy binnekant soos sy buitekant. Meer nog, hy ontdek sy goddelikheid binne hom en vind so sy verhouding met die sin van die lewe. Dit is spiritualiteit, die reis na binne.

Met tyd neem die spirituele reis jou wel na buite, na die ander. Die verskil is net dat nou herken jy jouself in die ander. Alles word ‘n spieël. Daarom dink jy nie meer in kategorieë nie, maar holisties. Jy ervaar al meer jou onlosmaaklike “interconnectedness” met alles en almal. En daarom as jy diere, plante of mense seer sou maak – besef jy dat jy jouself seermaak.

Die antwoord op “Wie is ek?” word nou veel wyer as net ‘n ego. Jy besef dat die Kosmos inherent deel is van jou. Daarom begin jy twee keer dink voordat jy sinlose geweld gebruik teenoor enige lewende wese, of dit renosters, die natuur of ander mense is.

Spiritualiteit, anders as godsdiens, bring die besef dat mense nie die kroon van die skepping is nie, maar slegs ‘n vertakking van “die boom van lewe.” Dit wat Thich Nhat Hanh omskryf as die eintlike doel van spiritualiteit: “We are here to awaken from our illusion of separateness.”

Daarom is die strewe na ‘n beter wêreld en lewenskwaliteit vir alle lewende wesens, onafskeidbaar deel van spiritualiteit. Die antwoord op “Wie is ek?” is dus altyd om meer menslik, meer jy te word, meer aards. Om meer te lag, stadiger kwaad te word en vinniger te vergewe. Om te wees wie jy is, in elke oomblik, eerlik en outentiek.

Dit waarna Nisargadatta Maharaj verwys met: “There is nothing to practice. To know yourself, be yourself. To be yourself, stop imagining yourself to be this or that. Just be.” En ja, so is die eenvoudige vragie, “Wie is Ek?”, die begin van jou reis terug na jou self.

Veilig loop my mede reisigers!