Die spiritualiteit van teenwoordigheid is ‘n term wat ek gebruik om die wakker word vir die hier en nou te beskryf. Dit is ‘n ingesteldheid om bewustelik te leef, om met aandag en fokus elke hier en nou te betree, in die oomblik en in die hart van misterie van wat is.
“Eternity is here and I was hoping for it. What I wish for now is no longer to be happy, but only to be aware.” So skryf Albert Camus nadat hy ook besef het dat om bewustelik teenwoordig wees in sy lewe, die kern van geluk is.
Waar het ons gekom aan die idee dat alles wat die moeite werd is buite die hier en nou lê? Altyd buite ons bereik, ‘n koninkryk in die lewe ná hierdie een, of dit nou reïnkarnasie of ‘n ewige lewe as belonging is.
Altyd eendag wanneer… my skip ingekom het, eendag wanneer ek genoeg geld, besittings, geleenthede het… dan sal my lewe begin.
Maar so ‘n eendag arriveer nooit. Want die punt is, daar is nie so ‘n eendag nie. Daar is net nou. En die hartseer is dat jy jou lewe mis deur te wag vir so ‘n denkbeeldige eendag.
Dit is natuurlik juis hierdie keuse om in die nou te leef wat jou kan help om wakker te word vir jou ware self. Want die ego (valse self) kan eenvoudig nie oorleef in die daglig van die bewuste nie. Die ego het die stories van die verlede en die stories van die toekoms nodig om te oorleef.
Die oomblik wat jy sterf aan gister en ophou bekommer oor more, word die nou ‘n heilige plek. En is jy vry.
“A Buddha is one who lives from moment to moment. Who does not live in the past, who does not live in the future, who lives in the here and now. Buddhahood is a quality of being present – and it is not a goal, you need not wait, you can become a buddha just here and now.” So skrywe Osho. Wat hy hier “Buddha” noem, kan ons net sowel vertaal met “Christus-bewussyn” of verligte mens. Boeddha beteken mos maar net “Die een wat wakker is.”
Meeste mense leef egter vas aan die slaap. Ja, meeste van ons word ook nooit wakker nie. Dit is hartseer om te sien, maar meeste mense lewe onbewustelike lewens. Ons kan dit ook noem ‘n lewe wat op “autopilot” geplaas is, of soos iemand wat in sy slaap wandel.
Is dit nie ironies nie, dat dit juis onmenslike dinge is soos om opgesluit te wees in ‘n tronk, siekte wat jou lewe inperk of situasies waar jy buite beheer voel, wat jou meer van jou ware “human existence” leer.
En wat ons leer is nie net om wakker en teenwoordig te lewe nie, maar ook dit wat daarmee saam gaan. Want om te fokus op die nou is om vrede te maak met wat is.
Om te aanvaar waar jy jouself bevind, al is dit nie noodwendig waar jy nou sou wou wees nie.
Henry David Thoreau omskrywe dit so: “Only that day dawns to which we are awake.” Om wakker te word vir die realiteit van die oomblik: goed of sleg, bly of hartseer, hoogtepunt of laagtepunt. Dit gaan oor wakker word vir die realiteit van die oomblik.
Saam met Thoreau voel ek ook dat ‘n bewustelike lewe jou laat wakker word vir die ewige Nou. Want is dit nie so dat gister al gister verby is en môre nog nie gebore is nie?
Ja, ons kan beplan vir môre en leer uit gister, maar ons kan verseker nie daar leef nie. Om in jou kop weg te kruip in gister of môre se herinneringe en drome, is om aan die slaap wees.
Om teenwoordig te wees in jou eie liggaam, verhoudings, pyn, vreugdes, verlies en lewe is veel meer spiritueel as om te ontvlug in stories van gister of more. Ook godsdiens-konstruksie stories wat jou vertel van ‘n hiernamaals ens, wat meeste van die tyd heel wêreldvreemd is.
Ek dink wat vir my meer en meer begin sin maak het oor die afgelope paar jaar is dat ek deel is van die kosmos en sodoende deel ek ook in die groot misterie. En oomblikke wanneer ek werklik teenwoordig in my eie lewe is ek ‘n fraksie van die verwondering van die misterie beleef.
Nie ‘n verwondering van bonatuurlike en ander-wêreldse dinge nie. Verwondering van die eenvoud van teenwoordig wees van my elke dag lewe. Want in die teenwoordigheid van jou eie lewe, met sy klein en groot, nuut en oud en vinnig en stadige pas, vind jy die wonderwerk – die polsslag van lewe!
Wie is dus nie reeds heilig nie? Wat is nie reeds gevul met die goddelike nie? Elke oomblik van elke dag is gevul met die heilige, maar slegs die wat wakker is daarvoor en kyk sal sien wat nog altyd daar was.
Dit laat my onwillekeurig dink aan ‘n ou Zen meester wat vir my gesê het: “You hear the birds? You see the sun? Who is not enlightened?!”
Recent Comments