My antwoord op Ds. Rudi Swanepoel se artikel.

Al hoe meer mense voel in vandag se snel veranderende wêreld ontnugter en onvervuld binne hulle geloofstradisies. Baie beleef dat hulle ontgroei hulle “kerk” waarbinne hulle opgegroei het. Presies wat Ds. Rudi Swanepoel (van die NG Kerk Andrew Murray in Johannesburg) so verwoord het: “…baie lidmate het reeds geloop. Hulle het vertrek, nie omdat die kerk te vrydenkend geraak het nie, maar omdat die kerk nie insluitend (en vrydenkend) genoeg is nie!”

Hiermee verwys hy na die huidige uittog van lidmate uit die tradisionele Christelike kerke en die transformasie proses vir die wat agterbly en vir wie die kerk wel nog ‘n belangrike tuiste bly.

En alhoewel hy hierdie saak baie gebalanseerd benader, kan mens tog sy frustrasie as leraar hoor as hy skrywe: “…vooruitgang word gestuit deur behoudendes wat die kerk (en sommige ampsdraers!) as gyselaar hou met die dreigement dat hulle ‘gaan loop’.”

Hierdie sogenaamde “behoudendes” waarna hy verwys, is juis die wat krampagtig vasklou aan ou waardes en dan laer trek en probeer verhoed dat eietydse spiritualiteit omarm word.

En dit bring dan die onnodige situasie na vore waarbinne mense gedwing word om te kies. Dit wat David John Tacey verwoord met: “We are caught in a difficult moment in history, stuck between a secular system we have outgrown and a religious system we cannot fully embrace.”

Want is dit nie so dat ons leef in ‘n tyd waar al hoe meer mense tot die besef kom dat spiritualiteit en godsdiens nie noodwendig dieselfde ding is nie?

En dit gebeur nie net hier nie, dit is wêreldwyd reeds ‘n geruime tyd aan die gebeur. Mense wat buite tradisionele tradisies begin soek na spiritualiteit.

En dit bring natuurlik mee dat baie mense die tradisionele “kerke” verlaat. Daar is egter ook die groep, waarvan Ds. Rudi Swanepoel ‘n mooi voorbeeld is, wat binne hulle tradisie wil bly en daarbinne verantwoordelik wil soek na vernuwing en transformasie.

Hiervan is die Amerikaanse Christen denker, Diana Butler Bass, ook ‘n voorbeeld. Sy skryf in haar boek, Christianity after Religion, “…we are, at a critical stage in a completely new spiritual awakening, a vast interreligious progression toward individual and cultural transformation, and a wholly new kind of post religious faith…”

Hierdie ‘post religious faith’ waarvan sy praat, verwys na mense wat ongeag binne of buite hulle godsdiens tradisies (in dié geval Christelik) na nuwe antwoorde soek. En hierdie soeke is natuurlik die vrugte van ‘n eerliker, mensliker, meer aardse, eenvoudiger en respekvoller benadering tot lewe.

Daarmee saam ook die behoefte aan ‘n meer verantwoordbare en deurdagte manier van dink. Dit waarna die neurowetenskaplike en erkende ateïs Sam Harris verwys: “Spirituality requires the same commitment, as science, to intellectual honesty.”

Die tyd van onkritiese, onverantwoordelike, bygelowige en voor-wetenskaplike denke is verby. Mense soek na ‘n verantwoordbare, eerlike en eietydse spiritualiteit.

In Gordon Lynch se boek, The New Spirituality: An Introduction to Progressive Beliefs in the Twenty-first Century, lig hy dan ook die basiese riglyne vir so ‘n nuwe spiritualiteit uit: “…the need for a credible religion for a modern age; the need for religion which is truly liberating and beneficial for women; the need to reconnect religion with scientific knowledge; the need for a new spirituality that can respond to the approaching ecological crisis.”

‘n Spiritualiteit wat instinktief weet dat ons as mens deel uitmaak van dit wat ons ‘lewe’ noem. Ons is nie die heersers of kroon van die skepping nie, nee ons is inherent deel daarvan. Dit wat die wetenskaplike en Astronoom Carl Sagan lank terug reeds gesê het: “When we recognize our place in an immensity of light-years and in the passage of ages, when we grasp the intricacy, beauty, and subtlety of life, then that soaring feeling, that sense of elation and humility combined, is surely spiritual. So are our emotions in the presence of great art or music or literature, or acts of exemplary selfless courage such as those of Mohandas Gandhi or Martin Luther King, Jr. The notion that science and spirituality are somehow mutually exclusive does a disservice to both. Science is not only compatible with spirituality; it is a profound source of spirituality.”

En hierby sluit Ds. Swanepoel pragtig aan as hy sê: “My eie ervaring is dat mense wat die term “spiritueel” gebruik, voel hulle het die (institusionele) kerk ontgroei. Wat ook waar is, is dat ‘n groeiende getal mense ‘n geïntegreerde geloofsbelewing en Godsbelewing het.”

Lyk my tog dat ongeag geloofsoortuigings, kultuur of opvoeding, mense in essensie streef na lewens wat diepte het, wat ‘n verskil kan maak en wat dinge uiteindelik sinvoller kan maak as net om daaglikse te oorleef.

As meeste mense dus vandag oor spiritualiteit praat, gaan dit vir hulle oor die waardes waarvolgens hulle wil leef en die sin wat dit aan hulle bestaan kan gee in die hier en nou. ‘n Sinvolle lewe, ongeag watter godsdienstige groep hulle nog sou aanhang al dan nie.

Daarom dat daar ook gepraat kan word van ‘n ateïstiese spiritualiteit of post-godsdienstige spiritualiteit. Spiritualiteit het verseker nie meer te doen met ‘n spesifieke geloof se aanbidding, interpretasie en vertolking van ‘n God teenoor ‘n sondige wêreld nie.

Die dualiteit wat Ds. Swanepoel as “geestelik en beestelik” beskrywe, en wat hy ook saamstem nou eerder ‘n “geïntegreerde geloofsbelewenis” moet word.

Want as God deel is van alles en alles is deel van God, dan word sekulêre, elke dag dinge, tog meer heilig – nie minder heilig nie.

Dit is dus daarom baie interessant dat spiritualiteit nou al hoe minder gekoppel word aan ‘n sogenaamde bonatuurlike wese. Nee, spiritualiteit word al meer ‘n beskrywing van mense se verstaan, dat sin en waarde in die alledaagse gevind word. Dit wat Alan Watts ook gesê het: “The mundane and the sacred are one and the same.”

Spiritualiteit beteken dus om verankerd in hierdie lewe te lewe; en dit maak ‘n heilige respek vir elke oomblik wakker; ‘n verwondering oor die misterie van die lewe, en ja selfs ook die dood. Dit is daarom vir my so wonderlik om te sien dat al hoe meer mense en selfs leiers van tradisionele godsdiens tradisies openlik oor hulle verstaan van spiritualiteit begin praat. Dankie Rudi Swanepoel, jy verwoord baie mense se soeke na sin. Hopelik sal ons mekaar kan help wakker word (en bly!) vir die heiligheid wat in die hart van elke oomblik teenwoordig is.