Spiritualiteit gaan in essensie oor hoe om wys te leef, om diepte en sin te vind te midde van ‘n wêreld wat meestal oppervlakkig en kunsmatig is. Dus is die groot vraag wat spiritualiteit betref nog altyd: Hoe leef iemand wat wys is? En vandag vra ons dieselfde vraag: Hoe leef ons wys in ‘n onwyse tyd, ‘n tyd van geweld, korrupsie en magsmisbruik? Wat beteken wysheid in vandag se omstandighede?
Let wel, voor ons verder gaan: Daar is ‘n onderskeid tussen wysheid en om reg te wees. Om reg te wees, is meestal konteks gebonde. Iets wat reg is vir ‘n Eskimo, is dalk heeltemal nutteloos en verkeerd vir ‘n woestynbewoner. Net so ook is moraliteit in oorlogstyd anders as in vredestyd. Dis presies waarna die vorige drie sprekers ook verwys het. Tye verander, seisoene kom en gaan. Frans Cronjé (Politieke analis) het begin deur te sê dat alhoewel dit nie tans goed gaan in ons land nie, dit voorheen al erger was. Dit wat was, gebeur weer en so herhaal die geskiedenis homself die heeltyd deur. Pieter Geldenhuys (Toekomskundige) het ook hieraan geraak met sy verwysing na hoe iemand wat wys is die tekens in die verlede en hede kan lees om daardeur beter insig in die toekoms te vind. En André Bartlett (NG Teoloog) se gesprek rondom die kerk se huidige posisie in die samelewing wys ook duidelik dat niks stilstaan nie. Alles is die heeltyd besig om te transformeer en iets anders te word. Evolusie. En juis daarom is dit nodig om nie vas te val in wat tans in ons wêreld afspeel nie. Om wys te leef vra juis van ons om vloeibaar en wakker te leef, sonder om in te koop in vandag se sienings as die enigste en onveranderde waarheid. Dis presies wat Bertrand Russell bedoel het met: “Do not fear to be eccentric in opinion, for every opinion now accepted was once eccentric.”
Maar net soos waarhede veranderend en verbygaande kan wees, net so vas staan wysheid. Wat bedoel ek met wysheid? Wysheid is die vermoë om te weet wanneer iets reg is, en wanneer dit die regte tyd vir iets is om reg te wees. Dit is dus om die regte insig te hê en die regte oordeel aan die dag te lê. Iemand wat wys is, is nie noodwendig altyd reg nie, en iemand wat reg is, is nie noodwendig wys nie. Maar iemand wat kan leer uit sy foute, wat kan erken as hy verkeerd was, wat kan luister, leer en selfs ont-leer, is ‘n WARE WYSE. Dit is hoe die Chinese leermeester Lao Tzu was ̶ ‘n Ware Wyse. Dis seker waarom ek soveel aanklank by hom vind, veral by sy waardevolle filosofie soos opgeteken in die Tao Te Ching. En ja, daar is vele ander wysheidstekste wat ook groot bydraes lewer, maar ek vind die Tao Te Ching die helderste rigtingwyser. Dit is ‘n aardse spiritualiteit en wysheid in werking. ‘n Praktiese filosofie. En soos ons weet, is filosofie die soeke na en liefde vir wysheid. Iemand wat wysheid met sy lewe en dade beliggaam, is ‘n Ware Wyse. Hiermee help Lao Tzu ons, en meer as enigiets anders is sy wysheid tydloos. Hier is ‘n voorbeeld in die Tao Te Ching, vers 30:
Hy wat in die Tao wandel,
dwing nooit sy eie wil af of gebruik geweld nie.
Want vir elke aksie is daar ‘n teenaksie.
Geweld, selfs goed bedoel,
bring altyd meer geweld.
Die Ware Wyse doen sy deel,
en staan dan terug.
Hy verstaan dat geen beheer
oor die heelal uitgeoefen kan word nie.
En om enigiets te probeer oorheers
gaan teen die vloei van die Tao.
Omdat hy in homself glo,
probeer hy niemand oortuig nie.
Omdat hy in vrede met homself leef,
het hy niemand se goedkeuring nodig nie.
Omdat hy homself aanvaar,
aanvaar die hele wêreld hom.
Net ‘n vinnige verduideliking: Die Tao Te Ching (‘Die boek van die weg’) is die titel van ‘n bundel van 81 kort Chinese wysheidstekste. Dit is reeds sowat 500 jaar voor Christus geskryf. Dit is ‘n poëties-filosofiese werk van ongeveer 5000 woorde (“Die wat weet, praat nie. Die wat praat, weet nie.” TTC 56) … wat vir die afgelope 2500 jaar ‘n leidende rol in die Oosterse denke gespeel het. (Oosterse gevegskunste, Tai Chi, akupunktuur en die grootste deel van hulle mediese vooruitgang, feng shui, ens). Dit is natuurlik heeltemal anders as die Christendom of die Islam, want hulle maak geen aanspraak op goddelike gesag of inspirasie nie. Dit is veel meer ‘n natuurlike en aardse spiritualiteit. “Tao” word dalk die beste vertaal met “weg” of “pad”.
Lao Tzu word beskou as die skrywer van die Tao Te Ching. Hy was ‘n tydgenoot van Confucius, ‘n ander bekende Oosterse leermeester en staatsman in die sesde eeu voor die huidige era. Confucius het op ‘n keer by Lao Tzu, wat op daardie stadium reeds ‘n baie ou man was, gaan kuier. Ná die tyd het Confucius aan sy volgelinge die volgende gesê: “Ek weet dat ‘n voël kan vlieg, ‘n vis kan swem en diere kan hardloop. Om dié wat hardloop te vang, stel jy ‘n wip; vir dié wat swem, ‘n vangnet; en vir dié wat vlieg, gebruik jy ‘n pyl en boog. Maar om ‘n draak wat sweef op die wind te vang is bo my begrip. Vandag het ek Lao Tzu ontmoet, en hy is ‘n draak!” Die simbool van ‘n draak (vir Oosterlinge) is die van wysheid, heelheid en goddelikheid, ál vier elemente waaruit lewe bestaan: water (skubbe soos vis), wind (vlerke soos voel), vuur (vuurspoeg) en grond of klip (kloue soos die reptiel wat in die aarde grawe en in grotte en aardse holtes bly). Die legende vertel: Teen die einde van Lao Tzu se lewe het hy besluit het om alleen weg te gaan. Nadat hy alles ingepak het, het hy op die rug van ‘n waterbuffel geklim en na die berge vertrek. By die Han-ku pas (op pad na Tibet) het die grenswag met die naam Yin His (wat glo net die vorige aand van Lao Tzu gedroom het) hom voorgekeer en geweier om hom deur te laat as hy nie vir hom iets op skrif stel van sy filosofie en insigte nie. Lao Tzu het toe die Tao Te Ching (uitgespreek Dow Deh Jing) geskryf. Daarna het hy vertrek en niemand het hom ooit weer gesien nie. Mense het hierdie bundel begin bestudeer en daaruit is Taoïsme gebore, ‘n filosofie wat opgesom kan word as ‘Die weg van minste weerstand, of weg van vloei, of weg van harmonie/balans.’ Wat interessant is van Lao Tzu se filosofie, is dat hy al sy wyshede bekom het uit sy waarnemings van die natuur en die lewe self.
Byvoorbeeld, alles is in ‘n delikate balans; alles in die natuur werk saam om hierdie balans te behou. Jin/Yang (of manlike/vroulik, hard/sag). DIE DANS TUSSEN DIE TWEE IS LEWE. Niks bestaan op sigself nie, alles is in netwerk met alles. Dit is waarna Frans, Pieter en André ook verwys het, die netwerk van die lewe. En dit is waarna die Tao Te Ching verwys, vers 51:
Alles in die heelal is die uitdrukking van die Tao.
Die dans van materie,
die dans van vorm …
‘n Ware Wyse (dis hoe ek ‘Sage/Master’ vertaal het), weet daarom hoe om saam te dans. Selfs te kan dans en vloei binne sy/haar eie verstaan van geslag. Want as Lao Tzu praat van ‘n wyse, is dit manlik en vroulik, geen onderskeid. Tao Te Ching, vers 59:
Die teken van ‘n wyse mens
is die vermoë om los te kan staan van eie idees.
Oop soos die hemele,
deurdringend soos die son,
ferm soos ‘n berg,
soepel soos ‘n boom in die wind,
sonder enige eindbestemming in die oog,
maak die wyse mens van enigiets gebruik
wat die lewe oor sy pad bring.
Yin = oop soos hemele, en Yang = ferm soos ‘n berg, soepel soos ‘n boom in die wind. Dit is waarna die dans tussen yin en yang verwys. ‘n Ware Wyse kan dus die tekens lees en weet wanneer om oop en soepel te wees en wanneer om deurdringend, gefokus en ferm te wees. Die geheim is egter om soos ‘n rivier te wees; vloei saam met die minste weerstand. Presies dit is waarna vers 40 verwys:
Vloei is die beweging van die Tao.
Sagtheid is die weg van die Tao.
Alle dinge kom voort vanuit wees.
En wees kom voort vanuit nie-wees.
Dit gaan eerder oor die lewenskuns van ‘n diep lewe en hoe om saam met dit wat is, hier en nou, in harmonie te vloei saam met dit wat voor jou ontvou – as wat dit iets dogmaties of resepmatig probeer verkondig. Eerder as baklei, veg, forseer, ontevrede wees, onvergewendgesind, hard en onbuigbaar wees. Dis die hele konsep waarop die beginsel van WU WEI (“nie-wees”) dui. Die Chinese uitdrukking Wu Wei (uitgespreek woo way) kan direk vertaal word as “inspanningslose aksie” of “om te doen sonder om te doen” (in Engels vertaal “effortless action”). Met ons Westerse uitkyk van produktiwiteit en prestasie sal ons dalk nie heeltemal hierdie insig verstaan nie ‒ eenvoudig gestel: dat ons minder dinge moet forseer en meer vloeibaar en buigsaam moet wees. Dit wat Byron Katie probeer sê met: “Stop forcing life to be the way you want it to be; rather accept and let it be the way it is.” En Benjamin Hoff beskryf dit in sy boek, The Tao of Pooh: “Wu Wei is something we can learn by watching water. When a stream comes to some stones in its path, it doesn’t struggle to remove them. It just goes around them. And it goes singing.” In die Tao Te Ching word daar verduidelik hoe presies die dans / Wu Wei werk. Vers 43:
Dit wat sag is,
verweer dit wat hard is
(Spreuke 15:1 “‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam.”)
Dit wat vormloos is,
vind ‘n pad deur alles.
En prakties kom dit neer op die vermoë om nie oorhaastig te wees nie, om met geduld en kalmte elke situasie te benader. Dit is waarna vers 15 verwys met:
Het jy die geduld om te wag
dat die modder afsak
en die water deursigtig word?
Kan jy roerloos en stil wag
totdat die regte oomblik
hom voordoen?
Iets van wat Leo Tolstoy (War and Peace) geskryf het: “Everything comes in time to those who know how to wait … there is nothing stronger than these two: patience and time, they will do it all.” Want dié wat nie kan wag nie, maak foute, dwing, manipuleer en forseer … en die gevolge is pyn en dikwels mislukking. Vers 61:
Die strateeg het ‘n gesegde:
Dit is beter om te wag en te kyk
as om die eerste skuif te maak.
Gee eerder aan die begin ‘n paar treë agtertoe,
om later vorentoe te kan beweeg.
Ware wysheid is dus soos Eddie Cantor verduidelik: “Slow down and enjoy life. It’s not only the scenery you miss by going too fast ̶ you also miss the sense of where you are going and why.” Dit is ‘n ingesteldheid van geduldig wees en bereid te wees om te luister en te leer … oop te wees vir die vloei van die lewe, tevrede om te wag dat dinge, situasies eers ryp word. Forseer en ryp druk werk nooit nie! Daarom, ongeag die makrosituasie van die land en die wêreld waarin jy jou bevind, of die mikrosituasie van jou persoonlike lewe en verhoudings, leer om saam met dit wat voor jou ontvou te vloei. LEEF LIG. LEEF EERLIK. LEEF WYS. Hoe? Die ingesteldheid en vaardigheid om die tekens van die winde van die lewe, verhoudings, jou liggaam/gesondheid, politiek te kan lees en met ‘wu wei’ daarop te reageer.
Dit is presies waarna Frans en Pieter verwys het aangaande hulle voorspellings van ons land se toekoms: om te word soos ‘n goeie branderplank ryer, iemand wat die golwe en seestrome kan lees en nie die golwe teenstaan nie, maar eerder daarmee saamry. Dit is wat Lao Tzu met ‘n “Ware Wyse” bedoel: iemand wat geduldig en in harmonie met wysheid kan vloei en iemand wat uit sy eie pad uit kan beweeg, sodat die Tao haarself kan openbaar. Vers 2:
Die Ware Wyse vloei saam met die dinge wat manifesteer,
die Ware Wyse laat gaan die dinge wat oplos.
Die Ware Wyse hét sonder om te besit,
gee sonder om iets terug te verwag.
Wanneer die Ware Wyse haar werk voltooi het,
vergeet sy dadelik daarvan.
Daarom het dit ewigheidswaarde.
Dit is wat Rainer Maria Rilke ook sê met: “May what I do flow from me like a river, no forcing and no holding back, the way it is with children.” Met ander woorde, iemand wat: ophou inkoop in sy of haar eie ego-storie en drama, ophou om sy of haar wil te probeer afdruk op ander, ophou glo net hulle is reg of verkeerd.
Chuang Tzu, die opvolger van Lao Tzu, voeg hierby: “It is when we give up our personal views that we see things as they truly are. In seeing things as they truly are we arrive at complete understanding. To reach complete understanding is to reach true happiness. To reach true happiness is to reach completion. To reach completion is to enter the Tao.” Kom uit jou eie pad. Hou op dat jou “storie” van die lewe die lewe versmoor. Gryp aan wat Pieter gesê het met die belangrikheid van innovasie, Frans wat verwys het na ons wat beter moet luister na mekaar en André wat gesê het ons moet nederiger word. Dit is ware wysheid, dit is om eerstehands, lig en wys te leef, soos ‘n Wyse. Vers 81:
Ware woorde is nie altyd mooi nie.
Mooi woorde is nie altyd waar nie.
‘n Wyse mens het nie nodig
om ‘n punt te bewys nie;
iemand wat nodig het
om ‘n punt te bewys is nie wys nie. Die lewe word heilig daar waar mense wakker word vir dit wat is, en daar waar mense hulleself toelaat om spontaan en vry te leef
Recent Comments