Die Boeddha is op ‘n keer gevra of hy ‘n nuwe godsdiens begin. Hy antwoord toe as volg: …Wat het ‘n mens nodig om van een kant van ‘n breë rivier tot aan die ander kant te kom? ‘n Boot of indien jy dit dalk self moet bou, ‘n vlot. En wanneer so ‘n mens wel suksesvol aan die oorkantste oewer aanland, wat doen hy of sy dan met die vlot? Wel, die vlot se funksie is vervul die oomblik toe die persoon veilig die oorkantste oewer bereik het. Nie waar nie? Sodoende verval die nuttigheid van die vlot en is dit nie verder nodig nie, veral nie as die reis verder deur ‘n woestyn gaan nie. Dit sou ‘n fout wees om die vlot te probeer saamdra in die woestyn in. Aangesien die vlot te swaar kan word en waar dit eens redding meegebring het, kan dit nou die teenoorgestelde bewerk. Net so is my woorde en lerings, slegs ‘n vlot. Elkeen moet uiteindelik vir hom- of haarself ‘n lig wees. My woorde is slegs ‘n vingerwysing.

Presies so is my verstaan van enige godsdiens. Godsdiens is ‘n vlot vir spiritualiteit. En dit was ‘n heel nuttige vlot tot op hede. Maar tye het verander, ons het nou die oorkantste oewer bereik. Die landskappe het indringend verander. Dink maar net hoe anders hierdie nuwe landskap se tempo van verandering is. Daar word byvoorbeeld bereken dat die verandering en ontwikkeling wat ons tans jaarliks ervaar gelykstaande is aan die vorige vyftig jaar se totale veranderings. Dink maar net hoe die internet se ongelooflike netwerke, kommunikasie en kennis verspreiding moontlik maak. Iets wat nog ‘n paar jaar gelede net in teorie moontlik was.

Ons is daarom nie meer verskillende gemeenskappe nie, nee ons is alreeds een groot wêreldgemeenskap. Dit plaas natuurlik enorme druk op tradisionele godsdienstige beskouinge (huidige vlot) oor God en die lewe. Want in hierdie nuwe wêreld van kwantum fisika kan ons eenvoudig nie meer na die wêreld kyk deur die oë van ‘n bygelowige, drieverdieping wêreldbeeld van o.a. die Bybel en Koran nie.

Die vlot waarop spiritualiteit vervoer is, het nou oorbodig geraak. Dit moet agtergelaat word. Want waar dit eers ‘n wonderlike uitkoms gebied het, is godsdiens tans een van die mees destruktiewe kragte in die moderne wêreld.

Want sien, dit het nooit gegaan oor die vlot nie, altyd oor die vrag – spiritualiteit. Baie mense sien dit egter nie so nie en klou krampagtig vas aan die vlot (godsdiens). En dit bring vele probleme na vore. Diesulkes loop hulle al meer vas in ‘n nuwe realiteit wat nie meer strook met hulle persepsie daarvan nie.

Kyk maar net hoe meeste mense nog oor God nadink. ‘n Antieke koning wat vêr bokant die wolke op sy troon sit (teïsme). ‘n Godsbeeld wat eenvoudig net nie meer sin maak en relevant is nie. Juis daarom is daar ‘n ingrypende verandering nodig by gelowiges as hulle oor God wil praat en dink. Mense sal moet besef dat ons binne ‘n verweefdheid met alles om ons leef. Ons leef hier en nou. In ‘n wêreld waar alles met alles te doen het.

Interessant dat spiritualiteit nie gebonde of gevange gehou kan word deur godsdienste nie, godsdienste en religie is slegs die vlot. Spiritualiteit is die vrag of inhoud.

‘n Wonderlike illustrasie hiervan is byvoorbeeld te vind in tweede boeke wat deur ateïste geskryf is en spesifiek handel oor spiritualiteit. Living with a Wild God deur Barbara Ehrenreich, ‘n uitgesproke ateïs en wetenskaplike, is die een. En die ander een is van die neurowetenskaplike en ateïs Sam Harris, met sy boek Waking Up: A Guide to Spirituality Without Religion.

Albei beskryf mistieke belewenisse wat hul uitkyk en verstaan op hul lewe radikaal verander het – en sodoende hul verstaan van hoe hulle spiritualiteit inklee. As ateïste voel albei dat hierdie belewenisse nie noodwendig na ‘n spiritualiteit verwys wat gekoppel is aan die bonatuurlike nie. Nee, spiritualiteit kom vir hulle eerder neer op ‘n spontane, direkte en eerstehandse belewenis van die heiligheid van die lewe self.

Vir seker bedoel hulle nie met hul verstaan van spiritualiteit dieselfde as iemand wat, byvoorbeeld, glo in ‘n teïstiese God, soos in die Christen en Islam godsdienste geglo word nie. Hulle verstaan van spiritualiteit is in der waarheid “God-loos.”

Hierby sluit nog ‘n ateïs en filosoof, die Fransman André Comte-Sponville aan, as hy is sy boek, The Little Book of Atheist Spirituality, beskryf hoe hy net soos Ehrenreich eendag alleen gaan stap en ‘n diep mistieke belewenis gehad het.

Hy is egter ook baie beslis dat dit nie vir hom beteken dat sy belewenis enigsins gekoppel is aan enige bonatuurlike wese nie. Vir hom is sy spiritualiteit dus ook ‘n beskrywing van sy verstaan, dat sin en waarde in die alledaagse gevind kan word.

Dit bring ons natuurlik by die vraag, wat is spiritualiteit?

Want vir meeste van ons is die enigste blootstelling aan spiritualiteit gekoppel aan ons spesifieke godsdienstige opvoeding. Só sal ‘n Boeddhis of Hindoe met spiritualiteit heeltemal iets anders bedoel as wat ‘n Christen of Moslem daarmee bedoel. En dit sal ook heeltemal verskil van wat ‘n ongelowige of soos die voorbeelde hierbo, ateïste daarmee sal bedoel.

Maar spiritualiteit is altyd veel meer as die eng definisie van enige mens of godsdiens tradisie. Meer nog, is spiritualiteit nie noodwendig teenwoordig waar godsdienste beoefen word nie. Soos Eckhart Tolle dit ook raak stel: “You can have religion with spirituality. You can also have religion without spirituality.”

Die woord “spirit” kom van die Latynse woord spiritus, wat op sy beurt vertaal is van die woord pneuma (Grieks), wat beteken “ASEM” – verwysend dus na die mees essensiële beginsel van lewe. Die eerste en mees basiese van lewe. Dus gaan spiritualiteit oor ‘n “aardse” en natuurlike lewe.

Ongelukkig is die woord spiritualiteit gekaap. In die 13de eeu is dit byvoorbeeld al hoe meer verbind met bonatuurlike konsepte soos spoke, siele en gode. En was toenemend gekoppel aan magie en die esoteriese.

Sekerlik daarom dat baie mense voel die woord “Spiritueel / spiritualiteit” is te gekontamineer en vergiftig om anders gesien te kan word. Miskien is hulle reg, maar ek stem eerder saam met Carl Sagan, die wetenskaplike en Astronoom:

“We must reclaim good words and put them to good use – and this is what I intend to do with “spiritual.” For me it means something like beauty or significance that provokes awe. Science is not only compatible with spirituality; it is a profound source of spirituality. When we recognize our place in an immensity of light‐years and in the passage of ages, when we grasp the intricacy, beauty, and subtlety of life, then that soaring feeling, that sense of elation and humility combined, is surely spiritual. So are our emotions in the presence of great art or music or literature, or acts of exemplary selfless courage such as those of Mohandas Gandhi or Martin Luther King, Jr. The notion that science and spirituality are somehow mutually exclusive does a disservice to both.”

Daarom verwys spiritualiteit vir my veel eerder na die mens se ingebore behoefte om sin en betekenis in die hier en nou van hul lewe te vind. En die wat wel dieper leef, ongeag of dit van binne ‘n godsdiens of daarbuite is, vind dikwels dat hul lewe meer gevul is met verwondering, vreugde en liefde. En baie keer ook ‘n moment of twee van mistieke ervarings van eenwording met alles in die kosmos.

Iets van wat die filosoof Ken Wilber so akkuraat omskryf: “Spirituality, according to the testimony of the world’s great yogis, saints, and sages, has to do with the direct experience of a living Reality, disclosed immediately and intimately in the heart and consciousness of individuals, and fostered by diligent, sincere, prolonged spiritual practice. All practice opens one to a direct experience of Spirit, and not merely beliefs or ideas about Spirit.”

Met ander woorde, om in kontak te wees met “a living Reality” is om diep te leef, om spiritueel te wees. En hierdie kontak of belewenis is waarvan Wilber praat as ‘n “direct experience of Spirit.”

En as jy spiritualiteit so sou verstaan, dan word selfs die Damaskus-ervaring van Paulus iets veel anders as hoe dit altyd vertolk is. En Moses se ervaring met die brandende braambos word soos ‘n vlam wat in sy siel aangesteek is eerder as ‘n fisieke braambos wat bonatuurlik aanhou brand. En Mohammed se grot-bekering word ‘n mistieke ervaring van eenwording, en die Indiese prins Gautama onder die Bodhi-boom word ‘n helder-lig-oomblik of verligting.

En hierdie belewenisse bring ‘n nuwe uitkyk op die lewe, op die self en op die dood. Daar kom by die een wat hierdie belewenisse het, ‘n innerlike oortuiging dat daar ‘n groter “bewussyn” is, iets waarvan meeste mense onbewus is.

Hierdie ervaring is vir die een wat dit beleef meer wesenlik en “waar” as wat enige feitelike ervaring kan wees. Dit is nie ervarings in logika en woorde nie, eerder ‘n belewenis in beelde en metafore. Dis ook nooit bedoel om letterlik opgeneem te word nie. Want onthou spiritualiteit vra nooit waar kom alles vandaan of hoekom is dinge soos dit is nie – daardie is die plek van die wetenskap.

Waarna Sam Harris verwys as: “Although the insights from spirituality tell us nothing about the origins of the universe, it do confirm some well-established truths: Our conventional sense of self is an illusion; positive emotions, such as compassion and patience, are teachable skills; and the way we think directly influences our experience of the world.”

Nee, spiritualiteit gaan oor ‘n nuwe manier van wees. Soos Harris dit dan ook verwoord met: “Spirituality begins with a reverence for the ordinary that can lead us to insights and experiences that are anything but ordinary.”

Spiritualiteit gaan oor vryheid vind in die hier en nou, ten spyte van wat is. Hoe kan jy dieper leef, ten spyte van ‘n oppervlakkige wêreld. Hoe kan jy met meer respek, eenvoud en deernis in ‘n meestal wrede en selfsugtige wêreld leef.

En die wat dit regkry word nie net ‘n lig vir hulle self nie maar ook vir ander. In die Thomas-evangelie (vers 24) word daar juis na diegene verwys as: “Daar is lig in die binneste van ‘n verligte mens en dit verlig die hele wêreld.”

Spiritualiteit is daarom soveel meer as wat enige godsdiens ooit kan omvat. Dit is transformerend, dit is om in harmonie te leef met die wysheid van jou verstand sowel as van jou hart.

Spiritualiteit is hoër as die hemele, dieper as die see en ver anderkant reg of verkeerd. Spiritualiteit is om wakker te word vir jou ware identiteit en om daaruit te leef, alles ten spyte van jou omstandighede.

Om dieper te leef, om wakker te leef. Om met respek en deernis te leef. Dit is wat gebeur wanneer mense spiritueel leef. Uiterlike omstandighede verander dalk min maar die persoon self transformeer.

Ek wil afsluit met ‘n gedig van my, waar ek iets van my eie transformasie probeer verwoord: dit het gebeur: waar ek in ‘n flou wintersonnetjie sit
niks groots of belangrik
net ek wat sit
‘n vlietende oomblik in tyd,
‘n dinsdag voor ‘n woensdag
iewers in julie op pad na augustus
…ek breek soos ‘n kleipot teen ‘n rots
geen binne, geen buite
net skerwe
…niks het gebeur
maar alles het verander