Ek is nou net klaar met die lees van my tweede boek, in minder as ‘n maand, wat deur ateïste geskryf is en spesifiek handel oor spiritualiteit.
Living with a Wild God deur Barbara Ehrenreich, ‘n uitgesproke ateïs en wetenskaplike, is die een. En die ander een is van die neurowetenskaplike en ateïs Sam Harris, met sy boek Waking Up: A Guide to Spirituality Without Religion.
Albei beskrywe mistieke belewenisse wat hulle uitkyk en verstaan op hulle lewens radikaal verander het – en sodoende hulle verstaan van hoe hulle spiritualiteit inklee. As ateïste voel beide dat hierdie belewenisse nie noodwendig na ‘n spiritualiteit verwys wat gekoppel is aan die bonatuurlike nie. Nee, spiritualiteit kom vir hulle eerder neer op ‘n spontane, direkte en eerstehandse belewenis van die heiligheid van die lewe self.
Verseker bedoel hulle nie met hulle verstaan van spiritualiteit dieselfde as iemand wat, byvoorbeeld, glo in ‘n teïstiese God, soos in die Christen en Islam godsdienste geglo word nie. Hulle verstaan van spiritualiteit is in der waarheid “God-loos.”
Hierby sluit nog ‘n ateïs en filosoof, die Fransman André Comte-Sponville aan, as hy is sy boek, The Little Book of Atheist Spirituality, beskrywe hoe hy net soos Ehrenreich eendag alleen gaan stap het, en ‘n diep mistieke belewenis gehad het.
Hy is egter ook baie beslis dat dit nie vir hom beteken dat sy belewenis enigsins gekoppel is aan enige bonatuurlike wese nie. Vir hom is sy spiritualiteit dus ook ‘n beskrywing van sy verstaan, dat sin en waarde in die alledaagse gevind kan word.
Dit bring ons natuurlik by die vraag, wat is spiritualiteit?
Want vir meeste van ons is die enigste blootstelling aan spiritualiteit, gekoppel aan ons spesifieke godsdienstige opvoeding. Só sal ‘n Boeddhis of Hindoe met spiritualiteit heeltemal iets anders bedoel as wat ‘n Christen of Moslem daarmee bedoel. En dit sal ook heeltemal verskil van wat ‘n ongelowige of soos die voorbeelde hierbo, ateïste daarmee sal bedoel.
Maar spiritualiteit is altyd veel meer as die eng definisie van enige mens of godsdiens tradisie. Meer nog, is spiritualiteit nie noodwendig teenwoordig waar godsdienste beoefen word nie. Soos Eckhart Tolle dit ook raak stel: “You can have religion with spirituality. You can also have religion without spirituality.”
Spiritualiteit verwys veel eerder na die mens se ingebore behoefte om sin en betekenis in die hier en nou van hulle lewens te vind. En die wat wel dieper leef, ongeag of dit van binne ‘n godsdiens of daarbuite is, vind dikwels dat hulle lewens meer gevul is met verwondering, vreugde en liefde. En baie keer ook ‘n moment of twee van mistieke ervarings van eenwording met alles in die kosmos.
Iets van wat die filosoof Ken Wilber so akkuraat omskryf: “Spirituality, according to the testimony of the world’s great yogis, saints, and sages has to do with the direct experience of a living Reality, disclosed immediately and intimately in the heart and consciousness of individuals, and fostered by diligent, sincere, prolonged spiritual practice. All practice open one to a direct experience of Spirit, and not merely beliefs or ideas about Spirit.”
Met ander woorde, om in kontak te wees met “a living Reality” is om diep te leef, om spiritueel te wees. En hierdie kontak of belewenis is waarvan Wilber praat as ‘n “direct experience of Spirit.”
En as jy spiritualiteit so sou verstaan, dan word selfs die Damaskus ervaring van Paulus iets veel anders as hoe dit altyd vertolk is. En Moses se ervaring met die brandende braambos word soos ‘n vlam wat in sy siel aangesteek is eerder as ‘n fisiese braambos wat bonatuurlik aanhou brand. En Mohammed se grot-bekering word ‘n mistieke ervaring van eenwording, en die Indiese prins Gautama onder die Bodhi-boom word ‘n helder-lig-oomblik of verligting.
En hierdie belewenisse bring ‘n nuwe uitkyk op die lewe, op die self en op die dood. Daar kom by die een wat hierdie belewenisse het, ‘n innerlike oortuiging dat daar ‘n groter “bewussyn” is, iets waarvan meeste mense onbewus is.
Dit wat Jalaluddin Rumi (1207-1273) poëties omskrywe as: “One day, you will find yourself outside this world which is like a mother’s womb. You will leave this earth to enter, while you are yet in the body, a vast expanse, and know that the words, “God’s earth is vast,” name this region from which the saints have come.”
Hierdie ervaring is vir die een wat dit beleef meer wesenlik en “waar” as wat enige feitelike ervaring kan wees. Dit is nie ervarings in logika en woorde nie, eerder ‘n belewenis in beelde en metafore. Dis ook nooit bedoel om letterlik opgeneem te word nie. Want onthou spiritualiteit vra nooit waar kom alles vandaan of hoekom is dinge soos dit is nie – daardie is die plek van die wetenskap.
Spiritualiteit vra eerder hoe kan jy vry wees, ten spyte van wat is.
Hoe kan jy dieper leef, ten spyte van ‘n oppervlakkige wêreld.
Hoe kan jy met meer respek, eenvoud en deernis in ‘n meestal wrede en selfsugtige wêreld leef.
In die Thomas-evangelie (vers 24) word daar juis na diesulkes verwys as: “Daar is lig in die binneste van ‘n verligte mens en dit verlig die hele wêreld.” Spiritualiteit is daarom soveel meer as wat enige godsdiens ooit kan omvat. Dit is transformerend, dit is om in harmonie te leef met die wysheid van jou verstand sowel as van jou hart.
Spiritualiteit is hoër as die hemele, dieper as die see en ver anderkant reg of verkeerd. Spiritualiteit is om wakker te word vir jou ware identiteit en om daaruit te leef, alles ten spyte van jou omstandighede. Dit wat Yehuda Berg verwoord as: “To me, spirituality means ‘no matter what.’ One stays on the path, one commits to love, one does one’s work; one follows one’s dream; one shares, tries not to judge, no matter what.”
Recent Comments