Albert Einstein het op ‘n keer opgemerk dat: “Logic will get you from A to B. Imagination will take you everywhere.” Ek is seker dat hy nie hiermee bedoel het dat analise, logiese denke en wetenskaplike kennis ondergeskik is aan verbeelding nie.

Ek dink eerder hy wou uitwys dat ‘n oop, kreatiewe, verbeeldingryke en soekende ingesteldheid onlosmaaklik deel is van enige sinvolle en gebalanseerde denke.

Want hy’t maar te goed geweet dat daarsonder, sal min mense by al die veranderinge van die lewe kon aanpas. En hieruit vloei dan sy mees inspirerende woorde: “There are two ways to live: you can live as if nothing is a miracle, or you can live as if everything is a miracle.”

Om die lewe te benader met ‘n sin van verwondering vra egter van jou om jou sekerhede minder seker te maak. Om te onthou wat die filosoof, Karl Popper gesê het toe hy verduidelik het dat daar geen absolute waarheid uitsprake moontlik is nie.

Want, het hy gevind, sodra enigiemand ‘n enkele siening uithef as die enigste waarheid, verval so ‘n persoon vinnig in vervlakking en ‘n tipe blindheid.

Want dit maak nie saak hoe oortuig jy is van jou waarheid nie, môre sal daar wel nuwe insigte na vore tree. Dit het o.a. die wetenskap al oor en oor vir ons uitgewys.

En die tempo van verandering en groei in kennis tans is asemrowend vinnig. Daar word bereken dat die veranderings wat ons tans jaarliks beleef gelykstaande is aan die vorige vyftig jaar se veranderings saam.

Ek meen as jy maar net kyk na die tegnologie waarmee ons vandag gekonfronteer word, besef jy dat selfs ons sci-fi- en fantasie-boeke en rolprente nie meer kan byhou nie.

Dink maar net hoe die internet se ongelooflike netwerke, kommunikasie en kennisverspreiding moontlik maak. Iets wat nog ‘n paar jaar gelede net in teorie moontlik was.

Die rekenaar sal binne die volgende twee dekades waarskynlik die vermoë van die menslike brein verbysteek. En watter nuwe morele en etiese vraagstukke sal dit nie op die tafel sit nie. Ek wil nie eens dink daaraan nie, maar ek weet ons sal moet.

Dit alles plaas natuurlik enorme druk op die tradisionele godsdienstige beskouinge oor God en lewensbeskouing. Want in hierdie nuwe wêreld van kwantumfisika kan ons eenvoudig nie meer na die wêreld kyk deur die oë van ‘n bygelowige, drie-verdieping wêreldbeeld van onder meer die Bybel en Koran nie.

Dit wat die astronoom Carl Sagan gesê het: “The Universe is much bigger than our prophets said, grander, more subtle, more elegant. Shouldn’t God then be even greater than we dreamed?”

Ons sal in ons denke rondom God en lewe die blik op die kosmos, wat die astrofisika en die kwantumfisika vir ons geskep het moet integreer.

Mense sal moet besef dat ons binne ‘n verweefdheid met alles om ons leef. Ons leef hier en nou. In ‘n wêreld waar alles met alles te doen het.

Die kwantumfisika saam met die metafisikus David Bohm het vir ons hierdie nuwe wêrelde geopen. Dit maak hopelik ‘n diep respek vir die lewe wakker, juis omdat ons besef dat mens, plant, dier, aarde en selfs die heelal, onlosmaakbaar verweef is in ‘n “web van lewe.”

Dit bring mee dat ons die lewe hier en nou sal sien as heilig. Want orals waar mense wakker en bewustelik lewe, sal in die aangesig van God wees. En dan sal die nuwe gelowiges saam met my kan bely: Ek glo in die Ewige van die ewig veranderende kosmos
wie se naam voortdurend verander
soos die soekers tydelik vind en noem.