Wanneer laas was jy gelukkig? Regtig, gelukkig?
Wel, ek wil dit waag om te sê, dat die laaste keer toe jy werklik gelukkig was, veel meer te doen gehad het met jou innerlike toestand, as enige spesifieke uiterlike omstandighede.
Kom ek verduidelik wat ek met die stelling bedoel.
Omdat meeste mense innerlik verstrengel leef, is hulle nie beskikbaar vir enige lewensgeluk of vreugdes nie. Want weens hierdie innerlike “geraas” is mense doof vir byvoorbeeld die vroeg-oggend voëltjie gesange, blind vir die kleure wat hulle orals begroet, afgestomp vir die honderde smake en geure wat elke oomblik vir hulle beskikbaar is.
Want al waarvan hulle bewus is, is die stroom emosies en gevoelens wat hulle binne-wêreld oorheers. Dinge wat in die verlede gebeur het (skuldgevoelens en spyt), en dinge wat in die toekoms op hulle wag (vrees en spanning).
Dit bring mee dat hulle vasgevang sit binne hul koppe.
En dit veroorsaak ‘n meganiese lewe. Soos Anthony de Mello dit stel, “Most people live in such a way that put their minds on automatic pilot and they go to sleep.” Dalk het jy dit al in jouself waargeneem: Jy stap iewers heen en na ‘n tyd besef jy dat jy niks om jou ingeneem het nie, en nie eens weet hoe ver jy al gestap het nie.
Dit is waarna daar verwys word as ‘n meganiese of onbewustelike lewe. Hiermee help ons moderne, tegnologies gevulde lewens ook nie veel nie. Daar is eenvoudig net soveel eksterne “geraas” wat ook ons aandag aftrek.
Dit alles bring mee dat meeste mense nie meer bewustelik lewe nie, maar eerder net bestaan. Daarom dat Thich Nhat Hanh sê: “Many people are alive but don’t touch the miracle of being alive.”
Juis daarom maak dit nie saak waar jy jou uiterlik bevind nie, of dit nou iewers op die Griekse eilande is en of dit in jou motor in spitsverkeer is. As jy in jou kop vasgevang sit, kan jy nie “…touch the miracle of being alive” nie. En kan jy daarom nie regtig gelukkig wees nie.
Thich Nhat Hanh gaan verder en sê: “Life can be found only in the present moment. The past is gone, the future is not yet here, and if we do not go back to ourselves in the present moment, we cannot be in touch with life.”
Daarom is dit so belangrik om weer wakker te word vir jou lewe, hier en nou. Om wakker te word vir dit wat ís.
Weer te besef jy is nie ‘n willose slagoffer van die geraas binne of buite jou nie. Dís die beginsel van bewustheid (of “mindfulness”).
In ‘n neutedop, is bewustheid, die vermoë om bewus te wees van dit wat binne en buite jou gebeur, terwyl dit gebeur – woede, jaloesie, hartseer, verlange, hongerpyne, verkeersknope, teks op jou selfoon, die reuk van vars brood, wat ook al – sonder om daarop in te koop of daarmee te oor-identifiseer. Of soos Jon Kabat-Zinn dit stel, “To be aware of being aware.”
Om dus bewustelik, sonder oordeel die waarnemer te wees. Waarnemer van jou binne-wêreld, jou gedagtes, gevoelens en die omstandighede waarbinne jy jouself op enige gegewe moment bevind. Met klem op ‘sonder om te oordeel.’
“Mindfulness” is dus die doelbewuste en nie- veroordelende fokus op dit wat in die oomblik ontvou. Binne sowel as buite jou; innerlik op die bewussynsvloei van emosies en gedagtes. Uiterlik op dit wat in die oomblik voor jou afspeel.
Amit Ray omskryf dit poëties as, “World is a dance. Mindfulness is witnessing that dance.”
Jy is die een wat kyk. Wat bewus is. Sonder om in te koop of selfs meegesleur te word daardeur. Die een wat spontaan en vry in die oomblik (wat ook al die oomblik bring) leef.
Natuurlik is dit nodig om te dink, te beplan en te analiseer. Maar dit is net so nodig om te besef dat daar ‘n verskil is tussen beplan en om jouself te verloor in jou storie van gister of môre.
Dit wat Sharon Salzberg so mooi uitlig met: “Mindfulness helps us get better at seeing the difference between what’s happening and the stories we tell ourselves about what’s happening, stories that get in the way of direct experience.”
Dit is egter belangrik om te besef dat bewustheid iets is wat bewustelik gekies moet word. Elke oomblik te kies om wakker te wees eerder as aan die slaap.
‘n Keuse wat vergemaklik word deur ‘n dissipline soos meditasie wat jou kan help om te onthou om wakker te bly. Anders raak ‘n mens maklik weer aan die slaap. ‘n Ou Zen leermeester, Mazu, stel dit so: “Without practice or cultivation the clouds of ignorance cover up enlightenment awareness quickly.”
Ons het nodig om daagliks, soos tande borsel of oefen, onsself te herinner. Soos Sharon Salzberg dit dan ook verder beskryf met, “Mindfulness isn’t difficult; we just need to remember to do it.”
Een so ‘n manier om te onthou is om elke oggend te mediteer. Tien minute of twintig, maak nie soveel saak nie, wat wel saak maak is dat jy dit elke oggend doen. In die Tao Te Ching (Boek van die Weg) word die proses van stil word mooi beskrywe in vers 56. Lees dit deur en mediteer oor die woorde. Doen dit sonder ophou en jy sal beleef hoe jy wakker word.
Tao Te Ching vers 56 (my vertaling):
Maak toe jou mond,
skakel af jou sintuie,
sluit die deure,
verdof die lig,
maak die skerp kante rond,
ontknoop jou knope,
versag jou oë,
en laat die stof gaan lê.
Dit is jou oorspronklike identiteit.
Wil jy gelukkig wees? Wil jy weer lewensgeluk deel maak van jou elke dag bestaan? Wel, begin dan om elke oggend wakker te word … regtig wakker te word!
Recent Comments