Die lewe is ‘n interessante belewenis. Terselfdertyd wreed en mooi, onregverdig en regverdig, eenvoudig en kompleks. Soms so intens en onverstaanbaar, skerp-helder, baie soos die son, en wie van ons kan vir lank direk in die son kyk sonder om nie permanente skade op te tel nie?

Net so is die lewe se skerpheid, skerpheid wat al begin in ons kinderdae. Dit kan wees in die vorm van ‘n alkoholis-pa of pilverslaafde ma. Fisiek en emosioneel verniel deur mishandeling, seksuele molestering of verniel deur kritiek, die skerpheid van om eenvoudig net nooit goed genoeg te wees nie.

Arm of ryk ouers wat geen aandag gegee het nie. Miskien dalk het jy dom gevoel of altyd gesukkel met jou gewig, te vet of te maer. ‘n Broer of suster in wie se skaduwee jy minderwaardig gevoel het. Die skerpheid wat permanente skade aanrig.

Om te oorleef, onsself te handhaaf, te probeer beter voel, doen ons wat nodig is om te doen. Ons ontvlug, onderdruk, ontken en vermy, dikwels ten koste van ander. Ons probeer wegkyk van die skerpheid. Ons dra sonbrille en smeer sonskerm aan, alles in ‘n poging om die skade van die son minder te maak.
En dan betree ons die grootmens wêreld met die onverwerkte seer en pyn. En ons prober voorgee, wegsteek en wegkruip vir die skerpheid wat onveranderd voort skyn.

Maar die sin van die lewe vind ‘n mens in die konfrontasie van die skerpheid, nie in die ontvlugting in die skaduwee in nie. Eerlik, reguit sonder om terug te deins of vir te lank te probeer wegkyk.

Want enige ontvlugting, onderdrukking of ontkenning, help jou nie op die langtermyn nie. Dit verskans net die regte probleme. En essensieel is dit nie die skerpheid van die son nie, maar jy wat jouself laat struikel. Onthou wat die sielkundige Carl Jung gesê het: “When an inner situation is not made conscious, it appears outside as fate.”

Want eers as jy besef en vrede maak met die skerpheid as deel van die lewe, deel van elkedag en dat jy al seer gekry het as gevolg daarvan – eers dan kan jy betekenis en vrede vind. En sodoende word jy ook wakker vir die feit dat jou negatiwiteit, irritasie en vrees, lewe binne jou en nie in die realiteit rondom jou nie. Eers dan sal jy kan vrede maak met wie, wat en waar jy jou bevind.

Dit laat my dink aan die storie van die vlootkaptein. Een nag laat word hy geroep omdat daar ‘n ander skip in hulle direkte weg is. Hy kontak dadelik die ander skip se kaptein en laat hom in geen onsekere terme verstaan dat hy dadelik ‘n koers aanpassing sal moet maak. Kalm kom die stem terug oor die radio, “Julle moet die koers aanpassing maak, want ons is die ligtoring!”

Die realiteit se skerpheid is nie jou vyand nie. Dit is nie persoonlik nie. Dit is net. Jou gevoelens en reaksie daarop is wat dit ‘n probleem maak. Kan jy dink hoeveel ligter jy deur die lewe sou beweeg as jy soos water kon vloei. Water wat teen ‘n berg afvloei het nie ‘n probleem met die klippe in die pad nie. Dit vloei eenvoudig om en oor dit. Daar is geen irritasie, verwyte of aggressie nie, slegs vloei.

Dink net hoeveel makliker jou lewe sou wees, indien jy dit wat met jou gebeur, nie so persoonlik opneem nie. “Problems exist only in the human mind. Reality is not problematic. Take away human beings from this planet and life would go on, nature would go on in all its loveliness and violence. Where would the problem be? No problem. You created the problem. You are the problem. You identified with “me” and that is the problem. The feeling is in you, not in reality.” So skryf Anthony de Mello.

Hoeveel energie vermors jy nie omdat jy kwaad is dat jy kwaad is nie? Dat jy ‘n probleem het met die feit dat jy ‘n probleem het. Want onthou, wat jou kwaad maak regeer jou.
Spiritualiteit het alles te doen met ‘n sinvolle lewe hier en nou. En sinvol beteken om jouself te ken en te aanvaar. Om te snap dat jy die een is wat kyk. Jy is die een wat skep. Anthony Robinson verwoord dit so: “Nothing in life has any meaning except the meaning we give it.” Alles begin by jouself. Word bewus van jouself, besef gevoelens is binne jou, nie binne jou realiteit nie, en moenie inkoop op jou storie van die realiteit nie. Besef dat in jou proses om jouself te skans teen die skerpheid van die lewe, het jy eintlik vergeet dat: Jy die Lewe is. En met elke afskil van jou kondisionerings en vooropgestelde idees, kom jy nader aan jou kern. Die groot mistikus Meister Eckhart sien hierdie afskil proses as die ontdekking van jou siel, jou ware identiteit.
Hy skryf: “God is not attained by a process of addition to anything in the soul, but by a process of subtraction.