Ek word al meer bewus van hoeveel mense nou worstel met stres, emosionele uitputting en depressie. Dit is of daar net onder die oppervlak van meeste mense ‘n diep aggressie, onverwerkte stres, ‘n emosionele moegheid en donker hartseer prut. En COVID-19 se gesondheids- en ekonomiese druk wat dit bring is vir baie die laaste strooi. Een van die simptome hiervan is dat al meer mense in depressie verval en erge angs ervaar.
Hiervan kan die biljoenerand-bedryf van antidepressante, slaappille en kalmeerpille deeglik getuig. Dit is of die meeste mense eenvoudig nie meer die druk van die lewe sinvol kan verwerk en hanteer nie. Hierdie druk word tans al hoe meer sigbaar in probleme met verhoudings, familie, werk, finansies en gesondheidskwessies.
Is dit nie ironies nie?
Op soveel terreine van die lewe beleef ons ongelooflike vooruitgang, maar as dit kom by ons eie innerlike en emosionele psigiese toestand, is daar duidelike agteruitgang. Ironies genoeg, ten spyte daarvan dat meer mense toegang het tot onderwys en opvoeding, weet ons minder. Daar is meer menseregte maar minder deernis en respek vir regte mense. Daar is meer uiterlike vryheid, maar minder innerlike bevryding.
‘n Mens hoef net te kyk hoe die wêreld se rykste en bevoordeelde nasies die huidige pandemie hanteer en hoe hulle wiele heeltemal afkom. Dit wil voorkom: Hoe minder ‘n mens kontak met jou diepste self het, hoe vinniger word jy van balans af gestamp as dinge begin skeefloop. Hoe het dit gebeur dat mense deur die eeue heen soveel vooruitgang op tegnologiese en sosiologiese terreine kon hê, selfs die meeste uiterlike uitdagings kon bemeester, maar hulle sélf nie kan raakvat nie?
Dit is die einste waarneming wat Lao Tzu soveel eeue gelede reeds gemaak het: “Om ander te ken is slim; om jouself te ken is wysheid. Om oor ander te heers dui op mag; om oor jouself te heers dui op krag.” Tog lyk dit my ons moderne mense verstaan nie regtig wat hy probeer sê het nie. Of is ons dalk net te besig en te gestres om regtig te hoor? Want vandag word tyd wat ‘n mens aan jouself afstaan meestal beskou as selfsugtig, ledigheid en vermorste produktiwiteit.
Die moderne mens beskou juis “effektiewe tydsbesteding” as ‘n lewe vol dinge, items om te doen en gebeure om te ervaar. Die mantra van ons tyd is produktiwiteit. Maar ná ‘n klomp jare van vinnige en besige lewens, begin die moderne mens die resultate van so ‘n uiterlik gefokuste lewe sien. Die uiteinde is mense wat hartseer, gespanne, angstig, geïrriteerd en onvervuld is. Die feit van die saak is, ons het verleer om net te kan wéés. Dit wat die pandemie ook weer kom uitwys het. Hiermee saam het ons nie meer die gereedskap om doeltreffend met ons stres, angstigheid en lewensdruk te werk nie. En wanneer iets soos die pandemie ingevoeg word, dan ontbloot dit meeste mense se besige koppe en angstige harte. My raad is natuurlik altyd, word weer net stil. Die ongelukkige werklikheid is, dat die meeste mense weet nie wat dit beteken om stil te word nie. Vandag weet mense goed wat dit beteken om iets te doen, aan te leer en te bemeester. Maar stilte lê in die rigting van: Jy moet niks doen nie, niks aanleer nie; net wees.
Die harde werklikheid is: Indien ons nie tot stilstand gaan kom en weer stil word nie, sal ons ook nooit lewensgeluk en innerlike vrede kan beleef nie.
Die vraag is: Wat gebeur wanneer ‘n mens wel stilhou en stil word?
Die Christen-woestynvader Abba Antony verduidelik dit só: “Whoever sits in solitude and is quiet has escaped from three wars: those of hearing, speaking, and seeing. Then there is only one war left in which to fight, and that is the battle for your own heart.”
Hy verduidelik dit so mooi met “… the battle for your own heart.” Want dit is juis die geval. Jy moet eers raaksien wat in jou binnewêreld aangaan voordat jy werklik iets aan jou buitewêreld kan doen. Hiermee sê hy heel duidelik dat stilte meer gaan oor die geraas, haas en spanning in jou binnewêreld as die geraas wat jy met jou sintuie kan waarneem. Is dit nie ook maar die lewenswysheid wat Spreuke 4:23 wil oordra nie: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Want voordat ons nie ons “hart” verstaan nie, sal ons ook nie die angstigheid en moedeloosheid kan beveg wat ons so oorval nie. Die regstelling begin by stop en sit. In die Zen-Boeddhisme noem hulle hierdie “sit” zazen.
‘n Zen-leermeester Shohaku Okumura beskryf dit soos volg: “The aim of zazen is just sitting, that is, suspending all judgmental thinking and letting words, ideas, images and thoughts pass by without getting involved in them.” ‘n Mens kan hierdie “net sit” in enige vorm beoefen. Die vorm wat dit aanneem, is nie belangrik nie, dit is wel belangrik dat ‘n mens tyd afsonder om in stilte te sit. Want slegs as jy tyd vir stilte maak, kan die geleentheid kom om dieper te gaan. Dit is wanneer jy gestroop kan word van aktiwiteite en dinge wat jou denke so oorstimuleer. In hierdie proses van stilword is dit natuurlik nodig om te besef dat daar ‘n kernverskil is tussen denke en aandag.
‘n Mens kan dit só verduidelik: aandag is om bewus te word dat die een wat dink, die denker, jý is. En jy, die denker, is méér as jou denke, idees, begeertes en prestasies. Dit laat jou hopelik besef dat jy nie ‘n willose slagoffer van jou gedagtes is nie. Jy is nie ‘n magtelose slaaf wat op elke gedagte en stem wat vir jou aandag roep, hoef te reageer nie. So, indien ons meer is as ons gedagtes en ons emosies, is dit tog vanselfsprekend dat ons vry is om self te kan besluit waaroor, wanneer en waaraan ons wil dink. En dalk meer nog: ons kan ons gedagtes enige tyd stop! “The wise man thinks about his troubles only when there is some purpose in doing so; at other times he thinks about other things,” stel Bertrand Russell dit op sy unieke manier. Hierdie wete dat jy méér is as jou huidige angstigheid, vrese, woede, skuldgevoelens en minderwaardigheid, kan jou die vermoë gee om daarbo uit te styg. Want as die een wat waarneem, kry jy nou afstand van die stroom gedagtes in jou kop. En die skuif van deelnemer na waarnemer kan innerlike vrede bring.
Dit is ‘n vrede wat ‘n lig vir jou binnewêreld word en sodoende ook ‘n baken vir jou buitewêreld. Want sodra jy vanuit ‘n innerlike vrede die deurmekaar, gejaagde en veeleisende uiterlike lewe betree, bepaal jy die tempo daarvan, nie andersom nie. Jy leef dus as iemand wat wakker is; bewustelik. En ‘n bewustelike lewe is in wese om te leef sonder om elke keer in te koop op die ewigdurende vloei van jou emosionele programmerings, gedagtes en innerlike kommentaar. Een-tree-lewe: ‘n Bewustelike lewe is om te konsentreer op die een tree wat jy nou moet gee.
Niks meer nie; ongeag of hierdie tree goed of sleg, bly of hartseer, hoogtepunt of laagtepunt is. Sonder hierdie bewustelike toestand, kan niemand van ons regtig teenwoordig wees in ons eie lewe nie. Dit is wat spiritualiteit werklik vir my beteken: om sinvol in die hier en nou teenwoordig te leef. Want slegs in die teenwoordigheid van jou eie lewe – met die klein en groot, nuut en oud, vinnige en stadige pas – vind jy dat alles heilige grond is. Wat is nie reeds heilig nie? Wie is nie reeds heilig nie? Wat is nie reeds gevul met die goddelike nie?
Dit laat my onwillekeurig dink aan ‘n ou Zen-meester wat gesê het: “You hear the birds? You see the sun? Who is not enlightened?” Diegene wat wakker en bewustelik leef, is die enigstes wat werklik die stres, vrese en uitdagings van elke dag kan bemeester.
Dit stel Evelyn Underhill so raak: “After all it is those who have a deep and real inner life who are best able to deal with the irritating details of outer life.” Hier is ook ‘n aanmoediging vir elkeen wat hier lees: Doen daagliks moeite met jou innerlike wêreld, want slegs dan sal jou uiterlike wêreld getransformeer kan word.
Soek gereeld stilte op.
Sit gereeld.
Recent Comments