Weens die snelle pas waarteen meeste van ons leef, het stres, spanning en angs diep in ons psige kom nes skrop. Kyk maar net om jou en jy sal sien hoe angstig, obsessief, moedeloos, ongesond, oorgestimuleer en uit voeling meeste mense daagliks leef.
Ons is ‘n samelewing uit voeling en uit balans. En die gevolg hiervan is die mens se grype na krukke, in watter vorm ook al. Enigiets om die balans te probeer herstel.
Van selfmedikasie deur drank, kos, dwelms en ander moderne medisyne tot obsessiewe oefen en fokus op die liggaam, werk, seks en die najaag van tydelike bevrediging en erkenning. Alles in ‘n poging om nie so buite beheer te voel nie.
Maar in der waarheid bring enige van bogenoemde krukke slegs tydelike verligting. Dit veroorsaak uiteindelik meer wanbalans en so verval die gebruiker in ‘n spiraal van pyn, angs, spanning en afhanklikheid.
Dit is hier waar die Oosterse wysheid, veral met hulle begrip van harmonie, ons baie kan help. En anders as die Westerse dualisme waar daar gekies moet word tussen uiterstes, kom Oosterse wysheid en wys op integrering van uiterstes vir balans. Hierdie filosofie kom van Lao Tzu en word Taoïsme genoem.
Ons moet net weer leer om te luister na beide donker en lig in ons lewens. Beide se “wysheid” is noodsaaklik om vrede met jou omstandighede te maak en die ontvouing daarvan in hierdie oomblik.
Die filosofie van Taoïsme is dat selfs oënskynlike chaos ‘n delikate balans het. Dit word in die Tao Te Ching, vers 29, so mooi omskryf (my vertaling): “Die Ware Wyse sien dinge soos dit is, sonder enige begeerte om dit te probeer verander of teë te staan, sy laat dit eenvoudig wees wat dit is en in die middel van die sirkel rus sy.”
Hierin kom een van die belangrikste beginsels in Taoïsme na vore, naamlik ‘n lewe vanuit “die middel van die sirkel.” Die sirkel is die simbool van heelheid en die middel verwys na perfekte balans.
Kan jy jou indink hoeveel minder spanning jy binne jou kop en lyf sal omdra, as jy net kan ophou baklei teen teenoorgestelde uiterstes, of probeer om dinge heeltyd te manipuleer en te beheer?
Om jou rus in die middel van alles te vind. Beide yin en yang. Om nie te kies nie. Om op te hou forseer. Maar om eerder wakker te wees en te fokus op dit wat voor jou ontvou en nie teen die grein van die situasie in te gaan nie, maar eerder daarmee saam te vloei.
En hoe doen ‘n mens dit?
Wel, deur op te hou klassifiseer. Deur op te hou oordeel. Dit waarna Ram Dass verwys as: “Everything in your life is there as a vehicle for your transformation. Use it!”
Dit beteken dus om die gegewe werklikheid in die oë te kyk en daarmee saam te vloei. Om dinge wel te bedink maar ook te luister na wat die oomblik vir jou sê. Om dus in die “middel” van die nou jou tuiste te vind.
Die plek waar jy jou ewewig vind. En so word alles spiritueel. En so vind jy weer jou natuurlike toestand, en dit is balans. Dit waarna Tao Te Ching vers 12 verwys met:
Die wêreld word deur die Ware Wyse waargeneem,
maar hy vertrou net sy innerlike visie.
Hy laat dinge kom en gaan.
Sy hart is so wyd soos die hemele.
En hier kan jy nou ontspan, sag word, ontknoop en net vir ‘n oomblik by jouself stil word, jou kragbron. En jy sal besef, jy is die sirkel. Jy is yin/yang.
In Zen en Taoïsme word daar verwys na hierdie dans as: “Yin” (vroulik, sag) en “Yang” (manlik, hard). Yin/Yang word deur die sirkel, wat helfte swart met wit kol in, en ander helfte wit met swart kol, uitgebeeld. Hierdie beginsels gaan oor die aanvaarding van die werklikheid, naamlik dat alles in die lewe ‘n komplementerende teenoorgestelde het, byvoorbeeld soet en suur, manlik en vroulik, dag en nag.
Dit is nie negatief teenoor positief nie; nee, dit is meer soos twee kante van dieselfde muntstuk. Hierdie simbool herinner ons dat die lewe bestaan uit ‘n konstante siklus van geboorte en sterfte en dat die een voortvloei uit die ander.
Net soos wat die sonsopkoms gevolg word deur ‘n sonsondergang en seisoene mekaar die heeltyd afwissel. En omdat verandering ‘n konstante proses is, is dit baie dom om in te koop op iets as goed of sleg.
In die middel sien jy nou raak dat jy alles is. Jy is. En jy besef jy’t niks van buite jou nodig nie. Jy het reeds alles waarna jy so naarstiglik gesoek het. En dan in hierdie stilte van jou sirkel stop jy en jy glimlag. Dan verstaan jy ook die woorde van Bodhidharma: “Once you stop clinging and let things be, you’ll be free. You’ll transform everything. And you’ll be at peace wherever you are.”
Recent Comments