Wat ‘n interessante term; sekulêre spiritualiteit.
Dit is interessant, omdat sekulêre spiritualiteit verwys na ‘n poging van mense om met spirituele waardes te leef, maar sonder om enige gevestigde godsdiens te beoefen.
Natuurlik voel meeste godsdienste baie ongemaklik hieroor. Want hulle redeneer hoe kan enigiemand die twee uiteenlopende idees langs mekaar plaas. ‘n Mens is tog óf sekulêr óf spiritueel, nie albei nie, nie waar nie?
Ek meen verwys sekulêr nie dan juis na mense se wantroue in godsdienste en kerkisme (ons is die enigste “ware” kerk en geloofsoortuiging) nie? En hierteenoor, verwys spiritualiteit dan nie na iets wat net deur ‘n godsdienstige lewenswandel moontlik is nie? Dit klink dus soos twee terme wat mekaar weerspreek.
Maar is dit so? Is spiritualiteit net iets wat deur een of ander godsdiens gevind kan word. Kan mense wat buite die tradisionele godsdienstige tradisies staan nie ook spirituele lewens lei nie?
Smag alle mense, ongeag hulle geloof of ongeloof, nie maar na ‘n diep en sinvolle lewe nie? Lyk my tog dat ongeag geloofsoortuigings, kultuur of opvoeding, alle mense in essensie streef na lewens wat saak maak, wat ‘n verskil kan maak en wat dinge uiteindelik beter kan maak.
As ek dus oor spiritualiteit praat, gaan dit oor die waardes waarvolgens ons leef en sin gee aan ons bestaan in die hier en nou. ‘n Sinvolle lewe in die hier en nou, ongeag watter godsdienstige groep jy aanhang of nie.
Daarom dat daar ook gepraat kan word van ‘n ateïstiese spiritualiteit, agnostiese spiritualiteit of post-godsdienstige spiritualiteit. Spiritualiteit het verseker nie net te maak met ‘n spesifieke geloof se interpretasie en aanbidding van ‘n God nie.
Op ‘n manier sluit die teoloog Paul Tillich se verstaan van God as “the ground of all being”, ‘n immanente, naby, met-ons godheid, mooi hierby aan. Want as God deel is van alles en alles is deel van God, dan word sekulêre, elkedag dinge, tog meer heilig – nie minder heilig nie.
En so word die manier wat ons teenoor ander optree, wat ons ervaar as ons liefde ontvang of gee en sommer net dit waaroor ons nadink en praat, alles spiritueel en diep.
So kan gebed nuut verstaan word; nie meer net ‘n vraelysie gerig tot ‘n teïstiese God daarbo iewers nie, nee, dit word nou ‘n uitdrukking van iemand se nood, ‘n liefdesverklaring, ‘n gebaar van dankbaarheid, ‘n manier van lewe. Sekulêre spiritualiteit bring so die goddelike in die gewone in.
‘n Verankering van ons lewens in die hier en die nou; en dit maak in ons ‘n heilige respek vir elke oomblik wakker; ‘n verwondering oor die misterie van die lewe, en ja ook die dood.
Dis hoe dit lyk wanneer die sekulêre en die spirituele langs mekaar kom staan. Toegegee, omdat meeste mense wat sekulêre spiritualiteit beoefen dit vanuit ‘n meer individuele hoek aanpak, gebeur dit baie keer dat hulle wegbeweeg van georganiseerde godsdienste.
En so kan dit gebeur dat die individu, byvoorbeeld ‘n Christen, die kerk sal verlaat om in privaatheid dalk ‘n Boeddhis te word, dalk ‘n vegetariese lewenstyl te begin volg of sy/haar geestelikheid in die natuur met meditasie beoefen of na joga klasse begin gaan. Dis iets persoonliks en privaat.
Natuurlik is die beweging na binne altyd nodig voordat daar weer na buite beweeg kan word. Maar enige spiritualiteit vra na ‘n sigbaar word in dade van deernis en begrip.
In Afrika word sekulêre spiritualiteit juis sigbaar deur wat die vredes-aktivis Leymah Gbowee omskrywe het as Ubuntu – “Ek is wat ek is omdat ons almal is.”
En emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu het Ubuntu verduidelik as: “Ubuntu speaks particularly about the fact that you can’t exist as a human being in isolation. It speaks about our interconnectedness. We think of ourselves far too frequently as just individuals, separated from one another, whereas you are connected and what you do affects the whole world. When you do well, it spreads out; it is for the whole of humanity.” In essensie beteken dit dus: ek is omdat jy is.
In Suid-Afrika kom die sekulêre en die spirituele bymekaar soos seker nêrens anders op aarde nie. Selfs ons grondwet, tussen hakies, is ‘n suiwer stuk sekulêre spiritualiteit. Die Grondwet verklaar geen spesifieke verstaan van God as die enigste nie, dit verkondig wel ‘n evangelie van gelykheid en wedersydse respek.
Want dit is wat sekulêre spiritualiteit is; mense kan nou self nuwe betekenis aan hulle lewens gee. Selfs tradisionele Christene, Moslems en Hindoes kan nou begin om op opwindende wyses hulle geloof te herinterpreteer. Sonder om beskou te word as ketters.
En wat voorheen miskien skokkend en ondenkbaar, onsêbaar was, kan nou vanuit ‘n wonderlike nuwe rigting hoop en vrede vir baie mense bring.
Verskillende gelowe sowel as die sogenaamde ongelowiges kan met mekaar saamwerk, saam beplan, bedink en doen, en sodoende die wêreld ‘n beter plek maak. Op ‘n manier vanuit die ruïnes van ‘n uitgediende tradisie, kan daar nuwe lewe kom.
Ek wil afsluit met die wonderlike voorbeeld van hoe nuwe lewe kan spruit uit ou dogmas en dooie wette. In 1996 te midde van Jode en Palestyne wat albei propageer dat hulle “reg” is en mekaar haat en doodmaak daaroor, het Yehuda Amichai die volgende gedig geskryf:
From the Place Where We Are Right
From the place where we are right
flowers will never grow
in the Spring
The place where we are right
is hard and trampled
like a yard.
But doubts and loves
dig up the world
like a mole, a plough.
And a whisper will be heard in the place
where the ruined house
once stood.
En dit is wat sekulêre spiritualiteit doen. Dit bring weer vernuwing, lewe en harmonie waar daar voorheen net agteruitgang, dood en haat was.
Miskien is die Dalai Lama se siening hieroor, ook my verstaan, die beste omskrywing van wat sekulêre spiritualiteit beteken: “All the world’s major religions, with their emphasis on love, compassion, patience, tolerance, and forgiveness can and do promote inner values. But the reality of the world today is that grounding ethics in religion is no longer adequate. This is why I am increasingly convinced that the time has come to find a way of thinking about spirituality and ethics beyond religion altogether.”
Dis tyd, is dit nie?
Recent Comments