Sedert die vroegste tye het die mens simboliese handeling of rituele gebruik om insig, her-oriëntering en balans te vind. Veral in tye wanneer hulle onseker, bang en hartseer voel.

Dink maar aan wat gebeur wanneer iemand naby jou sterf. Is daar nie onmiddelik ‘n diep behoefte om sin te probeer maak uit die tragedie nie? Is daar nie ‘n intense smagting om op ‘n sinvolle en respekvolle wyse te kan afskeid neem nie?

Kyk maar net hoe sielkundiges mense aanmoedig om in sulke omstandighede, genoeg tyd te gee vir die rou en afskeid proses. Want hulle weet, slegs daardeur kom daar aanvaarding en uiteindelik genesing.

Een so ‘n sielkundige is Elisabeth Kübler-Ross. Sy het gespesialiseer in doodsbegeleiding en het baie navorsing gedoen oor die stadiums van rou by die afsterwe en dood van geliefdes. Sy’t verwys daarna as: “The five stages – denial, anger, bargaining, depression, and acceptance – are a part of the framework that makes up our learning to live with the one we lost. They are tools to help us frame and identify what we may be feeling. But they are not stops on some linear timeline in grief.”

Sy het ook gewys op die belangrikheid daarvan om van rituele gebruik te maak om vrede en betekenis te vind binne hierdie tye van hartseer en emosionele pyn.

Simbole en rituele wat jou kan help om uit al die deurmekaar emosies binne jou, ‘n mate van orde te vind. Seker daarom dat meeste kulture, sedert die vroegste tye al, een of ander doodsbegeleiding, routydperk en begrafnis rituele gehad het.

Dink maar net aan hoe daar in meer antieke tye omgegaan is met die trauma van iemand se afsterwe. In byvoorbeeld, Oud-Egipte was daar tot ‘n tydperk van ongeveer 70 dae gerou. En voordat die persoon in ‘n eenvoudige houtkis, of toegedraai in doeke, velle of matte begrawe is, was daar eers vele rituele seremonies om na te kom.

Manlike en vroulike roubeklaers het in die gemeenskap rondbeweeg met grond op hul koppe, en klere opgetrek om die middellyf (vroue se borste ontbloot) terwyl hulle hulself geslaan het. Natuurlik hoe belangriker die persoon was, hoe meer mense is by die rituele betrek.

Met die dood van byvoorbeeld ‘n koning, het gemeenskapsaktiwiteite grotendeels tot stilstand gekom, niemand mag gebad het nie ens. Ook vandag wanneer ‘n belangrike staatsman/vrou sterf raak dit die hele gemeenskap. Die landsvlag word halfmas gehang en ‘n vakansiedag word aangekondig. Dink maar aan die begrafnis van ons eie Nelson Mandela.

In sulke tye is rituele baie belangrik vir mense.

Maar dit is ook in tye van groot vreugde wat rituele belangrik is. Dit gee ‘n raamwerk vir die gebeure. So of dit prysuitdelings, gala aande, medalje oorhandigings of verjaarsdag viering is, dit is belangrike merkers binne die menslike psige.

Ja, dit is natuurlik hartseer dat godsdienste deur die jare meeste menslike rituele gekaap het vir hulle eie agendas. En daardeur die funksie en belangrikheid van simboliese handelinge, verskraal het tot ‘n meganiese handeling wat een of ander geloofsoortuiging se dogmas herbevestig, eerder as om mense te help om sin te vind.

Presies waarna Neil Gaiman in sy boek, Stardust verwys met: “Don’t confuse the teacher with the lesson, the ritual with the ecstasy, the transmitter of the symbol with the symbol itself.”

Dit is ongelukkig wat gebeur het met meeste rituele. Dit is gevange geneem deur godsdienste. En sodoende het dit hulle betekenis verloor. In plaas daarvan dat dit ‘n rigtingwyser is na sin en heelheid, het dit ‘n dooie en meganiese iets geword.

Gelukkig is rituele lewende handelinge, en transformeer dit vinnig in iets anders wanneer dit vasgegiet word binne ‘n spesifieke verstaan of interpretasie. Dit is asof mense hulle self nie kan help om heeltyd nuwe en eietydse rituele te herskep nie.

Rituele wat uniek is en spreek tot jou eie verstaan en belewenisse. Of dit nou ‘n jaarlikse kers aansteek ritueel is as ‘n huweliksherdenking of ‘n tattoo wat twee mense se liefde vir mekaar verklaar of ‘n weeklikse kaal swem in die see om die lewe te vier, of ‘n Alkoholiste Anoniem medalje wat ‘n jaar se soberheid herdenk. Rituele is deel van ‘n mens.

Elizabeth Gilbert, het in haar bekende boek, Eat, Pray, Love so daaroor geskryf: “This is what rituals are for. We do spiritual ceremonies as human beings in order to create a safe resting place for our most complicated feelings of joy or trauma, so that we don’t have to haul those feelings around with us forever, weighing us down. We all need such places of ritual safekeeping. And I do believe that if your culture or tradition doesn’t have the specific ritual you are craving, then you are absolutely permitted to make up a ceremony of your own devising, fixing your own broken-down emotional systems with all the do-it-yourself resourcefulness of a generous plumber or poet.”

Op jou en my lewensreis het ons nodig om gereeld te stop, opname te neem van dit wat was en dit wat is, en moeite te doen om onsself te heroriënteer. Want die lewe spoed voort teen ‘n tempo wat meeste van ons van balans af gooi. En dit kan ons verlore laat voel.

En in sulke tye kan ‘n ritueel ons anker en help om weer te fokus.

Wanneer ek na rituele verwys, praat ek natuurlik van enige iets wat jy kan doen wat jou kan help om jouself weer en weer te vind, om jou waardes waarvolgens jy wil leef te herbevestig en om alles wat gebeur sinvol te prosesseer.

So ‘n ritueel kan enige iets wees van meditasie, gebed, Tai Chi en yoga tot koffie drink, tee seremonie of ‘n middag stappie. Daar is geen beperking op wat dit kan wees nie. Enige iets wat jou kan help om tot verhaal te kom en om wakker te word, is goed.

En daar waar jy wakker is en waar jy bewus is, is dit heilig. En enige iets wat jou kan help om wakker te word en natuurlik wakker te bly, is ‘n spirituele ritueel.

Een van my vele spirituele rituele is sigaar rook. ‘n Baie heilige ritueel vir my.

Ek sit veertig minute opsy, dit is ongeveer hoe lank dit my gewoonlik neem om een middelslag Kubaanse sigaar te rook. Geen boeke, geen afleidings, net ek en my gedagtes en natuurlik my sigaar.

Hierdie ritueel van my is meer as net sit. Elke handeling het vir my betekenis, help my om dieper te gaan. Dit is tydens hierdie sessies dat ek my binne-wêreld besoek en as die waarnemer myself dophou.

Dit begin gewoonlik met ‘n kop wat baie besig is. Die Boeddhiste verwys hierna as ‘n “tree full of monkeys.” Want sodra ek stil word begin my apies van tak tot tak spring, skreeu, baklei en terg. Nooit sit hulle stil nie. Nooit is hulle rustig nie. Net so is my binne-wêreld ‘n ewigdurende vloei van emosies, gedagtes en innerlike kommentaar.

Maar wanneer ek op my stoep gaan sit en my sigaar ritueel begin, begin ook my kop verstil. Na elke uitblaas hang die rook vir ‘n rukkie om my en saam met my gedagte dryf dit dan weg op die wind.

Ek het geleer dat in hierdie stilsit oomblikke vind ek baie keer insig. Dit werk soos ‘n modderpoel. As jy ophou roer gaan lê die modder onder op die bodem en die water word vanself helder. En wanneer ek so sit en sigaar rook en net sit, sonder om iets op te probeer bereik, verander, beoordeel, veroordeel of te analiseer, vind ek helderheid.

Dit is ook asof ek die brandpunt van die ewigheid word. Een met alles, alles een met my. En soos ek die rook uitblaas voel ek hoe die spanning uit my lyf vloei.

Instinktief weet ek dat ek elke keer dan heilige grond betree. Dit wat Joseph Campbell so mooi omskryf as: “Your sacred space is where you can find yourself again and again.”

Ek voel-voel die sigaar elke keer wanneer ek dit stadig tussen my vingers rol, ek sien die kleurskakerings van die blaar wat wissel van lig tot donkerder bruin.

Ek ruik aan dit en geniet die tekstuur van die egte Kubaanse sigaar. My gunsteling sigaar is tans ‘Hoyo De Monterrey’ (Cuba, Habana).

Nou, sigaar rook is anders as sigaret of pyp rook. Jy asem nie in nie. Jy rol die rook binne jou mond rond en blaas dit dan stadig uit. ‘n Sigaar is basies ‘n tabakblaar gedroog en styf opgerol. Meestal afkomstig uit lande soos Kuba, Brasilië, Honduras, Indonesië en die Dominikaanse Republiek.

So sit ek dan en mediteer. My ritueel. Nie bedoel vir enige iemand anders om my dit na te doen nie. Dit is my ritueel wat my help om verby die kunsmatigheid, gejaagdheid en oppervlakkigheid van my eie lewe te beweeg.

Dit wat Mahatma Gandhi bedoel met: “Whatever you do may seem insignificant to you, but it is most important that you do it.”

Want as ek dit nie doen nie, sluk my eie ego-gedrewendheid, versugting na erkenning en aanvaarding my vinnig in. En dan verloor ek myself binne my eie vrese en minderwaardigheid gevoelens.

Hierdie ritueel van my, help my om te onthou wie ek is. Help my onthou waar ek is en wat werklik belangrik is vir my. Dit is nie noodwendig vir enige iemand anders van waarde nie. Maar dit is baie waardevol vir my. Ek het dit nodig om te onthou, te onthou dat ek nie my storie is nie.

Rituele is dus ‘n vingerwysing. ‘n Padteken op jou lewensreis. En waarna wys dit?

Dit wys na die Self, die self anderkant die ego-storie.